Jannick Nieuwoudt (22) en sy gesin van Clanwilliam in die Wes-Kaap, het Donderdagaand by die Aan die Oewer-vakansieoord in Orania kom oornag toe die 19-jarige student en inwoner Klarissa Joubert eensklaps weggeraak het.

’n Moeë Joost Strydom, die uitvoerende hoof van die Orania-beweging, het Vrydagmiddag laat aan Huisgenoot bevestig die soektog na Klarissa duur steeds voort.

Huisgenoot het vroeër berig Klarissa het Donderdagaand saam met vriende ’n pretrivierrit op binnebande geneem toe sy vermis raak. 

Die student, wat saam met haar ouers op Orania woon en sielkunde aan die Noordwes-Universiteit studeer, het in die fratsongeluk van haar binneband afgeval en is tragies deur die sterk stroom meegesleur.

Klarissa Joubert het Donderdag 21 Januarie in die
Klarissa Joubert het Donderdag 21 Januarie in die Oranjerivier vermis geraak. Foto: Verskaf

Jannick, ’n student in sy finale jaar in hortologie en grondkunde aan die Universiteit Stellenbosch, wat self net ure tevore in die Oranjerivier geswem het, het dadelik self met sy hommeltuig begin help soek. Hy het die videomateriaal van sy soektog, wat die vol en magtige rivier wys, aan Huisgenoot verskaf.

Joost vertel die rivier vloei tans baie sterk weens die onlangse hoë reënval.

“Al ons opvangsdamme is vol en ons verwag nóg reen met die tropiese sikloon Eloise. Die Suid-Afrikaanse weerkantoor het reeds gewaarsku die sikloon kan die risiko van vloede hier kan vergroot met die sikloon wat tans van Madagskar na Mosambiek beweeg. 

Joost was merkbaar hartseer dat hulle teen Vrydagmiddag nog nie ’n deurbraak kon maak nie.

“Daar heers maar ’n gedempte atmosfeer hier, maar ons gaan nie moed opgee nie,” het Joost gesê.

“Die polisie se reddingspanne is nog hier. Hulle het van vanoggend ononderbroke gewerk en vat maar beurte om ruskanse te vat. Ons gaan 16:00 weer bymekaar kom om vanaand se soekverrigtinge te koördineer.”

Getuie van 'n treurspel 

Jannick, wat intussen saam met sy gesin terug na Clanwilliam moes vertrek, vertel hy en sy ouers, Jannie (62) en Katrin (57), en twee broers, Manfred (25) en Max (18), het op Orania kom uitspan nadat hulle die week op reis deur die Noord-Kaap was.

“Ons het Maandag vertrek en by 'n paar plekke soos Port Nolloth, Augrabies en Kathu gestop en toe gisteraand by Orania oornag,” vertel hy per WhatsApp aan Huisgenoot

“My ouers was al ’n paar keer in Orania, maar dit was my eerste keer. Ons het by Aan Die Oewer oornag en in een van die self-catering gastehuisies gebly. Dis werklik 'n asemrowende plek met die vriendelikste mense,” vertel Jannick.

Jannick Nieuwoudt saam met sy broers, Manfred (lin
Jannick Nieuwoudt saam met sy broers, Manfred (links) en Max, Woensdag by die Augrabiesvalle. Foto: Verskaf

Hy vertel nadat hy en sy broers self in die sterk stroomwaters van die Oranjeriver geswem het, het hulle op die lowergroen grasperk op die oewer gaan ontspan.

“Dit was ongeveer 18:45. Die volgende oomblik toe kom twee jong mans op 'n trekker-tube by die jetty aan en hardloop verby ons.

“Die een het in die verbyhardloop geskree dat ons ons oë moet oophou vir mense wat verby swem, en hulle dadelik moet laat weet as ons iemand sien,” vertel hy oor hoe hulle agtergekom het daar is fout. 

“Ons besef toe dat daar dalk iemand vermis is. Ek gaan haal toe my drone om die rivier te patrolleer. Ongelukkig kon nie ek of die mikroligte vliegtuig die vermiste persoon vind nie.” 

Jannick vertel hul pa Jannie is die eienaar van Jamaka Organic Farm & Resort in die Cederberge, waar hulle met organiese sitrusvrugte en mango’s boer en self ’n oord met kampplekke en  selfsorgeenhede bedryf.

'n Boer help op die Oranjerivier na die vermiste K
'n Boer help op die Oranjerivier na die vermiste Klarissa Joubert soek. Foto: Verskaf

“Ons was van begin Desember tot nou besig. Ons het toe laas naweek besluit dat ons ook 'n vakansie verdien en dié week 'n bietjie gaan afvat om saam met ons gesin tyd deur te bring.

“Ek vlieg al vir meer as vier jaar met my drone op ons plaas en vir my hortologie- en grondkunde-projekte in Stellenbosch, dus het ek die drone saamgebring om sommer ons avonture af te neem. Ek het glad nie gedink ek sal soek-en-reddingswerk daarmee moet doen nie!” 

Die soektog

Jannick vertel vandat Klarissa se vriende alarm gemaak het, het dinge baie vinnig gebeur. Kort voor lank was dit ’n grootskaalse soektog. 

“My broers het op die jetty gaan staan en kyk of hulle iemand kan sien. Ek het op die gras teen die oewer gewag om meer te hoor van wat aangaan. Omtrent so vyf minute later kom daar 'n man met 'n kanoe en radio aan, gevolg deur nog ’n paar mense in ’n bakkie.

“Ons hoor toe by hulle dat ’n jong vrou vermis word. Ek stel toe voor dat ek my drone gaan haal en help soek, hoewel hommeltuie verbode is in die gebied. Hulle stem toe in en begin die jetski's losmaak en kano’s in die water sit terwyl ek draf om die drone te gaan haal.”

Jannick Nieuwoudt, 'n student aan Stellenbosch, he
Jannick Nieuwoudt, 'n student aan Stellenbosch, het met sy hommeltuig na die vermiste Klarissa Joubert help soek. Foto: Verskaf

Hy vertel binne 15 minute ná dit bekend was “ ’n meisie met ligte bruin hare is vermis” het sowat tien mense rondom die jetty byeengekom om op radio's en selfone die soektog te koördineer.

Jannick het met sy hommeltuig stroomop gevlieg en na ’n eilandgedeelte gaan kyk, waar 'n binneband moontlik opgemerk is. Hy kon egter niks kry nie. Mense op kano’s en bote het verder gesoek.

Die polisie van Hopetown en Kimberley ondersteun d
Die polisie van Hopetown en Kimberley ondersteun die mense van Orania in hul soektog na Klarissa Joubert. Foto: Verskaf

Joost het vroeër aan Huisgenoot vertel “honderde mense” het eindelik by die soektog aangesluit. Dit sluit in van boere langs die Oranjerivier tot die polisie se soek-en-reddingseenheid in Kimberley. Hulle moes die soektog Donderdagaand staak toe dit te gevaarlik raak en het dit Vrydagoggend weer hervat.

’n Geskokte Atmosfeer 

“Almal was in skok en in emergency mode, as mens dit so kan noem,” vertel Jannick. “Baie mense het rondgehardloop en geskarrel om te help soek. Van die gaste het ook vergader daar op die grasperk om meer uit te vind oor wat aangaan.”

Jannick vertel hy en sy gesin kon nie verder veel meer doen nie, maar hulle was tot ná middernag wakker soos hulle met ’n jaglig drywende items in die stroom probeer identifiseer het. Hy vertel daar was tot kort voor 01:00 Vrydagoggend nog ligte op die rivier soos die gemeenskap en die polisie aanhou soek het.

Die soektog na Klarissa Joubert het soos 'n veldbr
Die soektog na Klarissa Joubert het soos 'n veldbrand in sosiale media versprei. Foto: Facebook

“Ons moed het baie gesak toe ons die oggend hoor sy is steeds vermis,” vertel Jannick.

Hy het weer vergeefs met sy hommeltuig help soek voordat hulle die tog terug Clanwilliam toe moes aanpak.

“Ons het die oord verlaat met ’n pyn in ons hart vir die familie en vriende van die jong dame. Ons bid dat die familie vrede sal vind met wat ook al die uitkoms gaan wees, maar ons bly hoop en bid dat sy gesond en lewend êrens gekry sal word.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe