“Dit pla ons nie,” sê sy en lag. “Ons is net soos enige ander gewone paartjie,” vertel Carly Schäper (23), ’n danser van Durban, oor haar huwelik met die meganiese ingenieur Graeme Eksteen (52), byna drie dekades haar senior.

Die egpaar se liefdesverhaal het onlangs internasionale opskrifte gehaal toe die Britse publikasie Daily Mail oor die groot ouderdomsverskil tussen hulle berig. Dié plasing het ook in die sosiale media talle mense se oë laat rek.

“Ek dink hulle (die publikasie) wou net sensasie daaruit kry,” laat hulle hoor. Die publikasie het glo die foto’s van haar en haar veel ouer man op haar Instagram-profiel gesien, waar hulle soos gewone liefdesduifies koer, soen en selfies neem.

Carly het aan Huisgenoot.com bevestig die ouderdomsverskil tussen haar en Graeme is inderdaad 29 jaar en erken baie mense verwar haar en haar man vir pa en dogter. “Ja, baie mense dink my man is my pa.”

Carly hou egter vol sy en Graeme, met wie sy in Julie getroud is, steur hulle nie aan die kritiek nie, ook nie aan die “vreemde kyke” wat hulle soms in die supermark kry nie.

 “As mense ons vreemd aankyk en probeer uitpluis wat die verhouding tussen ons is, probeer ons juis met hulle die spot dryf. Dan soen ek hom en kyk wat is mense se reaksie, dan lag ons daaroor.”

Sy vertel sy is in die Kaap gebore en het in Gauteng grootgeword. Sy het Graeme twee jaar gelede ontmoet toe sy saam met haar pa, Gavin Grimett (47), en suster, Savannah (18), van die Kaap na Durban verhuis het.

“Ek het voorheen dansklasse (baldans en Latynse dansstyle) aangebied en het na iemand gesoek saam met wie ek weer danslesse kon aanbied.”

Sy vertel dit is moeilik om groepe te leer dans, so sy wou by ’n dansafrigter aansluit wat reeds gevestig is. Carly het op Facebook gevra of enigiemand so iemand ken, en dit is toe dat iemand Graeme voorstel. Sy het Graeme vir koffie ontmoet.

“Dit was nie liefde met die eerste aanblik vir my nie,” vertel sy oor die oomblik toe sy hom ontmoet. “Hy sê altyd dit was liefde met die eerste aanblik vir hom,” sê sy. “Maar ons het net oor dans gepraat.” Dit was vir haar merkwaardig dat Graeme, wat nasionale kleure in baldans en Latyns-Amerikaanse dans verwerf het, eers in sy 40's begin dans het.

Sy vertel hulle het wel dadelik ’n band gehad.

“Ons het onmiddellik gekliek, veral intellektueel. Ons deel baie van dieselfde belangstellings. Ons is albei passievol oor God, diere, veral katte, en die natuur.”

Hulle is ook albei veganiste, wat beteken hulle eet geen diereprodukte nie.

Carly vertel sy het kort voor lank saam met hom begin danslesse afrig en by hom ingetrek, al was dit aanvanklik net platonies. Carly het uit ’n langtermynverhouding gekom en sy het nie dadelik weer aan nuwe liefde gedink nie.

“Graeme was baie ondersteunend. Hy het geen druk op my geplaas nie. Eers later het hy erken hy het gevoelens vir my ontwikkel. Ek dink ek het net die troos nodig gehad, en toe op hom begin verlief raak.”

Hy het tyd saam met haar en haar pa, wat vyf jaar jonger is as Graeme, en suster begin deurbring, maar hulle het hul gevoelens vir mekaar eers stil gehou.

“Ek was bang ek gaan my pa ’n hartaanval gee as hy uitvind!”

Sy vertel haar ma, Pearl Schäper (50), in Pretoria was baie meer ondersteunend oor die vriendskap tussen hulle. “My pa was baie agterdogtig. Hy het vir my gesê hy is bekommerd oor die liefdevolle kyke wat Graeme my gee en dat hy my gewig net te fyn dophou!”

Haar pa was kwaad toe hy uitvind hulle het sowat twee maande ná hul ontmoeting ’n romantiese verhouding aangeknoop. Sy meen dit was vir haar ma waarskynlik minder erg omdat daar ook ’n groot ouderdomsverskil van sowat 18 jaar tussen haar ma se ouers was.

“My pa het eindelik tot ander insigte gekom en dit aanvaar. Ek dink dit is omdat hy kan sien dat Graeme my goed behandel.” Sy vertel sy is baie lief vir hom. “Graeme is baie geestelik. Hy is ’n stabiele mens en ongelooflik lojaal. Ek dink my pa sal eerder wil hê dat ek by ’n ouer man is wat vir my omgee as iemand wat my sleg behandel.”

Sy vertel sy het ’n veganistiese aanlyn winkel en Graeme deel met sy goeie sakevernuf raad uit. Dit beteken egter nie dat hulle nooit vassit nie. Carly vertel sy is die “kreatiewe een” en Graeme is “old school”. Hy is baie meer konserwatief in sy manier van dink, veral oor danstegnieke.

Hulle is in Julie getroud, maar gaan volgende jaar in Maart nog ’n amptelike seremonie vir al hul vriende en familie hou.

Graeme het op navraag gesê dit gaan goed met hulle en dat dit veral Carly se “vars idees en uitkyk” is wat haar na hom aantrek. “Sy hou my jonk!”