Jaco Kruger is Maandag op sy familie se plaas op Cullinan begrawe. Die ongeluk het verlede Maandag gebeur.

Trudie Kruger, Jaco se stiefouma, het Dinsdag, die dag nadat sy van haar lewenslustige kleinseun moes afskeid neem, aan Huisgenoot vertel sy ouers is steeds verskriklik hartseer. 

“Hulle was bitter lief vir Jaco en hulle sukkel nog om tot verhaal te kom. Sy jonger boetie verstaan nog nie dat Jaco weg is nie. Ons almal is hartgebroke oor sy dood,” het Trudie hartseer vertel.

Sy vertel Jaco het Maandag 8 Maart saam met sy ma, Aletta, en boetie, Frikkie (7), na die winkel om die draai van hul huis gestap, toe Jaco van sy ma wegbreek en oor die pad hardloop. 

“Dit het alles so vinnig gebeur. Sy ma het nog probeer om Jaco te keer, maar dit was te laat.”

Volgens haar het die vragmotor nie vinnig gery nie, maar kon nie gou genoeg rem nie.

Dit het Jaco getref. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en sy bobeen gebreek.

Jaco is per lugambulans na die privaat Sunshine-hospitaal in Benoni geneem. Hy is die volgende dag in die hospitaal oorlede. 

Trudie beskryf Jaco as ’n lewenslustige seuntjie wat in almal se harte ingekruip het. 

“Hy was mal oor Spider-Man en sy pa het hom sy Spider-Man genoem. Hy was altyd vriendelik en het ’n kleurryke persoonlikheid gehad. Dit was moeilik om nie van hom te hou nie.” 

’n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek, maar volgens Trudie koester sy ouers geen kwade gevoelens teenoor die vragmotorbestuurder nie. 

“Hulle het hom vergewe en aanvaar dat dit ’n ongeluk was.” 

Intussen het inwoners en Jaco se familie ’n petisie begin om spoedhobbels in die besige straat aan te bring waar Jaco raakgery is. 

“Daar is al voorheen mense in Ermelostraat raakgery. Ons wil keer dat so iets weer gebeur. Ons wil keer dat nog mense deur sulke hartseer moet gaan,” vertel Trudie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe