Ninow word daarvan aangekla dat hy op 22 September verlede jaar ’n 7-jarige meisie in die damesbadkamer van ’n Dros-restaurant verkrag het, en het Maandag in die Noord Gautengse hooggeregshof verskyn.

Hy is aanvanklik van verkragting, ontvoering, die besit van dwelms, aanranding met die doel om ernstige leed te beseer en regsverydeling aangekla. 'n Gewysigde klagstaat het daarop gedui dat hy die dogtertjie twee keer verkrag het.

Die staatsaanklaer Dorah Ngobeni het die klagte voorgelees en aangedui dat die klag van ontvoering teen Ninow teruggetrek is. (Herman Alberts verskyn vir Ninow).

Ninow ontken skuld op ’n verdere klag van aanranding.


Bykomende bronne: news24.com, enca.com, thesouthafrican.com

Ouers van vermeende Dros-verkragter se eks maak oop — Cyril Blackburn (Huisgenoot, 7 Maart 2019)
Huisgenoot het in Maart vanjaar eksklusief met die ouers van Nicholas se eksverloofde gesels oor haar stryd.

Sy het dieselfde drome as baie ander jong vroue gehad: van ’n man met wie sy haar lewe deel; ’n liefdevolle pa vir haar baba; ’n huis gevul met kinderlaggies. Maar dis alles in ’n oogwenk verpletter.

Dis hartverskeurend, sê Berta Wessels* in die woonstelletjie in die ooste van Pretoria waar die bababottels in ’n netjiese ry op die kombuistoonbank staan. Berta is die ma van Mariaan*, die jong eksverloofde van die vermeende Drosverkragter, Nicholas Ninow (21).

Haar dogter (20) se lewe is nou ’n nimmereindigende nagmerrie, haar gemoed vol afgryse oor die beweerde dade van die pa van haar twee maande oue baba. Sy sien nog nie kans vir die kollig nie; daarom praat haar ma en pa, Johan (51)*, vandag namens haar.

Dros
Die skokbewerings van die pa van hul kleinkind het hul dogter verpletter, sê haar ouers. Foto: Lubabalo Lesolle.

Die toe nog hoogswanger Mariaan en Nicholas het glo heftig rusie gemaak oor sy drinkery – hy het glo ’n paar honderd rand bedoel vir brood en melk uitgedrink – die aand voor hy op Saterdagoggend 22 September verlede jaar by die woonstel uit is.

Hy was betraand en in sy werkklere – glo om te gaan werk. Skuins ná sesuur daardie aand het die telefoon in die woonstel gelui. In haar drome hoor Mariaan steeds die polisiebeampte se stem in haar oor: “Ken jy vir Nicholas Ninow? Hy het ’n afgryslike ding aangevang – ’n ongelooflik afgryslike ding . . .”

Mariaan, toe ses maande swanger, het lam geword van skok. Maar eers later het sy gehoor die pa van haar baba het na bewering ’n sewejarige dogtertjie in die toilethokkie van die Drosrestaurant in Silverton, Pretoria, verkrag.

Dros
Op die oog af het Nicholas en Mariaan na ’n doodnormale, gelukkige paartjie gelyk – maar nou word hy beskuldig van ’n afgryslike daad teen ’n kind. Foto: Verskaf.

“Mariaan het daardie aand in duisend stukke gebreek. Sy het totaal geknak,” sê pa Johan. Tog was die liefde aanvanklik steeds blind, sê ma Berta en klink verbitterd. Want selfs ná die voorval het haar dogter nog gereeld vir die verhoorafwagtende Nicholas in Pretoria se Kgosi Mampuru II-gevangenis gaan kuier.

Ná die geboorte van haar seuntjie in Desember verlede jaar het sy selfs vir hom gaan kuier in die Weskoppieshospitaal, waar hy psigiatriese evaluasie ondergaan het. Die frisgeboude Johan se gemoed skiet vol.

“Ons was oortuig ons het ons dogter verloor. Want hoe glo ’n mens so ’n gruwelike daad deur die mens vir wie jy die liefste is? Van die man wat binne weke self ’n pa sou word? Sy kon nie – jou brein, jou liggaam, jou menswees baklei daarteen. Jy weet hierdie nagmerrie gaan waarskynlik nooit verby wees nie . . .”

Foto: Lubabalo Lesolle.

Berta voeg by: “Sy wou so graag in sy onskuld glo, dié man wat dan beloof het hy is lief vir haar. . . Sy wou glo dat liefde eindelik sal seëvier. Wat sê jy vir jou kind wanneer sy huilend vra wanneer hierdie nagmerrie gaan einde kry; of sy ooit weer gelukkig sal wees?”

Die ouerpaar is eers stil. Dan sê Johan: “Ons kan nie. Want die waarheid is ons weet self nie.”

‘Sy wou so graag in sy onskuld glo, dié man wat dan beloof het hy is lief vir haar’

In die karig gemeubileerde woonstel is oral tekens van ’n nuwe lewetjie: ’n babawiegie in die sitkamer, ’n hempie op die rusbank, babadoeke in die gastekamer. Maar vandag terwyl Huisgenoot met haar ouers praat, is ma en baba elders.

Haar dogter het Nicholas in 2016 ontmoet by die huis van ’n gemeenskaplike vriendin, vertel Berta. Sy was net 16 jaar oud. Twee weke lank het sy en Nicholas gekuier voor sy op ’n dag gesê het: “Mamma, ek het ’n oulike outjie ontmoet.”

Dros
Foto: Lubabalo Lesolle.

Twee maande later het Mariaan hom een aand huis toe gebring om haar ouers te ontmoet. “Nicholas was sjarmant; ’n aantreklike man. Hy het goeie maniere gehad en ons kon sien hy maak haar gelukkig,” sê Berta.

“Ek sal nooit vergeet wat hy daardie aand gesê het nie,” sê Johan. “Hy het ons in die oë gekyk en gesê: ‘Julle is sulke maklike mense; julle veroordeel niemand.’

“Ek het vir hom gesê dit vat g’n moeite om so te wees nie; dis ons manier van leef. Maar daardie woorde van hom het lank met ons gebly. Dae en weke later het ek en Berta vir mekaar gesê hy het daardie opmerking gemaak so asof hy oordeel goed ken, maar waaroor hy veroordeel is, het ons later eers uitgevind.”

Tog sê Berta: “So sjarmant soos hy was, het ons altyd gevoel daar is iets donkers aan hom wat ons nie kon plaas nie . . . Maar ons wou in hom glo vir Mariaan.” Johan se stem breek toe hy vertel oor die moeilike jare wat sy dogter nog voor haar ontmoeting met Nicholas beleef het.

‘Dis veronderstel om die gelukkigste tyd van haar lewe te wees. Sy word ’n ma; ons word oupa en ouma’

“Ons het baie swaar getrek; daar was nie geld nie. In ’n stadium het ons oorweeg om Mariaan uit die skool te haal, om vir haar tuisonderrig te gee tot dit weer beter gaan. Maar Nicholas se familie het gekeer. Hulle het haar ingeneem en gesê hulle sal na haar omsien tot ons weer op ons voete is.”

Hy druk ’n gebalde vuis teen sy bewende lippe. “Jy weet nie wat dit aan ’n ouer doen nie. Om nie vir jou kind te kan sorg nie, om haar in iemand anders se sorg oor te laat. Dit breek jou.

“Maar ons het vir haar ’n beter lewe gegun; ons móés ons trots sluk.”

Dros
Foto: Verskaf.

In Desember 2016 het die ouerpaar ’n ander, ontstellende kant van Nicholas leer ken – sy stryd teen dwelms. “Nicholas het ons vertel hy het ’n baie moeilike lewe gehad. Sy ma was swanger op 16 en hy het sy pa vir die grootste deel van sy lewe nie geken nie. Op 14 het Nicholas glo dwelms begin gebruik – dis hoekom hy by sy ouma gaan bly het. Sy het hom probeer help, maar ou gewoontes het elke nou en dan weer opgeduik.”

Berta vertel Nicholas het slegs teenoor hulle gebieg omdat hy besig was om weer verslaaf te raak. “Mariaan was doodbang vir wat haar pa sou doen as ons self moes uitvind,” vertel Berta.

“Sy familie het ons oortuig hy kry rehabilitasie; dat hy oukei sou wees. Ons het vir Mariaan gesê hoe bekommerd ons is, maar sy wou niks weet nie,” gaan Johan voort.

In Julie 2017, nadat Nicholas weer in sy dwelmgewoonte verval het, het sy eie familie hom egter die rug toegekeer. “Mariaan was erg ontsteld. Hulle het gebel en gevra of hulle hier kan woon omdat hulle nie meer by sy familie welkom is nie. Ons het gesê hulle mag, maar net as die dwelms en drank end kry,” sê Berta.

Die ouerpaar vertel dit het egter nie. Johan het sy dogter se kêrel glo onder sy eie dak met dwelms betrap. “Mariaan het vir Nicholas gesê as hy nie ophou nie, is daar geen toekoms vir hulle nie. Maar sy was naïef. Sy het elke keer geglo dis die laaste keer; dat hy sal verander as sy by hom staan . . . Dis hoe jong liefde maar is.”

Berta beaam die waarskuwings het op dowe ore geval. “Ek het vir haar gesê sy gaan vir die res van sy lewe sy ma wees, oor sy skouer loer en hom dophou. Maar Mariaan het elke keer briesend kwaad geword. Sy sou sê: ‘Julle is verkeerd; ek wéét hy kan verander, en hy sal.’

“Maar hy het nie. Hy het toe nooit verander nie.”

Dros
Foto: Verskaf.

In Mei verlede jaar, nadat Nicholas met sy familie versoen en weer saam met Mariaan by hulle ingetrek het, kom die nuus: Mariaan is swanger. “Vrees het oor ons gespoel,” onthou Johan. “Daar was ’n mate van hartseer; ook ’n skoot vreugde. Maar eintlik was ons net vreesbevange oor die toekoms.

Dat sy nou ’n kind gaan hê, is feite, maar dit sou waarskynlik beteken sy gaan aan hom gebind wees. Dit het ons bang gemaak.” Dan sê Berta: “Sy is ons kind, en die baba wat sy verwag het, was ons kleinkind. Ons moes dit aanvaar en saam met haar opgewonde wees, selfs al was ons smoorkwaad.”

Van een ding het Mariaan hulle gedurig verseker: Nicholas het nooit ’n hand vir haar gelig nie. “Ja, stry en soms lelik praat, maar vandag sê sy steeds hy het haar nooit fisiek seergemaak nie,” sê Johan.

Ná die nuus oor die swangerskap het Nicholas glo ’n poging aangewend om te verander en die stories oor drank en dwelms het opgehou, sê die ouerpaar. Tot ’n week voor die beweerde verkragting in die Dros in Silverton.

“Mariaan en Nicholas was alleen tuis omdat sy ouma in die Kaap was. Nicholas het die Woensdag (19 September) nie gaan werk nie,” vertel Berta. “Die Donderdag was hy besope by die huis. Dit het ons eers later uitgevind, want Mariaan het geweet haar pa sou haar gaan haal as sy ons vertel.

Dros
Foto: Lubabalo Lesolle.

“Vrydagmiddag het hy weer begin drink, het sy later vertel. Hy het Mariaan geïgnoreer toe sy vra hy moet ophou. Later daardie aand het hy die geld gevat wat sy ouma vir brood en melk gelos het en haar afgejak toe sy vra waarheen hy gaan.

“Laat daardie aand, kort voor middernag, was hy weer tuis. Maar Mariaan sê vir ons iets was nie reg nie; sy kon dit aanvoel,” sê Bertha. “Hulle het nie gepraat toe hy Saterdagoggend regmaak vir werk nie, maar Nicholas het glo gehuil nadat hy oor die telefoon met sy ouma baklei het. Toe is hy werk toe – of so het sy gedink.”

Nicholas het die Saterdag nie haar boodskappe beantwoord nie. Dit was vroegskemer toe ’n polisiebeampte van die Silvertonpolisie vir Mariaan bel en haar vertel van ’n voorval by die restaurant – maar sonder om te sê presies wat gebeur het.

“Mariaan het ons om halfsewe histeries gebel. Sy het hartverskeurend gehuil; geskree. My hart het in my keel gaan sit. Sy het vir ons gesê die polisie wou weet of sy Nicholas ken; dat iets aakligs gebeur het en dat hy in hegtenis geneem is,” vertel Berta.

“Ons het in die motor gespring om na haar te ry. Ek het die polisie op die hoofweg gebel en gevra om te verduidelik wat gebeur het. Die beampte was kil; sy het gesê: ‘Mevrou, daar word beweer hy het ’n meisie verkrag . . .’

Dros
Foto: Facebook.

“Die wêreld het gedraai. Dit het geklink na iets soos uit ’n fliek. Ek was stom. Sy het gesê hy is erg aangerand en moet eers hospitaal toe geneem word. Ek weet nie wat volgende gebeur het nie . . . Alles is ’n waas.”

Dan sê Johan met trane vlak in sy oë: “Ek wou hom self te lyf gaan. Ek het nie geweet hoe om my woede te verwerk nie.” Berta kasty haarself: “Ons was nooit verkeerd oor daardie ‘iets’ nie. As ons maar net strenger was, as ons maar net ander keuses gemaak het.

“Maar dis verby – en nou gaan ons harte uit na die jong slagoffertjie wat vir die res van haar lewe met hierdie seer geheim moet rondloop, en na haar ma oor die ongelooflike trauma en pyn waardeur hulle is.”

Lank ná die voorval wou Mariaan nog in Nicholas se onskuld glo, beweer haar ma. “Sy het daardie aand nie ophou huil nie. Sy was stukkend. Die pa van haar kind word verdink van die vreeslikste daad . . . Wat kan ’n mens doen? Niks. Jy huil maar saam,” sê Berta.

Mariaan het vir haar ouers bly sê: “Hy is onskuldig; ek sal altyd vir hom lief wees.” Volgens Johan het sy dogter en Nicholas se ouma hom herhaaldelik in die tronk besoek. Toe hy Mariaan daaroor konfronteer, het sy in trane uitgebars.

Dros
Nicholas tydens ’n vorige verskyning in die hof. Hy verskyn weer op 5 Maart. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Niemand kan of sal dit verstaan nie; nie eens ek en haar ma nie. Maar sy was lief vir hom en erg verknog aan hom,” sê Johan. “Ons sou vir haar sê: Wat as hy skuldig bevind word – gaan jy by hom staan? En sy wou. Maande lank.”

Ná die geboorte van haar baba in Desember het die tronkbesoeke voortgeduur. Maar sy het nooit die kind na Nicholas geneem nie, sê Berta. “Joeg . . . Dis veronderstel om die gelukkigste tyd van haar lewe te wees. Sy word ’n ma; ons word oupa en ouma. En dit wás mooi – Mariaan was dadelik verlief op haar dingetjie.

“Maar ag, dis amper oorskadu deur vrese oor die pad vorentoe. Om ’n enkelouer te wees is nie maklik nie, veral as die pa van jou kind in die tronk sit.”

’n Wending het gekom nadat die hof Nicholas op 8 Februarie vanjaar geskik vir verhoor bevind het, meen Berta. “Die klappe het van haar oë geval. Dis asof sy meteens besef het sy gaan nooit uit die nagmerrie ontsnap as sy nie van hom losbreek nie. Selfs al maak dit haar seer.”

‘Ons sou vir haar sê: Wat as hy skuldig bevind word – gaan jy by hom staan?’

Mariaan het Nicholas die laaste keer vroeg in Februarie gesien. Daarna, toe Nicholas haar van ’n tiekieboks uit die tronk bel, het sy besluit om die verhouding te beeïndig. “Sy het vir ons gesê dis verby,” sê Berta.

Op 9 Februarie het sy op haar bed in haar ouerhuis gesit toe sy telefonies vir Nicholas sê: “Ek kan nie meer so aangaan nie . . . My lewe moet aangaan.”

“Hy wou weet of sy ’n ander kêrel het. Toe sê sy vir hom sy sien niemand anders nie; net vriende, en een van die mansvriende is na aan haar.” Nicholas het glo ontsteld geraak hieroor en haar en haar familie gedreig, beweer Berta. “Sy het die selfoon doodgedruk en huilend vir ons gevra: ‘Mamma, wanneer kry dit end?’

“Ons kon haar net vasdruk.”

Dros
Foto: Lubabalo Lesolle.

Op 17 Februarie het Nicholas Mariaan glo ’n laaste keer probeer kontak, maar dié keer was die oproep onbeantwoord. Sy het die nommer op haar selfoon geblok. Sedertdien is die ondersoekbeampte in die saak ook van die beweerde dreigemente ingelig en die ouerpaar oorweeg nou ’n klag van intimidasie.

Tog sê Berta: “Mariaan se gemoed het oor die laaste paar dae verander. Sy lag weer; sy is vrolik. Sy lééf weer. Sy besef nou dat sy lankal die verhouding moes verbreek het. Sy wil met haar lewe aangaan.

“Nou kyk ons na haar en hoe wonderlik sy met haar seuntjie is. Vir die eerste keer het ons weer werklik hoop vir die toekoms.

“Nou die dag sê sy vir ons daar is vir haar niks so belangrik soos haar seuntjie nie, dat hy met oorgenoeg liefde moet grootword.

“Ons weet dinge is nie verby nie; daar is vir ons geen waarborge nie. Hierdie lieflingseuntjie gaan eendag vrae vra, moeilike vrae wat ons gaan moet beantwoord.

“Maar vir eers lyk dit of die donker wolke besig is om voor die son te verdwyn. En dis al wat nodig is om ons deur die moeilike tye te dra wat nou nog vir ons voorlê.”

* Skuilname.

  • Nicholas Ninow verskyn weer op 5 Maart in die landdroshof in Pretoria.
  • Riaan du Plessis, Nicholas se regsverteenwoordiger, wou op navraag van Huisgenoot op geen van die bewerings kommentaar lewer nie.