Hulle is borrelende, bedrywige tweelingmeisies wat graag saam met hul ouer broers en wollerige hond speel – en hul trotse ma en pa wil hulle opvreet.

Vir baie ouers sou dit traumaties gewees het om uit te vind daar is ’n groot kans dat hul tweelingbabas met downsindroom gebore sal word, maar vir Rachael en Cody Prescott het dit regtig nie saak gemaak nie.

Al het dokters Rachael aangemoedig om toetse te ondergaan om te bevestig of haar dogters die genetiese toestand het, het sy geweier.

Vir haar en Cody het dit geen verskil gemaak nie. “Ons was nie gepla oor die moontlikheid van downsindroom nie,” sê sy. “Ons het geweet ons sou in elk geval vir ons dogters lief wees.”

Lottie en Nettie Prescott se ma, Rachael, het ’n Instagram- blad geskep waar sy met haar dogter­tjies spog. Foto: Instagram/@Doubledownmom

En toe Charlotte en Annette in Februarie 2018 gebore is en trisomie 21, oftewel downsindroom, by albei gediagnoseer is, was die egpaar van Oregon in Amerika oombliklik smoorverlief op hul tweeling.

Op 18 maande is die meisies nou bondeltjies energie.

“Lottie (Charlotte) is oplettend en leer vinnig kommunikasie aan, terwyl Nettie (Annette) met liggaamlike ontwikkeling voorloop, in ons leefvertrek rondwoel en self staan,” vertel Rachael (29), ’n tuisblyma. In ’n poging om mense se sienswyse oor downsindroom te verander, deel Rachael haar gesin se verhaal met die meer as 61 000 mense wat haar op Instagram volg by @doublingdownmom.

Die tweeling en die gesin se hond, Baymax. Foto: Instagram/@Doubledownmom

“Ons is dol oor elke oomblik saam met ons dogters, en hulle is die lig in ons lewe,” sê sy. “Daar is geen rede om downsindroom te vrees nie; net redes om dit te vier. Die enigste moeilike deel van kinders met dié sindroom grootmaak, is dat die res van die wêreld nog die skoonheid en vreugde moet verstaan wat hulle uitstraal.”

Rachael en haar man voel so sterk daaroor om hul boodskap van aanvaarding te versprei, hulle het selfs eenderse tatoes gekry.

Die velkuns bestaan uit drie pyle om hul dogters se toestand te verteenwoordig – die meeste kinders word met twee kopieë van chromosoom 21 gebore, maar mense met downsindroom word met drie gebore.

Die egpaar sê die kinders bring hulle baie vreugde. Foto: Instagram/@Doubledownmom

Dit verstom haar dat swanger vroue dikwels kies om ’n aborsie te ondergaan eerder as om ’n toekoms te trotseer waarin jy ’n downsindroomkind grootmaak.

“Daar is negatiewe stigmas en dit is hoekom ons ons storie deel,” sê sy. “Die samelewing moet ophou om mense met downsindroom te wil uitwis. Daar moet ’n verskuiwing plaasvind: Downsindroomkinders moet leer hulle kan net soveel liefde en dieselfde begeerte hê om voluit te leef as enigiemand anders.”

In 2017 was Cody (32) veronderstel om ’n vasektomie te ondergaan, maar hy en Rachael het besluit om dit uit te stel.

Hulle wou graag vir nog ’n baba probeer met die hoop om vir hul seuns, Easton (nou 5) en Hudson (3), ’n sussie te kon gee.

Saam met hul broers, Hudson (links) en Easton. Foto: Instagram/@Doubledownmom

Toe Rachael swanger raak, het sy op 15 weke van die swangerskap uitgevind daar is ’n tweeling op pad.

Al het die dokters later gemaan daar was ’n 50%-kans dat hul babas met downsindroom gebore sou word, het die ouerpaar gekies om nie die indringende toetse te ondergaan om uit te vind of hul ongebore babas die genetiese toestand het nie.

“Ons het wel hul geslag uitgevind,” sê Rachael. “Ons was net te opgewonde om nie uit te vind nie.”

Hulle was in die wolke toe hulle hoor hulle gaan die ouers van twee dogters word. Nadat Lottie en Nettie op 35 weke gebore is, het ’n verleegster kom bevestig die meisies het downsindroom.

Rachael sê sy het nooit ’n aborsie oorweeg toe sy uitgevind het die babas het dalk downsindroom nie. Foto: Instagram/@Doubledownmom

“My antwoord was: ‘Regtig?! Hoera!’ ” sê Rachael. “Ek het eintlik nie my eie reaksie onthou nie, maar sy het my later besoek om vir my te sê ek het dit gesê. Sy’t vertel dit was vir haar ’n groot verligting om ons geluk te sien, want dit was nie wat sy verwag het nie.”

Die Prescott-egpaar was veel meer besorg daaroor dat hartprobleme by albei meisies gediagnoseer is en dat hulle dadelik na die waakeenheid geneem moes word. Nettie het ’n atriale septale defek gehad – ’n gaatjie in die wand tussen die twee boonste hartkamers.

‘Downsindroom is nie ’n defek nie – dis ’n seën’

Gelukkig het dit self toegegroei nadat sy gebore is. Maar haar sussie se harttoestand was veel ernstiger.

Lottie het atrioventrikulêre septale defek gehad, wat bloedvloei aantas. Sy sou twee hartoperasies nodig hê om ’n opening te verseël tussen die twee groot bloedvate wat van die hart af lei.

Die tweeling was 47 dae in die hospitaal voor die dokters gesê het hulle mag huis toe gaan. Maar Lottie moes teruggaan toe sy vier maande oud was om die prosedure te ondergaan om die lekplek in haar hart te herstel.

Lottie is met ’n ernstige hartdeffek gebore en moes twee operasies ondergaan. Foto: Instagram/@Doubledownmom

Vir die Prescotts het dit soos déjà vu gevoel.

Hulle het iets soortgelyks met Hudson beleef toe hy twee was en chirurgie moes kry om ’n hartklepdefek reg te stel. “Ons ervaring met hom was stresvol, maar dit was toe eintlik nuttig, want dit het ons ietwat vir Lottie se operasie voorberei, wat ’n heel ander monster was,” sê Rachael.

Nadat sy die prosedure ondergaan het, het sy baie probleme ondervind, onder meer bakteriële en virale siektes, orgaanskade, ’n platgevalde long en pulmonêre hipertensie. Vir 35 dae het haar ouers by haar hospitaalbed gewaak, maar Lottie het oorleef.

“Ons was verheug om ons baba huis toe te vat,” sê Rachael. Net meer as ’n jaar later is die meisies nou net so aktief soos enige ander baba. Hulle kruip rond, verken hul wêreld en maak ’n gemors.

Ná alles wat sy deurgemaak het, het Rachael hierdie raad vir ander ouers wat kinders met downsindroom het: “Klou altyd vas aan hoop en vreugde, dwarsdeur enige mediese hindernisse wat julle te bowe moet kom,” sê sy.

“Vier jou kinders. Moet nooit huiwer om hul waarde te verklaar en vir die res van die wêreld te wys downsindroom is nie ’n defek nie – dis ’n seën.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.