Soos enige woelige eenjarige klouter sy op haar ma se skoot, haar kop ’n stralekrans van donker krulle en haar handjies reg om enigiets vas te gryp wat sy kan bykom.

Maar Hope Daniels is nie net enige lewenslustige meisietjie nie, en die viering van haar eerste verjaardag is meer as net ’n vreugdevolle geleentheid – vir haar ouers is dit ’n wonderwerk.

Sy was een van die kleinste mikro-premature babas wat al in Suid-Afrika gebore is. Dié term word gebruik vir babas van minder as 800 g of wat ná ’n swangerskap van minder as 26 weke gebore word.

'In die dokter se handpalm'

In die hospitaal net ná haar ­geboorte. Foto versk
In die hospitaal net ná haar ­geboorte. Foto verskaf

Toe sy op net 24 weke haar opwagting maak, het sy ’n brose 300 g geweeg. Sy was so klein dat sy in die dokter se handpalm kon pas, vertel haar ma, Dorianne Daniels (36).

Dit was ’n blye dag vir Dorianne en haar man, Lesley (39), wat 10 jaar lank gesukkel het om swanger te raak. Hulle het so te sê alle hoop op ’n eie bondeltjie vreugde laat vaar voor Dorianne uitgevind het sy verwag.

Tydens haar swangerskap en ook met Hope se geboorte moes hulle vele struikelblokke oorkom, en boonop het Hope se lewe in die eerste paar maande aan ’n draadjie gehang. Maar verlede maand kon sy eindelik haar mylpaalverjaardag met mening vier.

Die ster

Hope se lewe het die eerste nege maande aan ’n dra
Hope se lewe het die eerste nege maande aan ’n draadjie gehang, maar nou gaan dit “piekfyn“, sê haar ma, Dorianne Daniels. Foto: Misha Jordaan

Die Netcare Kuilsrivier-hospitaal naby Kaapstad, waar Hope die eerste nege maande van haar lewe deurgebring het, het hier vir hul wonderbaba ’n partytjie gehou. In ’n vertrek fees­telik met pienk skoenlappers versier, was sy die ster van die vertoning.

Terwyl familielede en van die dokters en verpleegsters wat haar versorg het om haar oe en aa, was die vrolike prentjie ligjare verwyder van die kommer en hartseer wat die ouerpaar van Blackheath in die Kaap die afgelope jaar deurgemaak het.

Meer as een keer moes hulle hulle daarop voorberei om afskeid te neem van die eerste­ling op wie se koms hulle so lank gewag en gehoop het.

“Maar sy’s nou piekfyn,” sê Dorianne terwyl sy liefdevol na haar kosbare kleinding kyk.

“En sy veg steeds.”

'n Moeilike pad agter die rug

Toe die Daniels-egpaar 11 jaar gelede getroud is, was hulle gretig om met ’n gesin te begin, maar die ooievaar het weggebly.

Polisistiese ovariale sin­droom is later by Dorianne gediagnoseer, ’n hormonale afwyking wat vrugbaarheid beïnvloed. Daarby ly sy aan diabetes en hoë bloeddruk en gebruik medikasie vir albei toestande.

Tog het sy en Lesley bly hoop hulle sal eendag ’n dogtertjie hê. Hulle het selfs besluit hulle sal haar Hope Grace noem.

Teen 2017 het Dorianne besluit genoeg is genoeg. Sy het nie meer kans gesien vir die bitter teleurstelling wanneer nog ’n maand verby is waarin hulle vergeefs probeer het om swanger te raak nie.

Hulle sou daarmee moes vrede maak dat ouerskap nie vir hulle beskore is nie.

Swangerskapskok ná 'n dekade

Dorianne en haar man, Lesley, wil bo alles hê Hope
Dorianne en haar man, Lesley, wil bo alles hê Hope moet ’n normale, gelukkige en gesonde lewe lei. Foto: Misha Jordaan

Later daardie jaar het sy nog ’n terugslag beleef toe sy Bell se paralise ontwikkel, ’n tydelike toestand wat die spiere aan die een kant van die gesig laat verslap of verlam en meer dikwels by diabetes­lyers voorkom.

Toe sy kort daarna met naarheid begin sukkel, het sy gedink dit is maar deel van haar gesondheidsprobleme.

Net om seker te maak het sy twee tuisswangerskapstoetse gedoen, maar albei was negatief. Kort daarna, in ­Januarie verlede jaar, het sy vir ’n dok­ters­ondersoek gegaan waar ’n ver­ras­sing op haar gewag het.

“Hy het gesê ek is agt weke swanger,” vertel sy.

“Dit was ’n algehele skok, want 10 jaar lank was die antwoord altyd nee, en nou eindelik was dit sommer uit die bloute positief.”

Met haar en Lesley se eerste besoek aan ’n ginekoloog ’n week later het hulle gehoor sy is eintlik al ’n bietjie meer as drie maande swanger.

Dorianne het verwag die skandering sou “net ’n kolletjie” wys, maar pleks daarvan kon sy ’n “werklike baba” op die skerm uitmaak.

“Sy was groter as wat ek verwag het,” vertel sy.

Die swangerskap was stresvol, want haar bloeddruk moes noukeurig ge­monitor word.

Slegte nuus

Negentien weke voor Hope se verwagte geboortedatum is Dorianne in die hospitaal opgeneem omdat haar bloeddruk gevaarlik hoog was en sy pre-­eklampsie ontwikkel het.

Die dokters het vir Dorianne gesê sy sou daar moes bly tot sy kraam. Dit was net te riskant om haar huis toe te stuur.

Die egpaar was verslae.

“Ons het gedink dit sou ’n maklike swangerskap wees,” onthou Lesley, ’n inktegnikus.

Nog slegte nuus het gekom toe dit blyk die baba groei nie na wense nie.

Toe Dorianne 23 weke swanger was, was die dokters so bekommerd oor haar gesondheid en haar ongebore baba wat nie genoeg groei nie dat hulle die egpaar aangeraai het om die swangerskap te beëindig.

Maar hulle was nie bereid om sonder meer tou op te gooi nie.

“Ek en my man het 10 jaar lank vir dié kind gebid,” sê Dorianne.

“As daar enige kans was dat sy dit sou haal, sou ons dit waag.”

Vreugde van korte duur

'Sedert die eerste dag veg sy en sy sal bly veg,'
'Sedert die eerste dag veg sy en sy sal bly veg,' sê haar ma. Foto: Misha Jordaan

Sy was nog net 24 weke swanger toe sy op 19 Maart verlede jaar ’n nood­keisersnee moes ondergaan.

’n Halfuur later het baba Hope Grace Daniels – die hele 300 g van haar – die wêreld binnegekom.

Maar haar ouers se vreugde was van korte duur. Met onderontwikkelde organe en ’n geskeurde derm was haar kans om te oorleef bitter skraal. Die dokters het die nuwe ouers gewaarsku om die ergste te verwag.

Hope is in die neonatale waakeenheid opgeneem. In die eerste week het die piepklein mensie se gewig tot net 265 g gedaal.

Op twee maande het sy ’n infeksie in haar ingewande ontwikkel en moes sy ’n noodoperasie ondergaan. Weer moes haar ouers aanhoor dat hulle hulle op die ergste moet voorberei, maar weer het die klein vegtertjie oorleef.

Sy was al nege maande oud toe sy eindelik uit die hospitaal ontslaan is – net betyds vir Kersfees.

Waar daar lewe is, is daar hoop

Baba Hope haal deesdae flink haar agterstand in wat haar gewig betref. Sy weeg nou 7 kg, net 2 kg minder as die gemiddelde gewig van ’n eenjarige.

Maar wat haar ontwikkeling betref, kan dit nog tussen 18 maande en twee jaar duur om dieselfde vlak te bereik as ander kinders van haar ouderdom, meen die medici.

Om haar daarmee te help gaan sy weekliks vir twee sessies arbeids­terapie en een sessie fisioterapie. Sy ontvang gereeld spraakterapie, want sy het nog nie woorde begin vorm nie. Sy moet ook dikwels vir ondersoeke hospitaal toe gaan.

Haar mediese koste is ’n groot las vir haar ouers, veral omdat Lesley nou die enigste broodwinner is. Dorianne moes uit haar werk as grootboekklerk by ’n supermark bedank om haar dogter voltyds te versorg.

Ook emosioneel eis dit sy tol van die ouerpaar.

“Dis ’n wipwarit,” sê Dorianne oor die eerste jaar van ouerskap.

“Party dae is wonderlik; ander nie so wonderlik nie. Hope se toestand wissel van regtig goed tot waar sy met ’n suurstofmasker moet asemhaal.”

Maar waar daar lewe is, is daar hoop. Lesley en Dorianne het nie verniet besluit om hul kindjie Hope te noem in ’n tyd toe ouerskap vir hulle na ’n onmoontlike droom gelyk het nie. Nou bly hulle hoopvol dat klein Hope ’n normale lewe sal kan lei.

“Sedert die eerste dag veg sy en sy sal bly veg,” sê haar ma.

“Sy’s my wonderbaba.”   

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.