Jill Biden se elegante styl was duidelik toe sy in
Jill Biden se elegante styl was duidelik toe sy in 2015 as “Second Lady” in die geselsprogram Late Night with Seth Meyers verskyn het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jill Biden het deur die jare al verskeie titels gehad. In ’n ­sta­dium was sy as die visepresidentsvrou van Amerika amp­telik bekend as die “Second Lady”, al het sy die titel “Captain of the Vice Squad” verkies. Sy is ook bekend as poetsbakker, professor, vrou, ma, ouma en – meer onlangs – beskermer.

Vroeg in Joe Biden, nou die nuwe president van Amerika, se presidensiële veldtog het ’n videogreep aanlyn verskyn waarin Jill soos ’n wafferse lyfwag tussenbeide tree om haar man te beskerm.

Die egpaar was in Manchester in die Amerikaanse staat New Hampshire waar Joe ’n toespraak moes lewer. Een van die toe­skouers het dit ál nader aan die podium gewaag, tot Jill hom in sy spore gestuit en ook ander omstanders gewaarsku het om hul afstand te hou.

Deur die loop van hul huwelik van 43 jaar het dit vir Jill (69) tweede natuur geword om haar man, Joe (78), se hoof­beskermer te wees. En Amerika se nuwe president weet dit.

“Ek is waarskynlik die enigste presidentskandidaat wie se vrou my geheimediens is!” het hy in Maart verlede jaar op ’n geldinsamelingsgeleentheid in Los Angeles gesê. “Ek hoor nou die dag oor die nuus dat die komitee in beheer van die geheimediens besluit het hulle moet nou vir ons ook beskerming verskaf,” het Joe vertel. “Ek dink dis omdat hulle bang is Jill gaan iemand seermaak. Een ding is seker – ek het ver bo my stand getrou.”

Joe is duidelik smoorverlief op Jill, wat nou as presidentsvrou saam met hom in die Withuis woon.

Ashley en haar ouers nadat Joe die verkiesing gewe
Ashley en haar ouers nadat Joe die verkiesing gewen het. Foto: Gallo Images/Getty Images
Finnegan Biden, Hunter se dogter, was ook betrokke
Finnegan Biden, Hunter se dogter, was ook betrokke by haar oupa se verkiesingsveldtog. Foto: Instagram/@finnegan_biden

Aangesien sy aan Joe se sy was toe hy tydens oudpres. Barack Obama se presidentskap twee termyne lank as visepresident gedien het, het Jill – anders as vorige eggenotes van Amerikaanse presidente – ’n grondige begrip van Withuis-politiek.

Sy is nie van plan om haar huidige pos as Engelse dosent aan die Northern Virginia Community College te laat vaar nie. Dit beteken sy sal die eerste Amerikaanse presidentsvrou met ’n voltydse werk wees.

Jill Jacobs, die oudste van vyf ­susters, is in 1951 in New Jersey gebore en het in Philadelphia grootgeword. Sy was skaars 18 toe sy met haar eerste man, Bill Stevenson, getroud is, en hulle is vyf jaar later geskei. In dieselfde jaar het sy en Joe mekaar ontmoet.

Sy was toe nog ’n student – sy het sedertdien vier grade in Engels behaal – en hy het haar uit die bloute gebel omdat sy broer, Frank, wat ’n vriend van haar was, gereken het die twee sal goed by mekaar pas.

Jill was nie beïndruk met dié man wat haar so uit die bloute bel nie, maar kon nietemin nie haar nuuskierigheid beteuel toe hy haar vra om ’n ander afspraak wat sy gehad het liewer te kanselleer nie.

“Tot in daardie stadium het ek met ouens in jeans en sandale en T-hemde uitgegaan,” vertel sy in haar memoires, Where the Light Enters: Building a Family, Discovering Myself.

“Hy het daar opgedaag in ’n sportbaadjie en insteekskoene, en ek het gedink: ‘Vaderland, dit gaan nooit werk nie, nie in der ewigheid nie!’ Hy was ook nege jaar ouer as ek. Maar ons het toe die fliek A Man and a Woman in ’n rolprentteater in Philadelphia gaan kyk en baie goed oor die weg gekom.”

Tog moes Joe haar, in die twee jaar dat hulle uitgegaan het, ’n volle vyf keer vra om te trou voor sy ja gesê het. Een van die redes waarom Jill die aanbod aanvanklik geweier het, was dat sy eers ’n loopbaan wou hê. Nog ’n rede het met Joe se seuns, Beau en Hunter, te doen gehad.

Hul ma (Joe se eerste vrou), Neilia, en eenjarige sussie, Naomi, is drie jaar te­vore in ’n motorongeluk dood, en Jill was versigtig om die seuns se lewe te ontwrig.

“Ek was baie lief vir hulle,” vertel sy. “Maar ek moes seker maak my en Joe se verhouding sou vir ewig hou.”

Sy vyfde huweliksaanbod, in 1977, het met ’n ultimatum gekom: “Kyk, ek het nou al die geduld in die wêreld getoon,” het hy vir haar gesê. “Óf jy besluit om met my te trou óf dis dit – ek’s uit. Ek gaan jou nie nog ’n keer vra nie, en ek is te verlief op jou om net jou vriend te wees.”

Joe het kort daarna as deel van ’n afvaardiging van die Amerikaanse Kongres Suid-Afrika toe vertrek en met sy terugkeer na die VSA haar jawoord gekry. Die twee is met Hunter en Beau aan hul sy getroud, en hulle het die seuns selfs op hul wittebrood saamgeneem.

Hunter en Beau was verheug toe Jill in 1981 swanger raak. Hulle is saam met haar apteek toe om ’n swanger­skapstoets te koop, en dit was húlle wat Joe vertel het sy verwag, het Jill aan CBS Sunday Morning gesê.

Joe en Jill het dit ook aan die seuns oorgelaat om ’n naam vir hul babasussie te kies, en hulle het op Ashley besluit.

Vir Jill is die seuns haar eie kinders; sy het nooit aan hulle as stiefseuns gedink nie. Sy was verpletter toe Beau in 2015 in die ouderdom van 46 aan breinkanker oorlede is.

“My lewe het in ’n oogwink verander,” sê sy. “Dwarsdeur sy siekte het ek bly glo hy sou dit maak. Tot op die laaste oomblik toe hy sy oë toe­gemaak het, het ek nooit hoop laat vaar nie.”

Daardie verlies het hulle gepantser vir die venynige aanvalle wat Donald Trump in later jare op die Bidens sou rig. “Toe Joe besluit om hom verkiesbaar te stel, het ons geweet ons moet dit maar te wagte wees. Maar, soos ek vir hom gesê het: ‘Ons het die ergste moontlike ding wat in ’n mens se lewe kan gebeur – om ’n kind te verloor – saam beleef. Van hier af vorentoe kan ons enigiets hanteer.’ ”

Beau is in 2015 oorlede. Foto: Instagram/@drbiden
Beau is in 2015 oorlede. Foto: Instagram/@drbiden

Jill is duidelik al deur die meul van die lewe. Maar Dr. B – soos die universiteitstudente en -personeel haar noem – het ook ’n ondeunde sy en is glo ’n groot poetsbakker.

Tydens Joe se tyd as visepresident in die Withuis het sy haar byvoorbeeld eenkeer as die Grinch vermom. En dan was daar die keer toe sy in ’n oorhoofse bergingskas in Air Force 2 gaan wegkruip het voor die res van die passasiers aan boord gekom het.

“Toe hulle die houer oopmaak, het ek uitgespring en almal lekker laat skrik. Ons het seker ’n halfuur daarna nog gelag!”

Jill, wat graag poetse bak, het eenkeer in ’n oorh
Jill, wat graag poetse bak, het eenkeer in ’n oorhoofse bergingskas in Air Force 2 gaan wegkruip en ander passasiers groot laat skrik toe hulle dit oopmaak en sy uitspring. Foto: YouTube-skermgreep

Humor is noodsaaklik, sê Jill. “Dinge is so ernstig; tye is so moeilik. Soms verg dit ’n bietjie ligsinnigheid en ’n gelag om
die luim te lig. ’n Bietjie vreugde.”

Voor ’n leeftyd van hoëhakskoene dra haar voete opgemors het, het sy vyf dae per week 8 km gaan draf. Nou gaan sy dié energie vir ander dinge aanwend, sê Jill. Sy wil aanhou druk uitoefen vir ’n beter versorging van militêre veterane, ’n veldtog wat sy reeds tydens Obama se presidentskap saam met Michelle Obama begin het.

“Jill is een van die nederigste mense wat jy ooit sal ontmoet,” sê Michelle. “Sy is net ’n vars briesie, sonder ’n sweempie aansitterigheid.”

Ná ’n uitmergelende presidentsveldtog en vier jaar van hoogdrama onder die Trump-presidentskap verstaan Jill wat nou gedoen moet word. “Hoe maak jy ’n nasie heel?” het sy tydens die presiden­siële veldtog gevra.

“Net soos wat jy ’n gebroke gesin heelmaak: met liefde en begrip en klein dade van goedhartigheid. Met dapperheid en onwrikbare geloof.”

Bronne: dailymail.co.uk, vogue.com, bbc.com, glamour.com, harpersbazaar.com, USA Today, Late Night with Seth Meyers, CBS Sunday Morning
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe