As haar ma nie op die “regte” plek parkeer wanneer sy haar dogter by die dansklas aflaai nie, bars die sewejarige in trane uit. 

Terwyl sy dan angstig aan haar ma vasklou, herhaal sy: “Ek wil vir jou waai; ek wil vir jou waai.” 

Net so wil die blondekoppie elke oggend op presies dieselfde sementblok staan wanneer sy haar ma by die skool groet; anders is die gort gaar. 

Dié verknogtheid aan roetine is een van Allegra Lategan se geite waaraan haar ouers deur die jare gewoond moes raak. 

Dan is daar die woedeuitbarstings wanneer sy met huiswerk sukkel, die oorgevoeligheid vir reuke en klanke en die fiemies met kos.

Dié verknogtheid aan roetine is een van Allegra Lategan se geite waaraan haar ouers deur die jare gewoond moes raak.

Wanneer die angstigheid Allegra in die openbaar oorval, hoor Chantal (37) en Hennie Lategan (36) soms hoe vreemdelinge kwetsende aanmerkings maak, soos: “Die kind kort net ’n goeie pak slae.” 

Die ouerpaar van Bloubergstrand het lank vermoed iets is fout; hulle het net nie geweet wat nie. 

Allegra het met haar geboorte koerantopskrifte gehaal toe sy op 29 Julie 2011 veels te vroeg haar opwagting maak. 

Chantal was net 22 weke swanger toe Allegra gebore is, en dié was die jongste baba wat tot in daardie stadium in Suid-Afrika gebore is en bly leef het. 

Sy het net 515 g geweeg; net meer as ’n blok botter. Ná vyf maande in die neonatale eenheid van die Netcare Blaauwberg-hospitaal in Bloubergstrand is die vegtertjie ontslaan. 

Allegra is in 2011 op 22 weke gebore en het net meer as 500 g geweeg. Foto: Gallo Images/Sunday Times/Esa Alexander

Sy het sedertdien talle terugslae oorleef wat haar gesondheid betref. 

Haar ouers het haar by die Jan Krielskool vir kinders met spesiale behoeftes in Kuilsrivier ingeskryf, en dit het goed gegaan met Allegra; tog het haar giere haar ouers dikwels bekommerd gemaak. 

Toe ’n neuroloog in April vanjaar vir Chantal en Hennie sê hul enigste kind is op die outismespektrum, was dit ’n verligting. 

Skielik het hulle Allegra se gedrag verstaan. “Dit het aan my verklaar hoekom sy is soos wat sy is en waarom sy dinge anders sien en beleef,” sê Chantal. 

“Dit is erg, en dit is ’n groot ding, maar sy is steeds Allegra; niks het verander nie. Ons kan haar nou net beter verstaan en help.” 

‘Sy is steeds Allegra. Ons kan haar nou net beter verstaan en help’

Terwyl haar ma met Huisgenoot gesels, speel die fyn meisietjie met die bril en lang vlegsel saam met haar pa met Lego-blokkies by die koffietafel. 

Sy is min gepla deur die grootmenspraatjies hier in haar grootouers se sitkamer in Parow, ’n noordelike voorstad van Kaapstad. 

“Sy is vanjaar in gr. 2 en het gister haar eerste mondeling gedoen,” sê Hennie, ’n terreinbestuurder vir ’n boumaatskappy.

En waaroor was die mondeling?

Opgewek laat Allegra hoor: “Die olifant!” 

Sy hou van Lego-blokkies, en ma en pa speel saam. Foto: Misha Jordaan

Ook dít is ’n wonderwerk, want gehoorgestremdheid en ouditiewe neuropatie is kort ná haar geboorte by haar gediagnoseer. 

Klank was verwronge. Maar sy kan deesdae met behulp van ’n kogleêre inplanting in albei ore hoor. 

Sy het tot verlede jaar spraakterapie ontvang vir haar taalagterstand, maar die spraakterapeut het besef hulle vorder nie meer nie. 

“Nou weet ons ook dit is nie net weens haar gehoor dat sy met taal sukkel nie; outisme speel ook ’n rol.” 

Chantal, ’n onderwyseres wat nou heeltyds ma is, het verlede jaar ’n voorgevoel gekry iets is nie pluis nie. 

Sy het tot verlede jaar spraakterapie ontvang vir haar taalagterstand, maar die spraakterapeut het besef hulle vorder nie meer nie.

Sy het geweet haar graadeentjie sukkel met aandagafleibaarheid en obsessiefkompulsiewe steuring en is angstig – en ander gedragspatrone het haar laat vermoed haar kind is dalk outisties. 

Tydens ’n besoek aan ’n neuroloog om Allegra se angsmedikasie aan te pas het dié dokter gesê die Lategans moet begin oplet na tekens van die outisme. 

“Toe het ek besef ek is darem nie heeltemal die pad byster nie,” vertel Chantal. Sy het oor outisme nagelees. 

Hoewel sekere tekens, soos Allegra se ingesteldheid op roetine, haar laat dink het outisme is dalk die “iets” wat so aan haar knaag, het sy getwyfel. 

“Ander dinge het dit weerspreek, want Allegra is sosiaal. Sy gesels maklik en het baie maatjies.” 

Allegra het haar eerste mondeling onlangs by die skool gedoen – oor die olifant. Foto: Verskaf

Die diagnose het talle raaisels vir die ouers opgelos. Nou weet hulle byvoorbeeld dat die outisme Allegra se sensoriese ervaring aantas. 

“Sy is sensitief vir reuke en klanke,” vertel Chantal. Allegra skrik maklik vir harde geluide en was van kleins af ’n kieskeurige eter wat fyn, sagte kos verkies. 

“Ek is eintlik verlig, want die dieetkundige en pediater het altyd gesê sy moet dit en sy moet daai eet. 

Nou sê die neuroloog as sy byvoorbeeld nét skommels wil drink, dan gee ons vir haar net dit, en dis oukei,” sê Chantal. 

Woedeuitbarstings is nog soms ’n probleem, maar medikasie help daarvoor, vertel Chantal. 

Sy het vroeër dikwels die fout by haarself gesoek. “Ek het gewonder of ek te streng is en dat dit die rede is waarom sy so optree. Of ek het gedink: Is ek nie streng genoeg nie? En mense het soms vir my gesê ek is oorbeskermend.” 

“Nou weet ek haar ontsteltenis is nie ’n tantrum nie. Alles voel net soms vir haar te veel en dan is dit as’t ware ’n meltdown. Dit is soos om ’n Coke-botteltjie te skud en te skud; later skiet die prop af. Nou leer ons hoe om dit reg te hanteer.” 

Hennie sê hulle bly positief, al is die toekoms onbekend.

“Jy kry natuurlik moeilike dae en jy raak moeg en gefrustreerd. Maar sy het aan die begin baklei, en nou baklei ons vir haar. En ja, jy is heeltyd op jou knieë.” 

Chantal kyk liefdevol na die meisietjie met die lang vlegsel. “As jy langs jou kind se broeikas gesit het en letterlik nie gedink het sy gaan eens leef nie, then everything else is small potatoes.” 

Die outisme-spektrum

Wat is die outismespektrum? 

Die outismespektrum is ’n reeks ontwikkelingsteurings wat kommunikasie- en gedragspatrone beïnvloed en in verskillende grade van erns voorkom. 

Die wetenskap het die oorsake nog nie verklaar nie, maar daar word vermoed genetika en omgewingsfaktore kan saam ’n rol speel. 

Voorheen is mediese terme soos klassieke outisme, Asperger se steuring en verreikende ontwikkelingsteurings gebruik, maar dié diagnoses word nou almal onder die outismespektrumsteuring geklassifiseer, sê Sandy Klopper, nasionale direkteur van Outisme Suid-Afrika. 

Dit kan nie “genees” word nie, maar mense wat daarmee leef, kan gehelp word om te funksioneer. 

Elke individu op die spektrum is uniek. Sommige mense verg “lae steun”, wat beteken hulle het net in sommige omstandighede steun nodig. 

“Dié mense kan ’n taamlik onafhanklike lewe lei,” sê Sandy. 

As iemand op die spektrum “hoë steun” verg, beteken dit die individu het gedurige steun nodig en gaan dit moontlik vir die res van hul lewe nodig hê. 

Sandy voeg by: “ ’n Mens kan nooit voorspel hoe ’n kind met outisme eendag as ’n grootmens gaan wees nie.” 

Wat is die tekens? 

Sandy sê mense op die spektrum sukkel gewoonlik in ’n wisselende mate met die volgende: verbale en nieverbale kommunikasie; sosiale interaksie; belangstellings of gedrag wat rigied is; herhalende gedragspatrone; en die verwerking van sensoriese inligting soos lig, klank en aanraking. 

As jou kind drie of meer van die volgende tekens toon, moet jy by ’n dokter aanklop wat jou na ’n spesialis kan verwys, sê Sandy: 

  • Verknogtheid aan sekere besittings. 
  • Ontsteltenis as hul roetine verander. 
  • Kan nie verbeeldingspeletjies speel nie. 
  • Ontsteltenis om geen rede nie. 
  • Geen vrees vir werklike gevaar nie. 
  • Speel eerder alleen as saam met ander. 
  • Ongewone gewoontes, soos om herhaaldelik te wieg of voorwerpe om en om te draai. 
  • Hou nie daarvan om vasgehou te word of aan gevat te word nie. 
  • Verskerpte of afgeplatte sensoriese ervarings soos sig, gehoor, smaak of reuk. 
  • Ongewone slaappatrone. 
  • Wisselvallige motoriese vaardighede. 
  • Tree soms op asof hulle doof is. 
  • Min bewustheid van ander.
  • Ontwikkeling van taal vertraag of afwesig. 
  • Lag of huil om geen rede nie. 
  • Selfbesering soos krap, huil of stamp kop.