Andries Bekker (34), die voormalige Springbokslot wat deesdae vir die Japannese klub Kobelco Steelers speel, sê tot siens aan die sport. 

Andries het Woensdag op Instagram gesê dit was 'n goeie tyd, al was daar baie "op en af", maar hy sal dit alles weer oor doen as hy die kans sou kry.

"Dankie vir al my fantastiese familie en vriende," skryf hy.

Andries, oorspronklik van Goodwood in die Kaap, het sy Springbokdebuut in 2008 gemaak nadat hy voorheen vir die Stormers uitgedraf het.

Hy het in 2013 by die Japannese span aangesluit.

Die rugbyspeler Juan de Jongh skryf op Instagram vir Andries: "Alles wat mooi is vir die volgende hoofstuk, #legende. Gaan jou mis."

Die 6'11" (2,1 m) lange Andries het die naweek sy laaste professionele wedstryd vir die Kolbeco Steelers gespeel teen die Toshiba Brave Lupus in die Japannese liga, berig Sport24. 

Rugbyspelers soos Eben Etzebeth en Siya Kolisi het ook mooi woorde met Andries gedeel.