Hy word aangehou in die Atteridgeville-gevangenis in die weste van Pretoria. Hy het voor die begin van dié vonnis ook ’n jaar in die tronk deurgebring nadat hy eers skuldig bevind is aan strafbare manslag. Toe die klag na moord verander word, moes hy weer tronk toe gaan. Ons kyk terug na ’n Huisgenoot-artikel oor die omstandighede van die tronk waarin Oscar is.

Lees die artikel hier:

Oscar is glo baie beter daaraan toe in die kleiner tronk waar hy hom nou bevind en waar gevangenes meer vryheid geniet.

Die eerste ding wat jy sien, is die groenteboorde.

Welig lê hulle voor jou in groot groen blokke uitgestrek, met sproeiers wat plek-plek reënboë in die son maak. Aan die einde van ’n pad deur die boorde, so te sê aan die voet van ’n koppie, hurk ’n plat siersteengebou met ’n sinkdak.

Maar hierdie landelike toneel is misleidend.

Dit gaan goed met Oscar. Hy is nou op die beste plek waar hy nog was.

Die sinkdakgebou in die verte huisves die selle van die Atteridgeville- Korrektiewe Sentrum – Oscar Pistorius se nuwe tuiste. Dit is hier waar hy die res van sy vonnis van ses jaar vir die moord op die model Reeva Steenkamp sal uitdien.

“Dit gaan goed met Oscar. Hy is nou op die beste plek waar hy al was (vandat hy toegesluit is),” sê ’n bron na aan die Pistorius-familie aan Huisgenoot.

Waarom Oscar (30) versoek het om van die Kgosi Mampuru II- Korrektiewe Sentrum in die stad oorgeplaas te word na Atteridgeville buite die stad, wil niemand tans verklap nie.

Oscar se ou enkelsel in die Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum in Pretoria.
Voorheen is Oscar aangehou in die Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum in Pretoria.
Voorheen is Oscar aangehou in die Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum in Pretoria.

“Dit is tussen hom (Oscar) en die tronkowerheid,” is al wat Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, daaroor wou sê.

Dit is blykbaar ’n ‘lekkerder’ tronk en daar is nie gevangenes wat as gevaarlik beskou word nie.

Maar almal met wie Huisgenoot gepraat het, stem oor een ding saam: Oscar is nou op ’n “beter” plek. Een rede is dat Atteridgeville baie minder gevangenes huisves as Kgosi, waar Oscar die eerste jaar van sy oorspronklike vyfjaarvonnis geslyt het.

En ’n polisiebeampte wat die tronk al verskeie kere besoek het, vertel daar was “nog nooit probleme soos protes deur die gevangenes of ontsnappings nie. Dit is blykbaar ’n ‘lekkerder’ tronk en daar is nie gevangenes wat as gevaarlik beskou word nie,” sê hy.

“Dis soos ’n plaas,” beaam Tanja*, wat al tronkbediening daar gedoen het. As enige gevangene kon kies, sou hy daar wou gewees het.

Nadat Oscar se vonnis hersien en sy parool opgeskort is, was hy net ’n paar maande terug in Kgosi Mampuru II voor hy vroeg in November na Atteridgeville verskuif is.

Dié gevangenis word in die weste begrens deur die woonbuurte Atteridgeville en Laudium en in die ooste deur die militêre kompleks Thaba Tshwane (voorheen Voortrekkerhoogte).

Dis nie net die groenteboorde wat jou aanvanklik laat dink jy is nie by ’n tronk wanneer jy by die hek langs die R55-hoofweg binnery nie. Daar is geen vaal mure met rolle lemmetjiesdraad bo-op om die kompleks nie en geen elektriese heining nie. Net ’n groen pallisadeheining wat die boorde en tronkgebou omring.

Atteridgeville-gevangenis.

Deur die heining sien jy die woonhuise van Laudium oorkant die R55 en groepe kinders in skooldrag op pad huis toe. Die tronk en boorde is geleë op grond wat eers deel was van die uitgestrekte militêre kompleks suid van Pretoria, sê Singabakho.

Hier is 1 050 gevangenes – veel minder as die 7 000 tot 8 000 gevaarliker misdadigers in Kgosi Mampuru II, wat met 'n derde oorbevolk is.

In Kgosi het Oscar ’n enkelsel gehad. In Atteridgeville is enkelselle sowel as gedeelde selle, maar Singabakho wil “om veiligheidsredes” nie verklap of Oscar alleen aangehou word nie.

Hier is wel ’n spesiale bad vir die voormalige Paralimpiese atleet. Volgens Singabakho is dit nie spesifiek vir Oscar ingerig nie; dis al in Mei gedoen ingevolge ’n nasionale opgraderingsprojek om geriewe aan gestremde gevangenes in alle tronke te verskaf.

Voor sy vrylating op parool het Huisgenoot berig Oscar het baie gewig verloor omdat hy nie die kos in Kgosi wou eet nie. Hy het toe glo oorleef op onder meer blikkieskos wat hy in die tronk se kantien gekoop het (Maer en eensaam in sy swaarkry, 5 Maart 2015).

Huisgenoot kon nie vasstel of Oscar tevrede is met die maaltye in Atteridgeville nie. Die gevangenes kry wel vars groente om te eet uit die boorde wat hulle self bewerk, vertel Singabakho.

“Ons is selfversorgend wat groente betref.”

Tanja vertel tydens haar besoeke aan die tronk het die werk in die groenteboorde “goed georganiseerd” gelyk. “Gevangenes kan bedags in die boorde werk, maar dit hang af van hul algemene samewerking en gedrag,” verduidelik sy.

Dit help as jy nie heeldag tussen vier mure vasgevang is nie.

“Die boorde is mooi versorg en die groente lyk baie goed.” Hulle mag ook bedags in die tronk se binnehof rondstap as hul gedrag na wense is.

Die feit dat die gevangenes in die buitelug mag wees en in boorde kan werk, is goed vir hul psige, sê Christiaan Bezuidenhout, ’n kriminoloog aan die Universiteit van Pretoria. “Dit help as jy nie heeldag tussen vier mure vasgevang is nie.”

Volgens Singabakho is die werk in die groenteboorde deel van die rehabilitasieprogramme wat in Atteridgeville aangebied word en waaraan Oscar dus ook kan deelneem. Deelname aan hierdie programme kan in gevangenes se guns tel wanneer hulle om parool aansoek doen.

Maar nóg hy nóg ’n bron na aan die Pistorius-familie wou bevestig of Oscar in die boorde werk.

Dit is nie net ’n tronk nie; dis ’n plek vir ’n nuwe begin.

Tanja vertel besoekers word nie toegelaat om vir die gevangenes kos te neem of by die korrektiewe sentrum vir hulle kos te koop nie.

“Die tronk het ook ’n betaalfoon vir die gebruik van alle gevangenes. Dit werk met ’n telefoonkaart en hulle mag hul familie daarmee bel.”

Of Oscar al in Atteridgeville besoek ontvang het en of hy wel mense bel, wou niemand aan ons bevestig nie.

Tanja vertel haar indruk is dat die gevangenes in Atteridgeville “menslik” behandel word.

“Dit is nie net ’n tronk nie; dis ’n plek vir ’n nuwe begin,” sê sy.

“Die gevangenes word as individue gesteun en nie bloot as misdadigers behandel nie. 

“Dit is baie na aan ’n rehabilitasiesentrum. Die mense wat ons daar besoek, ervaar dit ook so. Hulle leer in die tronk om ’n beter mens te wees.”

Volgens Tanja is dissipline in die tronk baie streng.

“Dit maak dat die mense wat soontoe gaan, beter mense is wanneer hulle daar uitkom. Maar dit hang ook van jou af of jy die beste van jou tyd daar binne gaan maak.”

Christiaan wys daarop dat rehabilitasieprogramme in tronke oor die algemeen onsuksesvol is. Sowat 94 persent van geweldsmisdadigers oortree weer ná hul vrylating.

“Rehabilitasieprogramme werk nie, want die tronke is oorvol. Daar is net nie genoeg ondersteuningsdienste soos sielkundiges om seker te maak rehabilitasie vind behoorlik plaas nie. En buite die tronk is ook nie ondersteuningsdienste nie,” sê hy.

Maar die feit dat Oscar oorgeplaas is na ’n kleiner, intiemer tronk waar beter aan sy behoeftes voldoen kan word, “kan net bydra tot sy rehabilitasie”.

Johan van Wyk, woordvoerder vir die Pistorius-familie, herinner Huisgenoot daaraan dat Atteridgeville ’n tronk bly – selfs al is dit dalk “beter” as ander tronke. 

“Oscar vat dit dag vir dag. Hy probeer net elke dag so konstruktief moontlik gebruik,” vertel Johan.

* Skuilnaam. 

Huisgenoot 1 Desember 2016.

EKSTRA BRONNE: IOL.CO.ZA, TIMESLIVE.CO.ZA