Dit sal mos vet pret wees om so op dié snikhete Noord-Kaapse dag af te koel, en die groepie van sewe gesels vrolik. Voor hulle stu die magtige Oranje teen sy walle.

Die rivier is vol ná die onlangse reën, en die inwoners van die dorpie Orania, wat sy naam van dié waters kry, ken die kronkels van die malende stroom waar hulle gereeld kom uitspan.

In die groepie is die 19-jarige Klarissa Joubert, ’n mooi blondine van vele talente. Die slimkop is ’n tweedejaarstudent in sielkunde aan die Universiteit van Noordwes, maar dit is nog universiteitsvakansie en sy span steeds op die dorp uit, waar haar ouers woon.

Die vermiste student, Klarissa Joubert, se lyk is
Die vermiste student, Klarissa Joubert, se lyk is vyf dae later opgespoor. Foto: Instagram/Klarissa Joubert

Pa Johan (54), ’n voormalige beesboer van Ermelo, en ma Leoni (52), voormalige speurtakbevelvoerder van die dorp, het hulle net sewe maande tevore op dié omstrede dorp met sy sowat 1700 slegs wit inwoners kom vestig. Leoni het ’n bakkery begin, Johan hou skape aan.

Klarissa saam met haar ouers, Leoni en Johan. Die
Klarissa saam met haar ouers, Leoni en Johan. Die verslae ouerpaar was pal op die toneel om die rivier te fynkam vir hul vermiste dogter. Foto: Facebook

Klarissa is topfiks en sou sommer twee keer per dag gaan draf of gim. Sy het vroeër oudergewoonte eers gaan oefen voor sy saam met ’n studentevriend, die 21-jarige Cobus Kirsten, en haar vriende rivier toe is.

Omstreeks sesuur, met skemer wat aanstaltes wil maak, bereik die groepie ’n keerwal in die rivier. Dit is so 3 km vanaf Orania, en die keerwal maak ’n soort waterval. Die stroomversnellings “sorg gewoonlik vir groot pret,” verduidelik Cobus later.

Die polisie se soek-en reddingspanne sowel as die
Die polisie se soek-en reddingspanne sowel as die Orania Veiligheidsdientse het vyf uitmergelende dae lank langs die Oranjerivier se oewer na die vermiste student, Klarissa Joubert, gesoek. Foto: Verskaf/Orania Beweging

Die rivier loop sterk, maar niemand is bekommerd nie – ook nie Klarissa nie. Sy is ’n goeie swemmer en het al ’n paar keer hier binnebandvaarte gedoen. Die groepie bind vyf bande aan mekaar vas om ’n vlot te maak, en dan klim al sewe bo-op en gaan oor die keerwal...

Die water maal, en vir ’n paar oomblikke verdwyn koppe onder die water. En toe gebeur dit. Die kolkende water ruk Klarissa en nog drie van die groepie van die binnebande af. Die ander swem oewer toe, maar Klarissa en ’n vriendin verdwyn stroomaf. 

Cobus kyk verward rond en hy hoor hoe Klarissa skreeu: “Help, help!”

“Jy kon in haar stem die angs en vrees hoor,” onthou hy later.

Hy en ’n vriend duik terug in die water en swem agterna. “Maar ons kan haar nie inhaal nie, en die heeltyd hoor ons net haar vreesaanjaende gille...”

Toe sleur die rivier haar verby ’n eilandjie vol riete, en skielik sien hy haar nie meer nie. En toe is dit stil.

“Maar ons kan haar nie inhaal nie, en die heeltyd hoor ons net haar vreesaanjaende gille...”

“Ek het so 500 m geswem, maar te moeg geraak, en besef ek moet oewer toe om hulp te kry.”

Leoni se “sonskynkind van Jesus,” soos sy Klarissa noem, was net weg. 

Dag 1: Die soektog

By die nabygeleë Sandbaai, ’n gewilde ontspanningsplek, hoor ’n groepie vleisbraaiers hoe Cobus om hulp roep terwyl hy uit die rivier strompel. Hulle hardloop nader, en van hulle duik in die water om na Klarissa te soek.

Waar is sy? Sy moet tog hier iewers wees…?

Vrywilligers het in hul honderde opgedaag om na di
Vrywilligers het in hul honderde opgedaag om na die student te soek. Plaaslike boere het hul bote en helikopters beskikbaar gestel en mense het kos en koeldrank vir die soekspanne aangedra. Foto: Verskaf/Orania Beweging

’n Entjie verder met die river af, by die Aan die oewer-oord, sien Jannick Nieuwoudt (22) hoe iemand met ’n binneband aangehardloop kom en skreeu ’n meisie word vermis in die rivier.

Dis een van Cobus en Klarissa se ander vriende.

Jannick het ’n hommeltuig met ’n videokamera, en hy lanseer dit dadelik en laat dit oor die rivier vlieg. Die water strek byna eindeloos uit – dis net water en water waar jy kyk. Maar daar’s geen teken van ’n blondekop nie, en die skermpie verklap niks.

Terselfdertyd bel nog ’n omstander die Orania Veiligheidsdienste (OVD). 

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, spring vinnig in en mobiliseer dadelik soekspanne bestaande uit sekureitsbeamptes en dorpenaars. Almal soek vir Klarissa, al kom die nag al nader.

Teen 19:00, sowat ’n uur nadat die groep oor die keerwal is, fynkam hulle die oewer. Klarissa se mense is al rasend van bekommernis, maar bly glo sy moet tog iewers opduik.

Dis al na donker, omstreeks 21:00, toe die polisie se soek-en-reddingspanne uit Kimberley opgedaag. Hul duikers soek in die donker rivier en rubberbote met soekligte gly oor die water. Die nag is onheilspellend stil, met net die geluide van die soekgeselskap wat deur die donker ruk.

Die polisie se soek-en-reddingspanne op die toneel
Die polisie se soek-en-reddingspanne op die toneel. Foto: Verskaf

“Later is daar honderde mense wat soek,” vertel Joost. “Ons begin angstig raak, jy begin die ergste verwag... Maar dit is fantasties om te sien hoe mense saamstaan en mobiliseer.”

Dit word al later.

“Later is daar honderde mense wat soek,” vertel Joost. “Ons begin angstig raak, jy begin die ergste verwag..."

Vroue en plaaslike restauranteienaars begin kos en koeldranke vir die soekspanne aandra. Ander dorpenaars bring brandstof vir die bote en nog soekligte. Omstreeks tienuur gaan Cobus en Klarissa se vriende en ouers huis toe, fisiek en emosioneel uitgemergel. Maar die polisie en sowat honderd vrywilggers hou aan soek met ligvingers wat oor die donker rivier uitreik na Klarissa.

Tevergeefs. Die nag sleep verby, maar daar is geen antwoorde nie.

Dag 2: 'n Spanpoging

Dit is Vrydagoggend, omstreeks 09:00. Die soekspanne hergroepeer en stig ’n beheerpunt by Sandbaai, waar Cobus uit die rivier gestrompel het. Teen ’n kennisgewingbord is kaarte van die rivier geplak. Soekspanne verder stroomaf gee hul vordering oor tweerigtingradios deur, en dit word  noukeurig aangeteken.  

Die spanne het in skofte gewerk en ’n area van sow
Die spanne het in skofte gewerk en ’n area van sowat 17 km gedek. Foto: Verskaf/Orania Beweging

Die atmosfeer is somber, en dorpenaars praat gedemp. Natalie Saddler, ’n paramedikus van KarooMed op die toneel, verduidelik: “Hoe langer dit duur om haar te vind, hoe skraler raak die kans dat ons haar lewend gaan vind... Maar daar is altyd hoop.”

Cobus eggo haar vasbeslote: “Ons bly hoopvol.”

Hy hou self aan soek. “Ons soek in skofte na Klarissa. Sommiges al langs die oewer, ander staan op die brug en kyk of iets onder deur dryf.”

Klarissa se swaer, Awie Greyling, sê namens haar ouers aan Huisgenoot:  “Dit gaan bitter sleg met die familie, dis nie ’n lekker ding hierdie nie..."

“Ons soek in skofte na Klarissa. Sommiges al langs die oewer, ander staan op die brug en kyk of iets onder deur dryf.”

Die polisie, die OVD, KarooMed, plaaslike veiligheidstrukture asook vrywilligers en boere, soek onverpoosd. Orania se mense dra weer alles van pizza tot toebroodjies en Cokes aan. ’n Helikopter dreun aanhoudend oor die rivier. Maar nuwe water uit die oorvol Vanderkloofdam, sowat 45 km stroomop van Orania, bruis rivieraf en bemoelik sake langs die soekafstand van 17 km.

Die son sak weer sonder enige taal of tyding, maar in die nag hou tientallevrywilligers aan om hul ligte op die water te skyn. 

Ook Klarissa se halfsibbe kom om die soektog na hul “kleinsus” te ondersteun en te help soek: Liezl van der Watt (29), ’n onderwyseres op Orania, Nadine van Rooyen (27), rekenmeester van Centurion; Charlize Greyling (25) van Boksburg; en Muller Joubert (24), wat op Ermelo boer is almal daar.

Leoni is hier, maar sê net kortliks: “Johan is nog elke dag in die chopper en ek langs die rivier.”

Op ’n vraag hoe dit met haar man gaan sê sy: “Johan is baie sterk. Ek glo die beste spanne is besig om te probeer om my kind op te spoor.”

Weer maak die soekligte lank na donker ligvingers oor die water, maar raak nie aan Klarissa nie.Leoni en Johan is mal van kommer – Klarissa is hul enigste kind saam.

Dag 3: Die hoop beskaam nie

Vroeg Saterdagoggend, Dag Drie, en die soekspanne beur voort. Drie helikopters swiep soos kletterende naaldekokers bo die rivier. 

’n Helikopter fynkam ’n gedeelte van die rivier. F
’n Helikopter fynkam ’n gedeelte van die rivier. Foto: Verskaf

“Dit kos sowat R25 000 om die helikopters in die lug te hou,” sê Joost. ’n Fonds is gesitig vir om die soektog te finansier.

“Ons kry skenkings van regoor die land en elke bietjie help.” Ook snuffelhonde fynkam nou die oewer. Maar die son sak weer sonder dat die Oranjerivier sy donker geheim openbaar. 

Dag 4: Moeg en bekommerd

Sondagoggend breek aan, en Joost stel nuwe skoflyste saam vir die dorpsvrywilligers. 

“Die mense is moeg, maar niemand gooi tou op nie.” 

Almal se hoop is op die twee snuffelhonde, en die helikopters wat reeds in die lug is. Die ure gaan verby; kos word aangedra. Daar is geen teken van Klarissa nie, maar Joost hou vol: “Ons gaan nie moed op gee nie. Ons sal haar vind.” 

Soekspanne het tot in die vroeë oggendure gesoek v
Soekspanne het tot in die vroeë oggendure gesoek vir enige teken van Klarissa. Party was op die brug gestasioneer om te kyk of iets verbydryf. Foto: Verskaf/Orania Beweging

Die volgende skof vrywilligers kom aan die beurt, en dis asof niemand die eerste wil wees om te sê die Klarissa sal nie lewend uit die rivier se koue omhelsing kom nie. 

Dag 5: Stukkende ouerharte

Dis die klein ure van Maandagoggend. Cobus staan al van 04:00 op die brug en tuur na die water wat onder verby skuif.

Twee uur later vryf hy sy brandende oë en gee kopskuddend sy pos aan die volgende persoon oor. Dis nie iemand wat hy herken nie. Mense van talle omliggende dorpe in die Noord-Kaap, selfs van Douglas, het kom help soek.

Die snuffelhonde, duikers, die bootspanne – almal soek steeds na Klarissa. Maar die rivier is steeds baie hoog en vloei sterk weens die die water uit die Vanderkloof- en Gariepdam.

Selfs op Dag Vyf is Orania nie van plan om Klarissa in die greep van die rivier te versaak nie.

Dankie aan elke man, vrou, en kind. Wat help soek, help dophou, help kos aandra, ligte se batterye gaan laai, petrol...

Posted by Orania on Saturday, January 23, 2021

“Dis ’n werksdag, maar ons het selfs meer mense wat vanoggend kom help soek na Klarissa as die vorige,” sê Joost.

Ma Leoni is langs die rivier soos elke ander dag. “Ons harte is stukkend . . . Die trauma en hartseer is groot,” sê sy verslae.

Klarissa se pa, Johan, is weer soos met die vorige dae in die lug in een van die helikopters om die water van bo te bespied.

