Jare lank het dié aanvallige televisiester Suid-Afrikaners bekoor. Met sy stewige lyf en lang, syagtige lokke wat oor sy oë hang, het hy harte gesteel en ons met sy manewales op die skerm laat lag.

So oulik was hy dat hy selfs huis verf na pret laat lyk het . . . Maar nee, dis nie die aantreklike aanbieder van ’n TV-program nie. Ons praat van Oscar, beter bekend as die “Duluxhond”.

Dié Ou Engelse skaaphond met die tipiese wollerige voorkoms van sy ras het hoeka soos ’n vierpotige verfmop gelyk wanneer hy stertswaaiend amok maak terwyl sy “eienaars” in die bekende Dulux-advertensie hul huis ’n nuwe baadjie probeer gee. Maar ná ’n glansryke loopbaan het Oscar se lewe tot ’n einde gekom.

Sy moes Oscar leer om sy poot op die verfblik te sit vir die Dulux-advertensie. Foto: Youtube
Foto: Twitter/@DuluxSA

Sy gesondheid het die afgelope twee jaar geleidelik verswak en kort voor Kersfees moes sy mensema en “bestuurder”, Sue Green, die moeilike besluit neem om hom onnodige lyding te spaar.

“Hy was ’n liefdevolle hond met die mooiste geaardheid,” sê Sue in haar huis in Glenvista, Johannesburg, waar Oscar sy lewe weg van die stel af deurgebring het. Sue se huis is ’n hondehemel.

Ons word begroet deur nog drie honde wat op ’n haar na Oscar lyk. Jazmine, Yola en Orion is immers ook Ou Engelse skaaphonde. Sy was van kleins af verlief op dié tipe honde, verduidelik Sue.

En dis g’n wolhaarstorie nie, want sy wys vir ons ’n hoed en serp wat sy laat weef het van die hondehare wat sy oor die jare uitgeborsel en gebêre het.

Soos die nou ontslape Oscar is die ander skaaphonde meer as net oulike gevreetjies. Yola het al in ’n gedrukte Dulux-advertensie verskyn en Jazmine in ’n advertensie vir die vrugtesapvervaardiger Capri-Sonne.

Oscar het egter die kalklig gesteel. Oor ’n tydperk van byna ’n dekade was hy die ster van vier verskillende advertensies wat vir Dulux vervaardig is.

En sy nalatensklap sal voortleef, want Orion, wat nog net 11 maande oud is, gaan in Oscar se groot spore volg. “Ek is so bly Dulux het besluit om aan te hou om saam met ons te werk,” sê Sue.

Sue weef produkte van haar honde se hare en het ook ’n boek oor Oscar se lewe geskryf. Foto: Rowyn Lombard
Foto: Rowyn Lombard

Oscar het, soos die ander honde, hospitale, skole en ouetehuise besoek om liefde te gee waar nodig. Sue noem haar vierpotige span, vir wie sy ma, afrigter en bestuurder is, die JOY-honde – en dis maklik om te sien waarom.

Die naam JOY is saamgestel uit die eerste letter van elke hond se naam en spreek van die vreugde wat hulle gee. ALS het begin toe sy as kind klein Engelse skaaphondjies in ’n televisieadvertensie gesien het, vertel Sue.

Sy het op die plek besluit sy sou eendag ook so ’n hond hê. Dié droom is op die ouderdom van 24 bewaarheid. “Ek het destyds met ’n ou uitgegaan wat self ’n Engelse skaaphond gehad het. Hy het my aangemoedig om een te koop,”vertel sy.

Die verhouding het nie gehou nie, maar Mack, soos sy haar eerste skaaphond gedoop het, was aan haar sy tot sy dood op die ouderdom van 10. Intussen het Sue egter nog skaaphonde begin aanskaf.

Sy het een van hulle, Max, se foto na ’n werwingsagentskap vir vierpotige advertensieakteurs gestuur, waar hy raakgesien is en in 1999 die eerste van Sue se “Duluxhonde” geword het.

Max was dus in werklikheid die eerste Duluxhond. Mettertyd het Max se aftreetyd nader gekom en so 10 jaar gelede het Sue vir Oscar uit België laat invoer.

Die wit-en-grys bondeltjie was toe maar net drie maande oud, maar reeds so groot soos ’n volwasse Jack Russell-hond, beduie sy.

“Dit was nooit moeilik om Oscar op te lei nie; hy het baie vinnig geleer,” vertel Sue. “Die eerste fase van opleiding fokus op sosialisering en goeie gedrag.”

Ou Engelse skaaphonde is intelligent en leer maklik, sê Sue. “Hulle kan selfs lees, kyk!” Uit haar buidelsakkie haal sy ’n kaartjie waarop die woorde “sit” en “lê” in groot letters gedruk is.

Wanneer sy die kaartjies vir die honde wys, gehoorsaam hulle die geskrewe opdrag. Dan wys sy ’n kaartjie met die syfer 11 vir Jazmine. “Hoe oud is jy?” vra sy – en Jazmine antwoord met 11 blawwe.

Sue vertel dit is maar ’n paar van die toertjies wat Oscar en die ander JOY-honde vir besoeke aan skole, hospitale en ouetehuise bemeester het. Wanneer Oscar fluks geleer het, is hy met eetgoedjies beloon.

Op ses maande het hy al winkelpromosies vir Dulux gedoen en kort daarna was hy gereed vir die televisiekameras. Op die stel was daar altyd ’n eie “stilis” byderhand wat moes sorg dat hy op sy beste lyk.

“Oscar was baie professioneel. Hy het geweet hy is spesiaal en het hom goed gedra op die stel,” vertel Sue trots.

Wanneer Oscar iets spesifieks vir die kamera moes doen, het dit wel ’n bietjie ekstra moeite geverg – soos vir sy laaste advertensie.

“Hy moes sy regterpoot op die verfblik sit, maar het elke keer sy linkerpoot opgesit. Die toneel moes baie kere oorgeskiet word. Maar toe hy dit regkry, het almal hande geklap.”

Benewens vier plaaslike advertensies het hy ook ’n internasionale ster geword toe hy in ’n advertensie vir Dulux se Britse maatskappy verskyn het.

Vir die Britse advertensie moes hy blaf. “Maar Oscar wou eers niks weet nie. Ek het toe agtergekom hy blaf tuis altyd wanneer die vullis verwyder word.

Toe leer ek hom om te blaf wanneer ek die woord ‘vullistrok’ sê. Dit het soos ’n bom gewerk!” Hy was al ook akteur in ’n kykNET-program oor die versorging van troeteldiere.

En soos dit ’n ster betaam, is hy selfs in Top Billing gesien . . . WEG van die stel was hy net nog ’n hond wat lief was vir speel en lang slapies. Vir sy eerste verjaardag het Sue hom en sy sibbes na KFC geneem en met hoenderstukke bederf.

Orion, Yola en Jazmine lees die kaartjies in Sue se hand. Foto: Rowyn Lombard

Die honde slaap altyd saam met Sue op haar waterbed.

“Ek onthou nog hoe kwaad ek was toe Oscar eenkeer my waterbed laat lek het omdat hy so rof daarop gespeel het. Ek moes ’n nuwe een uit Amerika bestel.

“Oscar was ook lief daarvoor om rond te ry. Mense het dikwels uit hul motorvensters vinger gewys na die groot honde in my kar of selfs foto’s geneem.”

Sy wys vir ons vakansiefoto’s waar die honde op die strand by Ballito in KwaZulu-Natal baljaar. Ook op straat het mense hom herken.

“Mense het gesê hulle kan nie glo hulle sien hom in lewende lywe nie.”

Hy het duidelik die aandag en kopvrywe geniet, vertel Sue. Tydens winkelpromosies het kinders gevra of hulle Oscar se pootafdruk op papier as “handtekening” kan kry.

Dit was nooit nodig om Oscar twee keer te vra nie . . . Ongelukkig het hy geen nasate nie.

Sue het verskeie kere probeer om met Oscar te teel, maar sonder sukses. “Hy was werklik net in ’n klas van sy eie. Hy was uiters spesiaal en regtig merkwaardig,” sê Sue met ’n groot glimlag.

“Hy het so baie mense se lewe geraak en net ’n spesiale soort teenwoordigheid gehad.”