“Daar was nie eens trane in haar oë nie, sy het eers later begin hoes en toe die polisie en ambulans gebel. Dit was ’n vreeslike gedoente,” vertel Hennie Jacobs, ’n 70-jarige prokureur van Oudtshoorn in die Klein-Karoo.

Die vrou met wie hy 24 jaar getroud was, Elmarie Jacobs (52), het na dié voorval ’n klag van aanranding teen haar vervreemde man ingedien en die afgelope week het hul rusie ook die voorblad van die gemeenskapskoerant Die Hoorn gehaal.

Sers. Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, het aan Huisgenoot bevestig dat ’n saak van aanranding ondersoek word.

“Die twee staan blykbaar op skei en was verlede week (22 Junie) in ’n woordewisseling betrokke. Elmarie beweer Hennie het haar met pepergas gespuit. Nadat sy by die hospitaal was, het sy die klag ingedien,” sê Michaels oor die voorval.

Huisgenoot het in 2008 al berig oor dié paartjie van Oudtshoorn, wat dikwels die koppe laat draai het weens hul lengteverskil. Elmarie is 1,83 m lank en Hennie, wat ’n genetiese afwyking het wat dwergisme veroorsaak, 1,1 m.

Elmarie en Hennie woon in dieselfde huis, maar in afsonderlike gedeeltes. ’n Geslote deur tussen die gedeeltes hou die twee uit mekaar se pad.

Hoewel hulle al verlede jaar van bed en tafel geskei is, is die egskeidingsbevel in Februarie vanjaar uitgereik. Hennie sê hy probeer ook ’n tussentydse bevel kry sodat hy steeds in sy gedeelte van die huis kan woon en sodat Elmarie onderhoud vir hom sal betaal aangesien hy nie meer ’n inkomste het nie.

Hennie beweer daar word dikwels by sy kant van die huis ingebreek. En toe hy verlede week die slot van sy huis se deur wou vervang, het Elmarie glo daar aangekom en hom uit die pad gestoot toe sy die deur oopmaak. Dit is net daarna dat hy haar met die pepersproei gespuit het. “Die sproei het nie eens hoër as 1,3 m getrek nie,” vertel Hennie.

Volgens Hennie sal hy en sy regspan in Julie met Elmarie en haar regspan ontmoet. “Ek wil dit net alles so gou moontlik afhandel,” het hy gesê.

Elmarie het by navraag gesê sy wil nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.