Die 80-jarige het vir die eerste keer bestuur toe haar kleinseun Khaya Mvelase uit Doebai, waar hy werk, vir haar kom kuier het. En binne 10 minute het ouma Girlie heel gemaklik agter die stuur gelyk.

Die video het soos ’n veldbrand versprei nadat Khaya dit verlede week trots op Facebook gedeel het.

Khaya, ’n paramedikus, sê dit het tydens een van sy gereelde besoeke aan die huis gebeur toe hy met sy ouma ’n draai gaan ry het as ’n geskenk nadat hy haar 80ste verjaardag misgeloop het.

Khaya het sy ouma se droom verwesenlik: om te best
Khaya het sy ouma se droom verwesenlik: om te bestuur. Foto: Facebook

Al het sy voorheen genoem sy sou graag wou leer bestuur, was sy eers ’n bietjie huiwerig. Maar Khaya het haar oorreed om te probeer.

“Nadat ek haar vir 10 minute touwys gemaak het, het ons vir sowat ’n driekwartier om ’n sokkerveld gery, en jy kon die opwinding op haar gesig sien,” het hy aan ons sustertydskrif YOU vertel, en bygevoeg sy ouma wou die hele dag aanhou ry.

“Ek het dit op die #ImStaying-beweging se groep geplaas. En toe ek die oggend wakker word, het my foon baie kennisgewings gehad,” vertel hy.

Khaya kan steeds nie glo die video het so baie aandag getrek nie.

Hy kry ook boodskappe van oral in die wêreld.

“Ek hou baie van die video van jou ouma wat bestuur. Sy lyk so gelukkig en haar geluk is so duidelik. Maak asseblief nog video’s van Gogo. Sy het nou ’n aanhanger in Kanada,” sê ’n Facebook-gebruiker.

Die 35-jarige is deur sy ouma grootgemaak en dis hoekom dit vir hom belangrik is om altyd huis toe te gaan en sulke spesiale oomblikke met haar te deel.


“Ek het nooit gedink die video sal so ver in die wêreld gaan nie. Ek kry boopdskappe van mense oraloor, so ver as Switserland, Kanada en ander Afrikalande,” sê hy.

“Mense stuur liefde vir Ouma en raak geïnspireerd. Dis nooit te laat nie. Maak nie saak hoe oud jy is nie, jy kan steeds jou drome verwesenlik.”

“My ouma was altyd daar vir my en my volgende doelwit is om haar by my te laat kom bly,” sê hy.

Hy hoop sy ouma sal gereeld bestuur.

Gogo Girlie agter die stuur. Foto: Facebook
Gogo Girlie agter die stuur. Foto: Facebook

Gogo Girlie, ’n afgetrede skoonmaker, beskryf die ervaring as ’n opwindende oomblik en sê sy wou daardie dag nog veel langer aanhou bestuur.

Sy voeg by al het sy net die een keer bestuur en sal sy behoorlik opgelei moet word voor sy weer agter die wiel inklim, hoop sy sy kan eendag ’n rybewys kry.

Bykomende bron: Facebook


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.