Op die foto van sy lieflingdogter wat hy op sy selfoon hou, lyk sy pragtig in haar matriekafskeidrok. Sy staan fier en regop in haar rooi satynuitrusting, haar hare in 'n elegante hoëponiestert vasgebind.

Daardie foto is net meer as ’n jaar gelede geneem toe die 18-jarige Marilizé Nortier die einde van haar skooljare aan die Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn – en die begin van haar grootmenslewe – kon vier.

Maar net twee weke ná dié spesiale afsluiting van sy enigste kind se skooldae was sy dood, en ’n jaar later wag haar pa, Morné, steeds op die antwoorde wat net een mens hom dalk kan bied.

“Dit was ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie,” sê Morné (49) oor daardie glansaand so kort voor sy kind se raaiselagtige dood. “Sy het so mooi gelyk.”

Twee weke voor Marilizé oorlede is in 'n motoronge
Twee weke voor Marilizé oorlede is in 'n motorongeluk, het sy by haar matriekafskeid in 'n elegante rooi satynrok gepryk. Foto: Verskaf

Die manier hoe sy dood is, spook sedert daardie dag, 22 September verlede jaar, by hom: Sy dogter in die passasiersitplek van ’n opgefrommelde wit BMW vasgegord en vermoedelik steeds lewend terwyl kanaalwater langs die verlate pad na die Kangogrotte buite Oudtshoorn in die motor inloop. Heeltemal alleen in haar laaste oomblikke. 

Toe die polisie sowat vyf uur ná die ongeluk in die vroeë oggendure op die toneel kom, was die bestuurder van die wit BMW skoonveld. Marilizé, steeds in die passasiersitplek vasgegord, het oënskynlik ná die ongeluk in die motorwrak verdrink.

Sedertdien bly Morné wonder: Hoekom was sy saam met die beweerde bestuurder, Sidney Berry van George, in die klein ure van die nag op daardie pad? En as hy ook daar was, hoekom het hy dan niks gedoen om haar te probeer help nie?

“Ek het kort ná die ongeluk vir Sidney Berry gebel. Hy het net gesê: ‘It was an accident.’ ”

Morné klink verslae. Hoe moet hy dan afsluiting kry as hy nie weet hoe sy “babatjie” se laaste ure ontvou het nie; hoe moet hy vrede maak met die dood van sy kosbare dogter oor wie hy toesig gehad het sedert sy egskeiding van haar ma toe Marilizé in gr. 7 was?

Maar toe kry Morné onlangs ’n WhatsApp-boodskap van die speurder wat sy dogter se saak ondersoek. Aangeheg aan die boodskap was ’n foto van die dagvaarding wat glo binnekort aan Sidney bestel sou word. Die direkteur van openbare vervolging het aangedui Sidney sal vervolg word weens strafbare manslag, alternatief roekelose of nalatige bestuur, asook die versuim om hulp te verleen ná ’n botsing.

Kort voor druktyd het kapt. Louis Visser van die Oudtshoorn-polisiekantoor bevestig hy wag op die dossier om van Kaapstad te kom alvorens Sidney aangekla kan word.

Vir Morné is dit een ligstraal in sy duisternis wat net nie wil wyk nie.

“Wat kan ek sê? Ná so lank was dit een helse verligting,” vertel hy.

“ ’n Jaar lank kon hy met sy lewe aangaan, terwyl ek hierdie hele tyd stilstaan. Ek kan nie aangaan nie, dis nog te verskriklik seer. Maar nou het ek ’n bietjie hoop. Hoop dat hy vir my antwoorde sal gee oor wat presies daardie oggend gebeur het en waarom my dogter in ’n kar was saam met hom – iemand wat sy nie geken het nie.

 “Want ek wens ek kan net hierdie boek – dis nie ’n hoofstuk nie – finaal toemaak.”

Morné saam sy dogter 'n paar maande voor haar dood
Morné saam sy dogter, Marilizé, 'n paar maande voor haar dood, by sy tweede troue. Foto: Verskaf

Agter Morné op die videoskerm pryk ’n geraamde foto van Marilizé in ’n roomkleurige rok, ’n bossie wit rose in haar hande.

Dis geneem toe Morné ’n paar maande voor haar dood weer getrou het. Hulle lyk albei stralend en trots.

Morné het jare lank klasse in wiskunde en elektrisiteit by sy dogter se skool gegee. Sy passie is radiobeheerde vliegtuie, en Marilizé het dikwels meegedoen.

Dit is kosbare oomblikke soos dié wat hy die meeste mis. 

“Haar droom was om verpleegkunde te studeer, so lief was sy daarvoor om mense te help,” vertel hy. 

“Sy het daardie vorige Junie-skoolvakansie, drie maande voor die ongeluk, by Mediclinic prakties gaan doen voor sy vanjaar verpleegkunde sou studeer. Maar sy wou ook vir haar tannie in Kanada gaan kuier en sou dalk ’n gap jaar gevat het. Ons het ’n bietjie daaroor vasgesit, maar nooit die kans gekry om klaar te praat nie."

Morné sluk eers swaar.

“Weet jy, as ek nou daaraan terugdink, is ek spyt oor al die klein dingetjies waaroor ons wel vasgesit het, want niks is so erg soos die dood nie.”

Die naweek van Marilizé se dood was Morné by die jaarlikse byeenkoms van modelvliegtuie op Oudtshoorn. Morné het vir Marilizé werk in ’n stalletjie gereël. 

“Sy’t die Donderdag daar gewerk, en ek het haar ook die Vrydag gesien. Die Saterdagoggend het sy gesê sy gaan teen die middag se kant saam met ’n vriendin na ’n eetplek toe. Die vriendin het haar met haar motor kom oplaai.

“Ons het nie geweet ons sou mekaar nooit weer sien nie.”

Daardie Saterdagmiddag kry hy ’n WhatsApp-boodskap van Marilizé dat haar ma, Suné, ingestem het dat sy die aand by die vriendin mag oorslaap. Sy het vinnig by die huis gestop om klere op te laai, maar Morné was nog by die vliegtuig-byeenkoms en nie tuis nie.

Wat daarna gebeur het, weet hy nie – maar die Sondagoggend omstreeks tienuur daag die polisie by sy huis op en vertel hom sy dogter is dood. 

“Ek was stomgeslaan toe ek hoor my kind is dood, ek was in ongeloof,” vertel hy.

Die ongeluk het glo omstreeks vieruur die oggend gebeur. 

Die wrak waarin Marilizé oorlede is. Hoewel sy vol
Die wrak waarin Marilizé oorlede is. Hoewel sy volgens die nadoodse ondersoek veelvoudige beserings opgedooen het, is sy weens verdrinking oorlede. Foto: Hannes Visser/Oudsthoorn Courant

“Hulle was op pad terug na Oudtshoorn se kant. Wat het hulle daai tyd daar buite gedoen? Daar is niks op daardie pad nie. Nie ’n kafee, garage of ’n straatlig nie,” sê Morné gefrustreerd. 

Volgens die vriendin by wie Marilizé die aand sou oornag, was hulle die aand na ’n bekende kuierplek op die dorp. Omstreeks tweeuur is sy glo in die BMW daar weg. 

“Ek het nooit gehoor dat sy van hom praat nie. Ek weet glad nie hoe ken sy hom nie,” sê Morné oor die motor se beweerde bestuurder.

Die BMW het sowat 50 m van die pad af op sy kant – die kant waar sy sit – in die waterkanaal langs die pad tot ruste gekom.

Volgens die nadoodse ondersoek het Marilizé veelvoudige beserings opgedoen, maar die oorsaak van haar dood was verdrinking. 

Die bestuurder kon uit die wrak klim en het glo sy ma, wat op George woon, gebel. Sy het hom na bewering kom haal en na die Mediclinic op George geneem. 

Plaaswerkers het die wrak omstreeks halfagt opgemerk en die polisie in kennis gestel. En eers teen negeuur is Marilizé se lewelose liggaam bevry. 

Sidney Berry (22), glo die bestuurder, wat eersdaa
Sidney Berry (22), glo die bestuurder, wat eersdaags in die hof verskyn. Morné weet nie hoe sy dogter hom geken het nie. Foto: Instagram/Sidney Berry

Haar kamer in die huis staan steeds soos sy dit die laaste keer gelos het.

 “Soms gaan sit ek daar binne, net ’n rukkie lank, en dink. Ek dink aan my kind se laaste oomblikke. Hoe lank was my dogter alleen in die kar voor sy verdrink het? Hoekom het hy haar nie losgemaak en gered nie? Wie is hy, waarom was hulle daardie tyd op daardie verlate pad?”

Die pyn laat weer sy keel toetrek, maar hy beur dapper voort. Sedert daardie een oproep het hy geen sout of water van Sidney of sy familie gehoor nie.

“Ek is bly hy gaan eindelik in die hof verskyn om antwoorde te gee. Dalk sal my lewe dan kan voortgaan, wie weet?

“Is ek kwaad vir hom? Ja. Verwyt ek hom vir my kind se dood? Verseker.

Maar die dag sal kom dat dié pa hom in die oë sal kyk.” 

  • Sidney se ma het aan Huisgenoot gesê nie sy of haar seun gaan kommentaar lewer of oor die ongeluk praat nie. Sidney se prokureur, Jerome Bans, sê by navraag die ondersoek word nog afgehandel en hulle wag vir die dossier om aan die staatsaanklaer in Oudtshoorn oorhandig te word. “Ons is deur die ondersoekbeampte in kennis gestel dat mnr. Berry binnekort gedagvaar gaan word om in die hof te verskyn. Mnr. Berry gee sy volle samewerking aan die ondersoekbeampte.”
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe