Twee weke voor Marilizé oorlede is in 'n motoronge
Twee weke voor Marilizé se dood het sy op haar matriekafskeid in 'n elegante rooi satynrok gepryk. Foto: Verskaf

“Hopelik sal die antwoorde nou in die hof uitkom.”

Net twee weke ná sy 18-jarige lieflingdogter, Marilizé Nortier, se matriekafskeid op 22 September 2019 is sy dood.

Dit was die einde van haar skooljare aan die Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn – en die begin van haar grootmenslewe.

“Ons was meer as pa en dogter. Ons het alles saam gedoen. Toe ek geskei is van haar ma, het sy besluit om by my te kom bly, al is ek iemand wat baie streng is."

Morné saam sy dogter 'n paar maande voor haar dood
Morné saam sy dogter, Marilizé, 'n paar maande voor haar dood. Foto: Verskaf

Morné wag op antwoorde oor die dag toe sy dogter in ’n motorwrak verdrink het.

Die manier hoe sy dood is, spook by hom: sy dogter in die passasiersitplek van ’n opgefrommelde wit BMW vasgegord, vermoedelik steeds lewend terwyl die kanaalwater langs die verlate pad na die Kangogrotte buite Oudtshoorn in die motor inloop.

Heeltemal alleen in haar laaste oomblikke.

Die wrak waarin Marilizé oorlede is. Hoewel sy vol
Die wrak waarin Marilizé dood is. Hoewel sy veelvoudige beserings opgedooen het, is sy weens verdrinking dood. Foto: Hannes Visser/Oudsthoorn Courant

“Ek weet nie hoe sy daar beland het nie,” vertel Morné (51). “Daarom wil ek nou net hê die saak moet sy verloop in die hof hê.”

Weens covid is die saak elke keer uitgestel wanneer hy by die streekhof op Oudtshoorn opdaag. Nou is daar ’n datum: 10 September.

Die Hoorn, 'n plaaslike koerant op Oudtshoorn, het berig Sidney Berry (24) word vir strafbare manslag, nalatige bestuur en versium om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen ná ’n botsing vervolg.

“Die staat moet ’n sterk saak hê,” sê Morné hoopvol. “Twee jaar is te lank. Ek wil vir my dogter geregtigheid kry en met my lewe probeer aangaan.

“ 'n Mens kom nooit oor die dood van jou kind nie. Veral nie met soveel vrae nie,” vertel hy. “Dis ’n pyn wat jy vir niemand kan beskryf as jy nie self deur so iets gegaan het nie."

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe