Oscar Pistorius moet nou 13 jaar en vyf maande vir moord sit.

Die appèlhof het vandag (Vrydag) beslis die staat se aansoek om verlof tot appèl teen regter Thokozile Masipa se vonnis toegestaan en sy “skokkende ligte” vonnis van ses jaar met nog sewe jaar en vyf maande verleng.

Dié heftiger vonnis is onmiddellik van krag.

Regter Legoabe Willie Seriti het in sy uitspraak gesê Oscar moes die minimum vonnis van 15 jaar opgelê gewees het, maar die tyd wat hy reeds uitgedien het is in ag geneem, berig News24.

Masipa het die eertydse Paralimpiese held in Julie 2016 tot net ses jaar tronkstraf vir die moord op sy modelmeisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013 opgelê.  

’n Volbank van vyf appèlregters het drie weke gelede die staat se aansoek in Bloemfontein aangehoor nadat Masipa verlof tot appèl ná haar beslissing in die hooggeregshof in Pretoria geweier het. 


Die staat het aangevoer Oscar het ’n veel heftiger vonnis verdien en daar was nie genoeg wesenlike en dwingende omstandighede om van die minimum vonnis van 15 jaar vir moord af te wyk nie. Adv. Andrea Johnson, het namens die staat betoog Oscar het nooit die hof in sy vertroue geneem deur te sê hoekom hy gemoor het en vier skote deur ’n toiletdeur geskiet het nie. 


Oscar het Woensdag sy 31ste verjaardag agter tralies in die Atteridgeville-gevangenis buite Pretoria deurgebring en nie die verrigtinge bygewoon nie. Sy regspan, onder leiding van adv. Barry Roux SC, het die staat se aansoek namens hom teengestaan.

Oscar het gehoop om teen 2019 op parool vrygelaat te word.

Dit gaan in die lig van dié vonnis waarskynlik nou nie voor 2024 gebeur nie, aangesien hy minstens twee derdes van sy vonnis moet uitdien.

Bykomende bronne: Beeld; The Star; Suid-Afrikaanse Instituut vir Wetlike Inligting (SAFLII)