’n Ouma van Engeland het £10 000 (sowat R160 000) van haar pensioen geblaas nadat dokters in 2016 vir haar gesê het sy het net vyf jaar om te leef, want sy ly aan ongeneeslike demensie.

Dit was nadat haar gedrag “wisselvallig” begin word het.

Maar later het sy uitgevind die diagnose was verkeer en sy ly eintlik aan angstigheid en depressie.

Volgens die Daily Mail is Jackie Dibb (62) en haar man, Rob, nou platsak nadat hulle al hul spaargeld aan vakansies en geskenke aan haar familie uitgegee het.

“Sy het gehoor sy moet die res van haar lewe geniet nadat frontale temporale demensie by haar gediagnoseer is, en sy het wild en wakker begin geld uitgee,” berig die publikasie.

Die ouma het ook reeds haar 12-jarige kleindogter gegroet.  

“Ek sal steeds hier wees, maar ek sal soos een van die zombies wees wat jy in rolprente sien,” het sy blykbaar vir haar kleinkind gesê.  

Die egpaar het £4 000 (amper R70 000) aan ’n badkamer in hul huis, £1 500 (R25 000) aan ’n groot gesinsvakansie in Turkye en £700 (R12 000) aan ’n Amerikaanse dubbeldeuryskas bestee, berig The Sun.  

Rob, wat vroeg afgetree het om Jackie te versorg, sê hy is aangeraai om vir sy vrou te gee wat sy ook al vra terwyl sy “dit kon geniet”.

“Ons het hope geld uitgegee, die huis aangepas, op reise gegaan . . . noem maar op,” sê hy.

Die hospitaal het Jackie en Rob sedertdien om verskoning gevra en die egpaar het besluit om die instelling nie te dagvaar nie.

Rob sê die situasie het hom in die verleentheid gestel.

“Ons het die familie gegroet en alles – ons voel verpletter.

“Op die oomblik probeer ons net kop bo water hou wat geld betref.”

Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk, thesun.co.uk,