Dit dreun oor Leoni se kop terwyl sy met Huisgenoot praat. Tog klou haar moederhart vas aan die hoop op ’n wonderwerk – dat haar kind lewend gevind sal word.

“Die reaksie en hulp van die gemeenskap en Suid-Afrikaanse polisie is oorweldigend en ongelooflik. Almal soek dag en nag. Ek vertrou in God Almagtig vir 'n Lasarus-wonderwerk,” sê sy. 

"Ek vertrou in God Almagtig vir 'n Lasarus-wonderwerk,” sê sy.

Omstreeks 11:30 klim Leoni self in een van die helikopters. “Ons glo steeds in ’n Lasarus-wonderwerk,” sê sy weer voor dit opstyg. 

En toe, ná dae van soek, breek die einde skielik aan.

Om 13:00, na vyf lang en slapelose dae en nagte, word Klarissa oplaas gevind.

'n Tragiese slot

Maar haar ouers se gebede om ’n wonderwerk is hierdie keer nie gehoor nie, en die jong liggaam in die water is leweloos.

Hulle gewaar haar vanuit ’n motorboot op ’n plek naby aan die eiland bedek met riete waar Cobus haar vyf dae tevore die laaste keer gesien het voordat hy uit die rivier gestrompel het om hulp te soek. 

Die soekspanne is oor vyf dae menigmaal daar verby, en het veel verder stroomaf gesoek as wat die rivier haar gesleep het. 

“Ek kan bevestig ’n lid van Orania se Veiligheidsdienste op ’n motorboot het Klarissa se liggaam opgemerk, nie baie ver van waar sy verdwyn het nie,” is al wat Joost aan Huisgenoot sê voor hy verskoning maak dat sy selfoonbattery pap is.

MEDIAVERKLARING Klarissa Joubert se liggaam gevind Klarissa Joubert, die 19-jarige student wat sedert Donderdagaand in...

Posted by Orania on Monday, January 25, 2021

“My foon het nog nie ophou lui nie,” verduidelik hy.

Later vertel hy: “Ons kan nie sê hoe lank dit sou geneem het voordat die stroom Klarissa hierheen geneem het nie. Ons kan ook nie sê hoe lank dit geneem het vir haar om neutrale dryfvermoë te bereik nie.”

Neutrale dryfvermoë – die wetenskaplike beskrywing van ’n tragiese slotsom. Dit gebeur wanneer ’n drenkeling se liggaam na tussen die bodem en oppervlak beweeg.

Dit is nie ongewoon dat dit so gebeur nie, verduidelik ’n betroubare bron na aan die ondersoek. Dit kan soms dae neem vir ’n liggaam om na die oppervlak te kom waar soekspanne dit kan sien. Die gemeenskap is verslae, maar Joost reik ’n verklaring uit omdat hy die soekers wil bedank.

“Daar is na vyf uitmergelende dae uiteindelik afsluiting. Dit is baie tragies dat sy dood is, maar met afsluiting kom daar ook vertroosting.”

“Die omliggende boere en amptelike strukture se samewerking is ’n duidelike bewys van die vermoë wat ontsluit kan word as ’n gemeenskap saamwerk na ’n gemeenskaplike doel, selfs in ’n baie traumatiese tyd. Tydens die soektog is daar ‘n wye ondersteunersnetwerk gevorm, wat alles van kos en brandstof tot gebede en ondersteuning omvat het,” sê hy. 

“Dit was ’n dag en nag operasie en ons wil net vir elke rolspeler baie dankie sê vir hulle hulp. Van die gewone inwoner wat help soek het tot die polisie se soek-en-reddingspanne.”

Namens die gemeenskap en die familie voeg hy by: “Daar is na vyf uitmergelende dae uiteindelik afsluiting. Dit is baie tragies dat sy dood is, maar met afsluiting kom daar ook vertroosting.”

Maar dit is Leoni se woorde oor haar dogter wat in die lug bly hang – die woorde wat sy aan Huisgenoot gesê het kort voor Klarissa se liggaam gevind sou word.

“Sy was beeldskoon van binne en buite, maar haar hart was nog mooier. Sy het vaste beginsels en baie vriende gehad.”

Vriende wat vir vyf dae nooit opgehou het om na haar te soek nie – selfs nadat die magtige Oranjerivier oor haar drome gespoel en dit in ’n watergraf laat verdwyn het. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe