Ouers verras met tweeling ná vrou 10 dae in COVID-19-koma was

akkreditasie
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Ma van drie het gehoor sy verwag ’n tweeling nadat sy uit ’n geïnduseerde koma ontwaak het terwyl sy teen COVID-19 stry.

Danielle Martin, van Belfast in Noord-Ierland, het eers ’n seer keel gehad wat vererger het.

Maar op 30 Maart het haar toestand skielik versleg en het sy gevoel sy versmoor. Haar man, Bryan, het toe ’n ambulans gebel.

“’n Ambulans het binne vyf minute gekom en my weggevat. Ek was vreesbevange,” vertel Danielle oor die skrikwekkende oomblik.

Longontsteking is gediagnoseer by die 32-jarige wat drie seuns het, maar op 1 April het toetse getoon sy het die nuwe coronavirussiekte COVID-19 opgedoen.

“Ek het sleg gevoel om my seuns te los, maar ek het geweet dis vir die beste,” voeg sy by.

“Die dokter het gebel om te sê haar suurstof het gedaal en sy is in ’n geïnduseerde koma geplaas,” verduidelik Bryan. “Ek was verslae en doodbekommerd.”

“Dit was baie moeilik om vir ons seuns, Jaiden (9), Parker (3) en Joshua (2), te probeer verduidelik waar mamma is, want hulle het haar by die venster uit in die ambulans sien weggaan.”

Ná 10 dae in ’n geïnduseerde koma het Danielle se angs in vreugde verander toe dokters haar inlig sy verwag ’n tweeling.

“Ek kon dit nie glo toe hulle my van die tweeling vertel nie. Die was die kersie op die koek om te weet ek het die coronavirus geklop en het ’n tweeling op pad!” sê sy.

Danielle, wat vir 10 dae voor sy die virus opgedoen het nie buite was nie, sê sy voel “ongelooflik gelukkig” dat sy oorleef het, maar maan ander mense om by die huis te bly, want “dit kan met enigiemand gebeur”.

“Ek was baie verward en onrustig toe ek uit die koma wakker word, maar toe ek eers bykom, was ek baie dankbaar,” sê sy.

Al was dit ’n vreemde manier om oor die tweeling uit te vind, is sy verheug dat sy ten minste “iets goeds uit die aaklige tyd sal kan onthou”.

“Ek herstel met volop rus en hoop my vriende en familie doen dieselfde.” 

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees