Die idee is dat die aanstaande bruid die prettige paaldansery geniet op die vooraand van haar huwelik. Maar, gewoonlik terwyl die gaste so na die man loer, wonder hulle nie of die paal gaan hou terwyl die danser met sy gespierde lyf sy truuks uitoefen nie.

By ’n onlangse henneparty in Engeland het dié uitstappie egter in ’n riller ontaard toe die dames moes aanskou hoe die paal breek, die manlike ontkleedanser so val dat hy sy been op twee plekke breek en dié voorval ’n 75-jarige vrou boonop bewusteloos laat.

Om als te kroon, was dié senior burger die ouma van die toekomstige bruid. . . 

Lewis Riches is die persoonlike afrigter en danser wie se dienste ingeroep is om ’n groep vroue by ’n henneparty met sy danspassies te vermaak. 

Maar, toe hy by ’n Londens klub op die paal spring, het die paal, “uit die plafon geruk,” vertel een van die partytjiegangers. 

Die bejaarde ouma het in die tweede ry gesit en die paal het op haar kop geland. Sy was "onmiddellik bewusteloos" en is hospitaal toe gejaag.

Lewis se been is op twee plekke gebreek. Hy het reeds 'n operasie ondergaan en dit sal hom moontlik tot ses maande neem om te herstel.  

“Dit het gelyk of sy been agtertoe gebreek is,” het Janine Scutt, ’n henneparty-gas gesê.

Volgens haar het sy gesig ook seergekry. “Hy was besorg oor die gehoor, maar hy was duidelik in pyn,” sê sy en voeg by sy het eers gedink die val is deel van die vertoning tot sy agtergekom het iets het lelik skeefgeloop.

“Dit was traumaties vir almal,” vertel ’n ander ooggetuie.

Bronne: Daily Mail, Mirror