Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het Dinsdag bevestig hulle ondersoek ’n voorval nadat Oscar Pistorius na bewering in die Atteridgeville-gevangenis buite Pretoria deur ’n medegevangene te lyf gegaan is.

Die voorval het verlede Woensdag plaasgevind. ’n Stryery het glo tussen die voormalige Paralimpiese held en ’n medegevangene uitgebreek by ’n openbare telefoonhokkie in die spesiale eenheid waar Oscar aangehou word, het Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, aan Huisgenoot.com gesê.

“Hoe sal ek dit stel? Daar was nie bloed nie. Oscar is net erg gekneus,” het Singabakho oor Oscar se geringe beserings aan Huisgenoot gesê nadat Jacaranda News oor die voorval getwiet het.

Oscar het ’n slegte maand agter die rug nadat sy moordvonnis van ses jaar op 24 November na 13 jaar en vyf maande verleng is. Hy het ook sy 31ste verjaardag op 22 November agter tralies gevier.

The chauffeurs in Cape Town hey. Nice!

A post shared by Reeva Steenkamp (@reevasteenkamp) on

Die atleet, wat sy vonnis vir die moord op sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, in Julie 2016 begin uitdien het, is in November verlede jaar van die Kgosi Mampuru II-gevangenis na dié gevangenis oorgeplaas.

Hy het Reeva op Valentynsdag 2013 in sy huis in Pretoria doodgeskiet.

Some of my favourite people. @oscarpistorius @gi_myers @iamfomo @thesamlet @thefrisco_kid @beatrixleopold

A post shared by Reeva Steenkamp (@reevasteenkamp) on

Intussen het die DKD gesê hulle neem die voorval ernstig op.

“Ons ondersoek nog die voorval. Wat ek kan sê is dat ons as departement dit in ’n ernstige lig beskou,” het Singabakho benadruk.

Oscar sal na verwagting eers in 2024 vir parool in aanmerking kom.