Ons loer in by Mariandra Heunis wie se man, Johann, in Oktober 2016 deur rowers op hul kleinhoewe buite Pretoria doodgeskiet is.

Sy kon nog glad nie afsluiting kry nie aangesien die hofsaak teen een van die beskuldigdes nog sloer. Nou het sy haar eie begrafnisonderneming begin.

Mariandra (35) vertel ou wonde word elke keer oopgekrap wanneer sy in die hofsaak moet getuig.

“Jy kan dit nie eenkant toe skuif nie, want jy móét onthou wat daardie vreeslike aand gebeur het wanneer jy onder kruisondervraging is. Die ergste is wanneer jy in die hof is, en jy moet die persoon vir wie jy die bangste was, weer in die oë kyk.”

Die saak, wat in die hooggeregshof in Pretoria plaasvind, is uitgestel na Augustus. Hoewel Mariandra hom tydens ’n uitkenningsparade uitgewys het, ontken hy skuld. Die tweede aanvaller is nog op vrye voet.

Sy vertel hulle het voor die TV aan die slaap geraak toe die aanvallers toegang tot hul huis in Kameeldrift, Pretoria, gekry het.

Johann is ses keer geskiet en is op die toneel dood. Mariandra en hul drie kinders, Mieke, Misha en Majandré, vandag onderskeidelik 9, 7 en 5 jaar oud, is nie geskiet nie. Sy was toe agt maande swanger met hul vierde kind, AJ, wat nou 2 en ’n half jaar oud is.

Die kleine AJ sit op mamma se skoot. (Foto verskaf
Die kleine AJ sit op mamma se skoot. Foto: Verskaf
Majandré, Mieke, Misha en AJ. (Foto verskaf)
Majandré, Mieke, Misha en AJ. Foto: Verskaf

Ná sy geboorte moes Mariandra noodgedwonge begin werk om die pot aan die kook te hou.

Sonja Smith, wat Johann se begrafnis gereël het, het vir haar die geleentheid gegee om as begrafnisdiens-organiseerder by haar maatskappy in Centurion te begin werk.

In Maart vanjaar het Mariandra haar eie onderneming, ’n franchisetak van die Sonja Smith Begrafnisgroep, in Midrand geopen.

“Ek het nooit gedink ek sal met die dood kon werk nie,” vertel Mariandra.

“Maar omdat ek ook deur die dood van ’n geliefde geraak is, verstaan ek die emosies van die mense wat hier instap. Ek het begrip vir hulle.”

Verlede jaar het sy amper gedink sy het weer liefde gevind, maar dinge wou toe nie so vir haar uitwerk nie.

Sy vertel sy het die Sweedse filmvervaardiger Jonas Nilsson verlede jaar in Januarie ontmoet toe hy in Suid-Afrika was om ’n dokumentêre film oor plaasmoorde te maak.

Die twee het kontak behou, maar toe sy in Julie in Swede ’n praatjie oor die onderwerp gelewer het, het ’n romanse ontstaan.

“Ek was totaal verbluf toe hy sommer die volgende maand al ’n verloofring aan my vinger steek,” vertel sy.

Nadat ons verhouding beëindig is, het hy erken hy het dit net vir die publisiteit gedoen.

“Maar ek het gou agtergekom dit gaan nie werk nie, en ek het die verlowing in Oktober verbreek. Die kultuurverskille is net te groot. Ons het mekaar in daardie tyd seker maar so drie keer gesien. Nadat ons verhouding beëindig is, het hy erken hy het dit net vir die publisiteit gedoen.”

Mariandra het ook ’n ondersteuningsgroep vir weduwees en sy hou gereeld praatjies by verskillende plekke soos kerke en oggendtee’s.

Mariandra het ‘n ondersteuningsgroep vir weduwees
Mariandra het ‘n ondersteuningsgroep vir weduwees begin. Foto: Verskaf

“Dan vertel ek vir die mense daar is nie ’n vasgestelde tyd hoe lank ’n mens mag rou nie. Elke mens is uniek en hanteer die rouproses op sy eie manier.”

Baie mense het haar al gevra of sy dit nie oorweeg om te emigreer ná die moord op haar man nie.

“My antwoord is eenvoudig. Nee. Suid-Afrika is my huis, nes dit my ouers en grootouers en die geslagte voor hulle se huis was. Hier sal ek bly.”