“Toe my pa oorlede is, het my ma haar wil verloor,” vertel hul seun, Peet Vermaak van Oudtshoorn. “Sy wou by hom wees en ’n mens het begrip daarvoor. Ons beskik by die Here se wil.”

Boet (82) en Willa (79) het in die Millennium Park-aftreeoord op die dorp gewoon en het volgens die oord se regulasies vir vyf maande nie enige vriende of familie gesien nie. 

“Dit was baie traumaties vir hulle,” vertel Peet. “Hulle het ons gemis.”

Boet en Willa Vermaak het binne ’n week beide van
Boet het op Pongola in KwaZulu-Natal grootgeword en Willa op Merweville in die Karoo. Foto: Verskaf

Boet was ’n ingenieur wat vir baie jare in Bellville, Kaapstad, gewoon het waar hy werk vir die Stad Kaapstad gedoen het. Die paartjie het in 1996 Oudtshoorn toe getrek waar hy ook werk vir die plaaslike munisipaliteit gedoen het.

Willa het vir lank longprobleme gehad en sy is vroeg in September vanjaar in die hospitaal opgeneem. Sy het kort daarna positief getoets vir covid-19. 

“My pa moes in selfisolasie gaan en wanneer ons vir hom gaan kuier het en kos geneem het, moes ons deur die venster met hom gesels.”

Hulle het ook by Willa in die hospitaal gaan kuier, en daar moes hulle ook met haar deur die venster gesels. ’n Paar dae nadat Willa opgeneem is, het Boet begin agteruitgaan, vertel Peet.

“Ek kon sien my pa lyk nie goed nie.”

Boet en Willa Vermaak het binne ’n week beide van
Boet en Willa was verknog aan mekaar. Foto: Verskaf

Hulle het sy dokter geraadpleeg en hy is toe ook in die hospitaal opgeneem waar hy ook positief vir covid-19 getoets het. Willa was toe al ’n week in die hospitaal. Die personeel het die paartjie na dieselfde saal geskuif sodat hulle ten minste bymekaar kon wees.

“Ons het elke dag hospitaal toe gegaan en met hulle deur die venster gesels, sodat hulle ons ten minste net kon sien,” vertel Peet.

“Aanvanklik het my pa goed gelyk. Hy grappies gemaak, hy was altyd die sterker een van die twee.”

Rondom die tweede dag wat Boet in die hospitaal was, het die personeel vir Peet laat weet dat sy pa sleg slaap en in die nag baie onrustig is.

“Hy sou sommer sy suurstof in die nag uitruk. Hy het elke dag swakker geword.” 

Op Woensdag 23 September het die dokters gesê Willa kan uit die covid-eenheid geskuif word en familie kon by haar gaan kuier. Maar op dieselfde dag het Boet al hoe swakker geword en die dokters het Peet meegedeel dat die virus sy hart en brein aangetas het. 

Hy is daardie middag, drie kamers van sy geliefde vrou af, oorlede.

Boet en Willa Vermaak het binne ’n week beide van
Boet was bekend vir sy respek teenoor alle mense, vertel sy seun, en Willa vir haar ingesteldheid teenoor haar medemens. Foto: Verskaf

“Dit was baie moeilik, my ma wou die heeltyd weet wat met my pa aangaan. Ons moes haar toe vertel dat hy oorlede is. Dit was ’n geweldige skok vir haar. Hulle moes haar in ’n rolstoel bring om hom te kom groet.”

Willa is kort daarna uit die hospitaal ontslaan en is na die aftreeoord se versorgingseenheid geneem, maar omdat die oord hul eie regulasies het, kon hulle haar nie daar besoek nie. 

“Die personeel het haar baie liefdevol versorg,” sê Peet. “Saterdagaand (27 September) het hulle laat weet sy is moeg, maar hulle kyk mooi na haar. Seker ’n uur later is sy oorlede.” 

Peet vertel sy ouers was onafskeidbaar en ’n ongelooflike voorbeeld vir hulle van hoe ’n man en vrou vir mekaar moet lief wees.

“Hulle liefde vir mekaar het hulle krag gegee en hulle was daar vir mekaar in die goeie en die swaar tye. My pa het ons altyd geleer dat die liefde alles oorwin. Die liefde bedek alles. Glo alles, hoop alles, verdra alles.

“Hul nalatenskap is onsterflik.”

Boet en Willa Vermaak het binne ’n week beide van
Die paartjie het mekaar destyds op Prins Albert ontmoet waar hulle albei gewerk het. Willa was toe ’n verpleegster en Boet was ’n ingenieur wat aan die plaaslike dam help bou het. Foto: Verskaf

Boet en Willa word op Donderdag 1 Oktober gegroet met ’n gesamentlike begrafnis.

Hulle word oorleef deur hul drie seuns, Peet van Oudtshoorn, Hendrik wat in Nieu-Seeland woon en Christo van Riversdal.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe