Die SAL-vlieënier Robert Schapiro was geskok deur
Die SAL-vlieënier Robert Schapiro was geskok deur sommige van die dinge wat hy aan boord van vlugte in die 1970’s en 1980’s gesien het. Foto: Verskaf.

Jy kan jou dit skaars voorstel: vlieëniers wat in die stuurkajuit rook, met lugwaardinne flirt en hul vliegtuie soos cowboys vlieg, min gepla oor die gemak of veiligheid van hul passasiers.

Destyds in die 1980’s was die SAL die “uiterste manneklub,” sê Robert Schapiro – en hy behoort te weet, want as ’n medevlieënier het hy dit alles beleef. En dikwels het nie net die vlieëniers se gedrag veel te wense oorgelaat nie; ook dié van die passasiers.

In hierdie uittreksel uit sy memoires, Secrets from the Cockpit, lig hy die sluier oor dié manewales

‘Chicken or beef’

Dit was nie ongewoon vir vlieëniers en kajuitpersoneel om 10 kg of meer in hul eerste jaar by die SAL aan te sit nie. Lugdienskos was toe verbasend lekker – selfs in ekonomiese klas.

Maar die kos in die eersteklas was in sy eie liga.

As voorgereg is kaviaar en foie gras bedien, gevolg deur ’n hoofgeregte van kreef en filetsteak en die etes is afgesluit met dekadente nageregte en rojale borde vrugte en kaas; en dié luukses was van dieselfde gehalte as ’n goeie restaurant s’n.

Vleis soos gebraaide beesboud, wildsvleis of eend is volgens bestelling aan boord voorberei; niks is vooraf verpak nie.

Maaltye is ook aan die personeel verskaf, maar een van my kollegas het my op my heel eerste vlug aangeraai om te wag tot die passasiers klaar geëet het.

En hy was reg. Daar was nie iets soos “beperkte keuse” in eerste klas nie. Oorgenoeg is van elke gereg ingelaai – en dit was beskikbaar vir die vlieëniers nadat die passasiers bedien is.

Soms selfs voor die tyd, om die waarheid te sê.

‘Dit was algemeen vir die ouer vlieëniers om verhoudings met lugwaardinne te hê’

Ekonomiese werklikhede het mettertyd alle lugdienste verplig om op duur kosse te besnoei tot vliegtuigkos meestal die aaklige pappery geword het wat dit vandag is. Selfs maaltye vir die personeel is afgegradeer tot kos in foeliehouers.

Maar destyds was ons probleem om op te hou eet, veral omdat ons geweet het alle oorskiet sou by ons bestemming weggegooi word.

Personeellede het gewig aangesit tot hulle geleer het om nie langer hul lywe as ’n asblik vir oorskietkos te gebruik nie, hoe lekker die kos ook al was.

Die ‘mile high club’

Daar’s hierdie idee dat die badkamers die plek is vir verbode seks, maar die meeste seks aan boord vind net daar in die passasiersitplekke plaas.

Dit was nie ongewoon dat die interkom in die stuurkajuit lui met ’n oproep van ’n lugwaardin wat al giggelend vra hoe nou gemaak met ’n paartjie wat raserige sitplekseks het nie.

Ons het gewoonlik gesê dis die beste om ’n paar komberse oor hulle te gooi en hulle te laat klaarmaak.

Ek was eenkeer toevallig ’n getuie van sitplekseks tussen vreemdelinge toe ek in eerste klas van Londen na Kaapstad gereis het.

In Johannesburg het die ou verdwyn sonder om eens tot siens te sê. Ek en die vrou het albei verder gevlieg na Kaapstad, waar sy in die liefdevolle arms van haar man geval het.

Die twee oorkant die gangetjie was hartlik en beleefd voor opstyging, geselserig oor drankies, beste vriende oor aandete en het betekenisvol na mekaar gekyk oor die nagereg.

Terwyl die drank gevloei het, was dit baie duidelik wat sou gebeur nadat die ligte afgeskakel is.

En gebeur, het dit toe. Maar toe die son opkom, het die eens joviale twee passasiers skaars ’n woord vir mekaar te sê gehad.

Ná ontbyt het hulle van mekaar af weggedraai en ingesluimer.

In Johannesburg het die ou verdwyn sonder om eens tot siens te sê. Ek en die vrou het albei verder gevlieg na Kaapstad, waar sy in die liefdevolle arms van haar man geval het.

Robert Schapiro
Passasiers aan boord van ’n SAL-vlug in 1978. Foto: Verskaf.

Maar dié soort gedrag was nie net tot die passasiers beperk nie.

Toe ek as ’n jong, enkellopende man by SAL aangesluit het, was dit algemeen vir die ouer vlieëniers om verhoudings met lugwaardinne te hê.

Dit was só algemeen dat hulle “airline wives” genoem is. Hulle was meestal jong vroue wat by die lugdiens aangesluit het vir die avontuur om vir ’n paar jaar die wêreld te kan sien.

Die lugdiens het in elk geval selde ouer vroue aangestel; hulle moes jonk en aantreklik wees en goed lyk in hul ontwerpersuniforms.

Van die vroue is verwag om tydens hul dienstyd ’n sekere gewig te handhaaf en hul hare en grimering in ’n voorgeskrewe styl te doen.

Party van hulle het dit as ’n statussimbool beskou om ’n getroude vlieënier as kêrel te hê. Hulle het geweet die verhouding sou waarskynlik nêrens heen lei nie, maar hulle het gevoel dit gee hulle ’n spesiale mag en status onder die vlugpersoneel.

Die vlieënier sou tussen vlugte tuis by sy vrou wees en sy program so reël dat hy en sy meisie saam op vlugte is.

Die ouens het natuurlik met graagte saamgespeel. Dit was ’n ander era en ’n ander werkplekkultuur. Die SAL was toe die uiterste manneklub.

Soms het die verhoudings jare lank geduur.

Die vlieënier sou tussen vlugte tuis by sy vrou wees en sy program so reël dat hy en sy meisie saam op vlugte is.

Party vlieëniers sou dit ’n stap verder voer, hul tasse pak vir wat hulle vir hul vrou vertel ’n oorsese reis is en dan die week by hul meisie in ’n ander deel van die stad gaan bly.

‘Dit was ’n ander era en ’n ander werkplekkultuur. Die S.A.L. was toe die uiterste manneklub’

Min het eens probeer om hierdie verhoudings op ons vlugte geheim te hou.

Ek onthou my vrou, Arlene, het met afgryse toegekyk hoe ’n vlieënier sy meisie in die voorportaal van ’n Durbanse hotel passievol tot siens soen – en toe op dieselfde plek wag om sy vrou byna net so passievol te groet toe sy ’n paar minute later uit Johannesburg opdaag.

Teoreties het ’n kaptein se meisie die vlug vermy wanneer hy op ’n beplande reis saam met sy vrou was.

Maar soms, wanneer ’n vrou spontaan besluit het om saam te gaan op ’n reis wat hy reeds vir hom en sy meisie gereël het, sê maar oor Kersfees, was die uiteinde ’n klugspel op Broadway waardig.

Ek was eenmaal op so ’n vlug met albei vroue aan boord.

Die kaptein was uit die staanspoor ’n senuweewrak. Sy lugwaardinmeisie het geen genade vir hom gehad nie. Elke keer dat sy hom gesien het, ook in die stuurkajuit, het sy hom ingevlieg omdat hy die reis bederf het.

Intussen het sy vrou in eerste klas gesit sonder om ’n woord te sê.

Die hele personeel het Kersdag in ’n restaurant byeengekom vir middagete.

Die gewoonlik spraaksame kaptein en sy vrou het aan die een punt van die tafel gesit, sy gesig die ene angs, terwyl sy meisie aan die ander punt sit en kook het.

Sy het te vinnig gedrink, te hard gelag en later in trane uitgestorm.

Dit was goeie vermaak vir almal daar, maar hierdie situasies het onvermydelik in trane of ’n egskeiding geëindig.

Baie vlieëniers was met hul derde of vierde vrou getroud. Een ou het al soveel keer getrou dat hy as die “wisseltrofee” bekend was.

Rookwolke

Toe ek by die SAL aansluit, was baie vlieëniers strawwe rokers. Dit was deel van die kultuur van werk hard, speel nog harder. Daar was glad geen bedagsaamheid teenoor nierokers nie.

Anders as vandag het die reg om in die geslote stuurkajuit te rook, swaarder as enige ander regte geweeg.

As daar op ’n oorsese vlug drie rokers was van wie een dalk ’n pyp gehad het, is die hele kajuit in ’n grys damp gehul. Trouens, party vlieëniers was so kinderagtig om nog meer te rook net om nierokers te treiter.

Dit het nouliks beter gegaan in die passasierskajuit.

Vliegtuie is in belaglike rook- en nierookseksies verdeel. Die rookseksie het ’n ry agter die nierooksitplekke begin sonder enigiets wat hulle fisiek skei. Die hele vliegtuig het na rook geruik.

Dit het eers begin verander toe die openbare houding teenoor tweedehandse rook verhard het.

Kajuitpersoneel was ongelukkig daaroor dat hulle gedurig aan passasiers se rook blootgestel word.

‘Passasiers kon aanstootlik en beterweterig wees – veral wanneer hulle dronk was’

Die gewoonte was ook duur: Tabakrook het ’n klewerige lagie op instrumente gelaat wat duur was om te verwyder. En dan was daar die alomteenwoordige brandgevaar, veral wanneer mense in die badkamers gerook het.

Eindelik het die dag aangebreek toe die SAL in 1987 een van die eerste lugdienste ter wêreld was wat rook op ál sy binnelandse vlugte verbied het. Rook was steeds op internasionale vlugte toegelaat tot dit volgens ’n internasionale ooreenkoms gestaak is – eers ’n dekade later.

Onverwagse ompaaie

Voor lugvaartsekuriteit heeltemal verander het ná die 9/11-terreuraanvalle, het ons gewoonlik met die kajuitdeur wyd oop gevlieg. Party kapteins het passasiers genooi om die kajuit te besoek.

Dit was goed vir openbare verhoudings en het die nagte vir ons ’n bietjie vinniger laat verbygaan.

Kinders was altyd baie goeie besoekers, maar volwassenes kon aanstootlik en beterweterig wees – veral wanneer hulle dronk opgedaag het.

Vreemd genoeg het party passasiers werklik gedink hulle het ’n sê oor ons doen en late gehad.

Een Dinsdagmiddag in my 727-dae het ons van Kaapstad opgestyg en was via Bloemfontein op pad na Johannesburg.

Toe ons op kruisspoed is, het die kaptein die passasiers oor ons hoogte, landingstyd in Bloemfontein en die gewone nuttelose feite oor ons vlug ingelig.

Die kajuithoof het by die oop kajuit ingestap en vertel party passasiers sê die vlug was veronderstel om Kimberley toe te gaan en nie Bloemfontein toe nie.

Lekker om julle te sien, maar hoekom is julle hier? Ons het nie op ’n Dinsdag ’n vlug uit Kaapstad nie.

Die vluglog het duidelik Bloemfontein as ons bestemming getoon, maar foute is altyd moontlik.

Ons was reeds buite radioafstand van ons Kaapstadse kantoor.

Die kaptein het vir die kajuitpersoneelhoof gesê om ’n peiling onder die passasiers te doen oor hoeveel dink ons gaan Kimberley toe en hoeveel na Bloemfontein.

Die stemme is getel en Kimberley het met ’n kortkop gewen.

Ons het lugverkeerbeheer oor ons nuwe bestemming ingelig.

Nadat ons in Kimberley geland het, het ons na ons gewone parkeerplek gery. Die grondingenieur het aan boord gekom en ons gegroet: “Lekker om julle te sien, maar hoekom is julle hier? Ons het nie op ’n Dinsdag ’n vlug uit Kaapstad nie.”

Robert in die kapteinsitplek, wat altyd aan die li
Robert in die kapteinsitplek, wat altyd aan die linkerkant van die stuurkajuit is. Foto: Verskaf.

Ons volgende stop was in Bloemfontein.

Dit het ons dag ’n bietjie langer gemaak, maar almal het gelukkiger gelyk.

Maar ek moet erken, ons het nie altyd tydens vlugte veel aan die passasiers se gemak gedink nie.

Die meeste kapteins het die meeste van die reëls die meeste van die tyd gevolg, maar party was cowboy-vlieëniers wat glad geen reëls gevolg het nie.

Gelukkig was die 727 ’n baie taai vliegtuig, en mits daar geen ernstige voorvalle was nie en hulle normaal gevlieg het op toetsritte, het niemand hulle eintlik probeer keer of skynbaar omgegee nie.

Ongelukkig vir die mense op die agterste sitplekke was die passasiers se gemak vir die cowboy-vlieëniers nie ’n oorweging nie; dit was eerder ’n hindernis.

Die passasiers wat die ergste deurgeloop het, was dié op die roetes tussen Kimberley en Bloemfontein en Port Elizabeth en Oos-Londen.

Albei was kort afstande en daar was voortdurend ’n kompetisie om te kyk wie dit in die kortste tyd kon aflê.

Dood aan boord

Ek was een nag op ’n 747-vlug na Madrid toe ’n geskokte kajuitpersoneelhoof vir ons in die stuurkajuit kom sê ’n vrou in haar 80’s is in ekonomiese klas dood.

Die kajuitpersoneel het die passasier gedra na eerste klas, waar daar meer ruimte was om haar te probeer bybring.

Toe dit duidelik was niks kon vir haar gedoen word nie, het die personeel haar in een van die deurskynende lyksakke gesit wat ons altyd aan boord het en haar van die ander geskokte passasiers weggeneem.

Later het ’n lugwaardin besluit om haar reisgenote te neem na die leë sitplekke op die boonste dek wat eens as ’n sitkamer gebruik is.

Ons het SAL oor die radio ingelig en gevra hulle moet reëlings tref vir ons aankoms in Spanje.

’n Vliegtuig wat met ’n lyk in ’n vreemde land aankom, word outomaties geskut tot ’n regter bevestig daar was geen gemene spel nie.

Die personeelhoof het die vrou se lyk na die boonste verdieping gebring en dit agter die sitplekke weggesteek – dieselfde sitplekke waar die lugwaardin later haar treurende metgeselle laat sit het.

Dit kan ’n lang vertraging veroorsaak tensy die plaaslike owerhede reeds van die situasie bewus is en die amptenare die vliegtuig inwag.

Ons is verseker ’n Spaanse dokter sou daar wees wanneer ons land.

Toe die sagte lig van die oggend by die kajuit begin insyfer, het ek na die kajuit op die boonste dek gestap om te kyk hoe dit met die oorledene se metgeselle gaan.

Daar het ’n skok op my gewag. Hulle het in die laaste ry sitplekke geslaap, en ek kon duidelik twee voete in ’n deurskynende lyksak in die gangetjie agter hulle sien uitsteek.

Die personeelhoof het die vrou se lyk na die boonste verdieping gebring en dit agter die sitplekke weggesteek – dieselfde sitplekke waar die lugwaardin later haar treurende metgeselle laat sit het.

Ek het ’n ramp gevrees as hulle sou wakker word en rondkyk, toe drapeer ek stilletjies ’n kombers oor die voete wat uitsteek. Daarna het ek vir die lugwaardin gesê om hulle wakker te maak en hulle na hul oorspronklike sitplekke vir die landing te laat terugkeer.

Nadat ons 20 minute op die laaiblad in Madrid gewag het, het die dokter opgedaag om die oorledene te ondersoek.

Die dokter het die lyk vinnig ondersoek en gevra wie bepaal het dat die mens dood is. Die personeelhoof het sy hand opgesteek.

“En hoe lank is sy al in die lyksak?” het hy gevra.

“Sowat ses uur,” het die hoof geantwoord.

“Oukei, sy is nou beslis dood,” het hy aangekondig en toestemming gegee dat die passasiers kon afklim.

Die laaste deel van die storie is selfs hartseerder. Die vrou sou op die vliegtuig gebly het vir die volgende been van die vlug na Frankfurt.

Maar ná haar dood is sy nie meer as ’n passasier beskou nie.

‘As ons aanhou daal het, sou ons reg in die berg vasgevlieg het’

Pleks daarvan is sy as vrag geklassifiseer. Ons het gehoor haar passasierskaartjie na Frankfurt is gekanselleer en haar familie sou per kilogram vir die vervoer van haar lyk en ’n kis in die vragruim moes betaal.

’n Deel van my het toe gewens ons kon haar daar agter die sitplekke versteek gehou het en haar eers op die laaste been van die vlug “ontdek” het.

Noue ontkomings

Van meganiese foute tot noodgevalle en slegte weer, vlieëniers moet vir allerhande noodgevalle gereed wees. En dít is waar ervare vlieëniers van die amateurs onderskei word.

Eenkeer het ons na die kusdorp George op die Tuinroete gevlieg.

Kyk jy binneland toe eindig die kusvlakte by die hoë Outeniquabergreeks. Daardie binnelandse vallei eindig in nog ’n ry berge, die Swartbergreeks, rofweg parallel met die Outeniqua-berge.

Anderkant lê die dorre Groot-Karoo.

Omdat ons George meestal van die kus genader het, was die berge gewoonlik nie ’n kwessie nie.

Maar soms het ons dit van die binneland genader, en dan moes ons eers oor albei bergreekse vlieg.

Omdat die lughawe geen radar gehad het nie, het ons in bewolkte toestande eers hoog oor die vliegveld gevlieg voor ons oor die kusvlakte gedaal het.

Op hierdie vlug het ons met digte wolkbedekking onder ons George genader. Ons het na ’n veilige hoogte gedaal en toe horisontaal gevlieg en gewag tot ons bo die lughawe is.

Die Boeing 747-200 wat in die 1970’s deur die SAL
Die Boeing 747-200 wat in die 1970’s deur die SAL gebruik is. Foto: Verskaf.

Ons toerusting het gewys ons is 20 km van die lughawe af, baie naby in lugvaartterme. Maar toe die wolke skielik oopgaan, sien ons dat ons oor ’n bergreeks vlieg.

Vol vertroue dat ons reeds die kusvlakte bereik het, het ons gevra om visueel met die daling voort te gaan pleks daarvan om eers hoog oor te vlieg.

Lugverkeerbeheer het ons versoek toegestaan.

Die wolke het weer onder ons toegevou, maar ons het in elk geval begin daal.

Maar iets het die kaptein gepla. Hy het besluit om die daling effens bo die hoogte van die hoogste berg te staak tot ons weer die grond kon sien.

Sy huiwering het my geïrriteer. Maar toe ons net 6 km van die vliegveld af is, het die wolke weer oopgevou. Toe was ons besig om oor ’n tweede stel berge te vlieg.

En die berge was bitter naby.

Mislei deur die toerusting en sonder dat ons geweet het presies hoe ver ons van die bergreekse is, het ons aanvanklik gedink ons steek die Outeniqua oor, maar dit was die Swartberge wat ons eerste gesien het.

Gelukkig was die kaptein verstandiger as ek. As ons aanhou daal het, sou ons reg in die berg vasgevlieg het.

Ek het daardie dag ’n groot les oor aannames geleer. Ek het ook nog ’n katlewe verloor.

Secrets from the Cockpit: Pilots Behaving Badly an
Secrets from the Cockpit: Pilots Behaving Badly and Other Flying Stories deur Robert Schapiro. Foto: Verskaf.
  • ’n Geredigeerde uittreksel uit Secrets from the Cockpit: Pilots Behaving Badly and Other Flying Stories deur Robert Schapiro (Jonathan Ball Publishers, R195 by Takealot.com). Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder kennisgewing.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe