Hans Wessles is hier in sy stranhuis in Kleinmond
Hans Wessels is hier in sy strandhuis op Kleinmond vermoor. Foto: Overstrand Herald

Die polisie ondersoek ’n saak van moord nadat Hans Wessels (71) se lyk in sy strandhuis op dié kusdorpie in die Overberg-distrik aangetref is. 

Dit het gekom nadat die polisie twee verdagtes by ’n padblokkade in Laingsburg in ’n spoggerige wit Porsche, wat aan Hans behoort het, vasgetrek het. 

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoorvoerder, het die polisie op Laingsburg die motor se nommerplaat nagespeur en bepaal dat die motor aan Hans behoort. 

“Die polisie het ’n voorlopige ondersoek gedoen en bepaal dat die motor by die vermoorde se huis op Kleinmond gesteel is.” 

Dit is nog nie bekend hoe Hans vermoor is nie.
Dit is nog nie bekend hoe Hans vermoor is nie. Foto: Overstrand Herald

Volgens Noloyiso is die Kleinmond-polisie in kennis gestel, en hulle het na Hans se huis gegaan waar hulle op sy lyk afgekom het. 

“Hy is op die toneel dood verklaar en die oorsaak van sy dood moet nog bepaal word. 

“Die twee verdagtes is in hegtenis geneem, en het Donderdag in die landdroshof in Laingsburg verskyn vir die besit van ’n gesteelde motor.” 

Hy sê die twee is nog nie aangekla vir die moord op Hans nie. “Die omstandighede rondom die moord word nog ondersoek.” 

Hans se seun, Peter, sê hulle is verpletterd oor die nuus dat hul pa vermoor is. 

“Dit maak nie vir ons sin nie. Ons het baie vrae,” sê hy vanuit Pretoria.

“Daar is baie bespiegeling, maar in hierdie stadium het ons nog geen besonderhede oor die saak nie.”

Hy sê hy weet nie of die twee verdagtes aan sy pa bekend was nie. 

“Dinge is nog baie deurmekaar, en ek moet nog Kleinmond toe gaan om my pa se lyk te gaan uitken.” 

Hy sê sy pa was ’n suksesvolle sakeman. “Hy het ’n klomp kommersiële eiendomme in Hatfield gehad en ook ’n plaas in KwaZulu-Natal. 

“Hy was ’n opregte, aangename mens en ’n groot terggees. Ons is hartgebroke en soek antwoorde.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe