Die rolprent, waarin Simoné Nortmann en Francois Jacobs die hoofrolle vertolk, was so gewild onder kykers dat dit vandag tel onder die vyf grootste Afrikaanse lokettreffers van alle tye.

Dit het selfs internasionale gehore gaande gehad toe dit op vyf Amerikaanse feeste vertoon is.

Dink jy jou eie liefdesverhaal sal die volk net so aangryp soos Irma en Sampie s'n?

Dan is dit tyd dat jy opskud, want die sluitingsdatum om jou storie vir Huisgenoot en kykNET se tweede fliek op die silwerdoek te kry, is om die draai (sien die kassie onder). 

Die vurige, vrolike Irma moedig lesers aan om hul liefdesverhale in te skryf.  

“Dis ’n ervaring van ’n leeftyd en ’n onverwagte lekkerte. Die publiek se ondersteuning is absoluut oorweldigend en ons kry net goeie terugvoer van almal,” vertel sy.

“Die Huisgenoot-span, filmmaatskappy, akteurs en publisiteitspan het ons uit die staanspoor op die hande gedra. Dit dra daartoe by dat ons nie een negatiewe ding kan sê nie. 

“Dit is ongelooflik om in 'n teater te sit en jou eie storie op die silwerdoek te kyk. Dit is ook baie spesiaal, want dis vir ewig en altyd vasgevang. Jou storie word deel van die geskiedenis en dit is wat dit so besonders maak bo enigiets anders.”

Tina Kruger, mededraaiboekskrywer van Vir die Voëls en toesighoudende vervaardiger by kykNET, vertel watter element fliekgangers na die bioskoop sal laat stroom.

“Begin by die begin en werk dan met ’n middel en einde. Ons ontmoet twee karakters, hul paaie kruis en hul raak verlief, al mag hulle om verskeie redes nie. Maar die liefde is sterker en hul verhouding ontwikkel. Dan gebeur iets groots en moet hulle kies: vir mekaar of teen ’n verhouding. Die kykers soek natuurlik ’n gelukkige einde van die een of ander aard.”

Tina verduidelik kykers hou van onvermydelike drama en liefde wat op die ou end alle struikelblokke oorkom. 

Skryf so in vir ons tweede fliek.