Dis die ergste soort hel; een wat net ’n ouerhart kan verstaan, vertel Giani Hendricks (47) Woensdag aan Huisgenoot. 

Want om sy seun, Giovanni, dag na dag magteloos in ’n hospitaalbed in die hoësorgeenheid van die Kalafong-hospitaal, wes van Pretoria, te sien lê en niks daaraan te kan doen nie, breek ’n ouer se hart.

Giovanni se storie gryp wêreldwyd harte aan, en Giani en sy vrou, Elize (39), vertel hulle word daagliks van heinde en ver gekontak met boodskappe van gebed en bemoediging.

Die hoërskoolseun het op 25 Februarie tuisgekom en by Elize gekla oor ’n krapperige keel. Hy het sowat agt jaar gelede aan Guillain-Barré-sindroom gely, en was oortuig dat dié siekte, wat ’n persoon se senuweestelsel aanval, hom weer plattrek.

Giovanni
Giovanni in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Ek was nog by die werk, maar Elize vertel hy was baie huilerig omdat hy kort daarna ook nie meer kon sluk nie. Hy was bang die siekte het teruggekeer. Sy ma het hom probeer gerusstel, en vir hom gesê hy moet 'n bietjie gaan lê.

“Sy het die Bybel en die salfolie gaan haal en vir hom gebid. Maar later daardie aand, toe ek tuis kom, het dit nog slegter met hom gegaan.”

Destyds, toe Giovanni met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is, is hy elf dae lank gehospitaliseer, maar hy het volkome herstel.

Hierdie keer het dieselfde simptome teruggekeer: Hy kon later daardie aand nie meer praat nie en glad nie meer sluk nie.

“Ons het hom na die Pretoria-Wes-hospitaal geneem. Die dokters was oortuig die simptome lyk na iets wat te doen het met dwelms, maar hy het negatief daarvoor getoets. Toe dink hulle hy het sommer net ’n sterk griep wat sy spiere aantas, en hulle het ons met pynmedikasie huis toe gestuur,” vertel hy.

Maar op die oggend van 26 Februarie was Giovanni heeltemal verlam – hy kon nog net sy ooglede beweeg. 

“Ons het die ambulans ontbied wat hom na die Pretoria-Wes-hospitaal teruggeneem het. Die spesialis het vir ’n oorplasing na Kalafong gevra, maar omdat ons lank vir die ambulans gewag het, het hulle Giovanni in ongevalle aan ’n asemhalingsmasjiene gekoppel.

Giovanni
Giovanni voor die onlangse voorval. Foto: Verskaf

“’n Mens kan nie vir iemand beskryf wat deur jou kop gaan nie . . . Jy is bang; nee, vreesbevange. Jy wil nie jou kind so sien nie.”

Hy is later daardie dag na die Kalafong-hospitaal oorgeplaas waar hy vandag steeds in die hoësorgeenheid is. Hy het in die twee weke sedert hy aanvanklik in die hospitaal opgeneem is ook die gebruik van sy ooglede verloor, maar hy het dit intussen weer herwin. Hy is steeds aan die asemhalingsmasjien gekoppel en moet deur ’n voedingspyp gevoer word.

Op die oomblik is die ergste vir Giani dat die dokters nog glad nie weet presies wat Giovanni makeer nie.

Die moontlikheid dat dit wel weer Guillain-Barré-sindroom kan wees, word nie uitgeskakel nie, maar verdere toetse is nou eers nodig om dit te bepaal.

“Ek het net lof vir die dokters en hospitaalpersoneel. Hulle kyk ongelooflik mooi na Giovanni. Maar ek kan nie jok nie; dis nie ’n maklike pad nie. Elke dag kry ons van oor die land heen boodskappe van mense wat sê: ‘Het julle hiervoor getoets’, of ‘Kyk ook na hierdie opsies’.

Giovanni
Giovanni het voorheen uitgeblink op die sportveld. Foto: Verskaf

“Elke keer word 'n mens van voor af opgewonde; jy hoop dis die antwoord. Maar dokters verseker ons hulle toetse is volledig – en dat daar in hierdie stadium nog nie vir ons antwoorde is nie.”

Vir nou gaan dokters nog tot einde vandeesweek wag om te sien hoe Giovanni op die nuwe medikasie reageer. Daarna beoog hulle om nog verdere bloedtoetse na ’n laboratorium te stuur vir ontleding. 

Giani sê hy en Elize, en hulle jonger seun, Elandré (13), klou nou vas aan hul geloof in een van die moeilikste tye van hul lewe.

“Ja, dis ongelooflik frustrerend om te dink dink jou kind lê in daardie hospitaalbed en jy as ouer is magteloos. Maar die Here hou Sy hand oor my kind. Ons bid en ons hoop – en weet daar sal vir ons uitkoms wees.”