Hy het homself elke drie weke langs sy dogter tuis gemaak en haar geselskap gehou. “Soms het ek net heeltyd geslaap, maar hy het by my gesit,” vertel Odille Monk (28), ’n pilates-instrukteur van die Paarl.

Odille het Woensdag haar laaste chemoterapie ontvang sedert sy verlede jaar met die behandeling vir ’n gewas in haar borskas begin het.

“Jy moet nie vir jou kinders net sê jy gee om nie, jy moet dit vir hulle wýs,” vertel Peter aan Huisgenoot.

Sy het gedink sy sukkel net met sinusprobleme, maar met ’n hoes wat net nie wou wyk nie, het Odille, verlede jaar besluit genoeg is genoeg. “Ek het vir omtrent drie maande gehoes en gehoes. Ek het net glad nie lekker gevoel nie,” vertel Odille. Sy het begin wonder of sy nie dalk tuberkulose opgedoen het nie, want haar simptome het baie met die siekte s’n ooreengestem.

“Ek het myself daarvoor laat toets, maar toe wys die toetse daar is ’n gewas in my borskas, onder, naby my hart,” vertel Odille oor haar diagnose in Oktober verlede jaar. “Dit was ’n reuse-skok,” sê sy. Sy meen dit het omtrent vir ’n maand onwerklik gevoel voor die gedagte begin insink het.

Odille moes sedertdien elke drie weke chemoterapie ontvang, vir sowat sewe ure op ’n slag. Haar hare het in die proses begin uitval en ná elke sessie was Odille uitgeput, naar en lam, vertel sy.

“Maar dit was wonderlik om my pa daar te hê, hy het my sterker gemaak en dit het gevoel of ek ’n stukkie huis by my het,” sê sy.

Ná Woensdag se laaste sessie, voel sy nog baie uitgeput, vertel Odille.

“Die ergste is dat ek so sukkel om my oë oop te hou. En my hare het nou weer bietjie begin uitval. Maar ek is verskriklik verlig dat dit my laaste sessie was.”

Odille sê die reuse-gewas het na haar tweede chemosessie drasties begin krimp. “Dit is ’n wonderwerk en natuurlik ’n groot verligting,” sê sy.

Tussendeur het Odille, wat voortdurend positief gebly het, in Desember met haar verloofde, Scott Monk, buite Wellington getrou nadat hulle verlede jaar in Junie verloof geraak het.

Odille Monk op haar troudag in Desember.
Odille Monk op haar troudag in Desember. Foto: Facebook/Odille Monk

Sy sal oor drie weke weer vir ’n skandering gaan om te sien of die gewas heeltemal vernietig is. Sy sal ook vir die volgende paar maande gereeld vir bloedtoetse en ondersoeke moet gaan. “En ek sal net gesond moet leef,” sê sy.

Maar pa Peter is baie positief oor die toekoms.

“Daar is niks (van die gewas) oor nie, alles is verby. Ek is positief,” sê hy.

Hy sê die afgelope paar maande was nie maklik nie. “Maar wat my gedra het, is die Here wat vir ons krag gegee het. Sy het by die dood omgedraai maar haar geloof het vir ons almal aangesteek,” vertel die diepgelowige man.

“Die Here maak nie mense siek nie. Maar hy gebruik die geleentheid vir homself. Ek is ’n baie besige ou en Odille was baie besig, ons het nie by mekaar uitgekom nie. Ons het nou kans gekry om vir ses ure (per sessie) by mekaar te sit en te gesels,” vertel Peter, wat selfs sy hare en snor in ’n stadium afgeskeer het om sy dogter in haar stryd te ondersteun.

“Ek het soms selfs vir my self in die spieël geskrik,” skerts hy voor hy weer op ’n ernstige noot verder vertel. “Sy het by my studeerkamer ingekom en gesê: 'Daddy, look at my hair,' maar ek het geweet, die trane mag nie loop nie, ek moet sterk wees. Ons moet vir ons kinders wys ons is daar vir hulle.”

Peter, wat deesdae afrigter van Zimbabwe se nasionale rugbyspan is en ook as motiveringsspreker optree, beskryf die afgelope paar maande as ’n “hobbeltjie” in hul pad. “Ek wil dit nie eers ’n siekte noem nie. Sy gaan nou weer haar spoed optel,” sê hy oor sy dogter.

“Ek het heeltyd geglo God is in beheer en hy is my geneesheer,” beaam Odille. “Dit was ook ongelooflik om te sien hoe die gemeenskap my ondersteun, hoe mense kos aandra, brood bak en selfs net ’n boodskap stuur om te vra hoe dit met my gaan,” vertel sy.