Een van hulle is Anthony Rapp (46), bekend vir sy rol as lt. Paul Stamets in die televisiereeks Star Trek: Discovery.

Maar meer opspraakwekkend as die akteur wat reeds as negejarige in die teaterkollig verskyn het, is die ontboeseming wat hy onlangs aan een van sy beste vriende, die akteur Camryn Manheim, gemaak het.

Hy beweer die Oscar-bekroonde Kevin Spacey wat deesdae in House of Cards op die kassie groot aanhang geniet, het hom op ’n seksuele manier benader toe hy 14 jaar oud was.

Kevin Spacey (Foto: Gallo Images/Getty Images)

Rapp het aan BuzzFeed gesê sy maag draai nog steeds as hy dink aan wat Spacey 32 jaar gelede met hom wou doen.

“Ek kan tot vandag toe dit nie uit my kop kry nie. Dit veroorsaak net ’n diepe verwarring by my.”

Intussen het Spacey hom na Twitter gewend om die bewering aan te spreek.

Daarin spreek hy sy afgryse uit oor die bewerings en dat hy baie respek en bewondering vir Anthony Rapp as ’n akteur het.

“Ek kan eerlikwaar nie die voorval onthou nie. Dit moes meer as 30 jaar gelede plaasgevind het.

“Maar as ek toe opgetree het soos wat hy dit beskryf, skuld ek hom die grootste apologie vir wat geweldige onvanpaste dronk optrede sou wees. Ek is jammer vir al die gevoelens wat hy vir jare in homself moes saamdra.”

Nog oor die voorval

Volgens Rapp het hy Spacey by ’n funksie raakgeloop na afloop van ’n Broadway-optrede. Hy het in Precious Sons saam met Ed Harris en Judigh Ivey opgetree.

Spacey het so pas ’n blaaskans geneem nadat hy en Jack Lemmon in ’n Long Day’s Journey Into Night opgetree het.

Volgens hom was dit ’n aand vol pret. Toe nooi Spacey hom weer, dié keer na sy woonstel in Manhattan.

Hy wou my verlei.


Rapp beweer hy was die enigste tiener daar en hy het gou verveeld geraak. Hy het glo televisie gaan kyk in Spacey se slaapkamer. Spacey het na die kamer gekom – oënskynlik dronk.

“Hy het my opgetel soos ’n bruidegom ’n bruid optel en oor die drumpel gedra. Ek het nie losgewriemel nie. Toe gaan lê hy bo-op my,” sê Rapp.

“Hy wou my verlei.”

Maar Rapp sê hy het weldra onder Spacey uitgewriemel en gesê hy gaan huistoe. Spacey wou weet of hy regtig huistoe wil gaan, waarop Rapp bevestigend geantwoord het.

“Ek is baie gelukkig dat niks erger gebeur het nie. Ek kon nooit dink dat enigiemand anders wat ek ken iets soos dit aan ’n 14-jarige seun sou doen nie."

Seksuele voorkeur

In 1992 het Rapp sy seksualiteit openbaar, maar nie Spacey nie. Tot en met Rapp se bewering wat nou die lig gesien het, het Spacey altyd sy voorkeur privaat gehou en gesê hy sal nooit oor sy seksualiteit praat nie. 

Anthony Rapp by die tiende herdenking van RENT in 2006. Foto: Billy Farrell/Patrick McMullan via Getty Images

Daar is egter jare reeds oor sy seksuele voorkeur gegis. 

Hy het wel met twee flou grappe daaroor geskerts terwyl hy die  gasheer was vir die 2017 Tony-toekennings. Tot Maandag, 30 Oktober 2017, toe hy in sy twiet gesê het: “Diegene naby my sal weet ek het in my lewe verhoudings met mans en vroue gehad. Nou kies ek om as ’n gay man te leef.”