Judy Groenewald
Koos en Judy Groenewald sê hulle harte is stukkend nadat hul huis die afgelope naweek afgebrand het. Hul 11-jarige hondjie is in die vlamme dood. Foto: Verskaf

Asof in ’n dwaal moes sy toekyk hoe die allesvernietigende vlamme haar huis in die Overberg-distrik in die Wes-Kaap tot teen die grond afbrand. Daar was niks wat sy kon doen nie – ook nie vir haar 11-jarige hondjie wat in die brandende huis vasgekeer was nie.

Twee dae ná die verwoestende brand is dit steeds vir Judy Groenewald (48) ondenkbaar dat sy en haar man, Koos (52), álles in die huisbrand verloor het. Hulle het 30 jaar in die huis gewoon, maar moes Saterdag toekyk hoe die vuur alles tot as en kole verbrand.

Maar al het dit haar hart gebreek om toe te kyk hoe die brand al haar besittings vernietig, was dit nie die ergste nie. Want terwyl vlamme die huis verswelg het, het Judy vergeefs na haar geliefde Mollie, ’n 11-jarige maltees-en-yorkie-kruising, geroep, maar dié was vermoedelik reeds oorval deur die rook.

Judy Groenewald
Koos en Judy se 11-jarige hondjie, Mollie, is in die huisbrand dood. Foto: Verskaf
Judy Groenewald
Mollie as ’n babahondjie. Foto: Verskaf

“Ons is absoluut verpletter,” sê ’n emosionele Judy Maandag aan Huisgenoot. “ 'n Mens sê vir jouself dis net aardse besittings, maar Mollie was vir ons onvervangbaar – en so ook al die ou familiefoto’s wat al die jare teen die mure gehang het. Ons weet nog nie eintlik hoe om die skok te verwerk nie.” 

Die huis dateer van die 1800’s en is op ’n plaas tussen Uilkraalmond en Baardskeerdersbos, net ’n hanetree van die Lomond-wynlandgoed op Gansbaai.

Judy vertel sy was Saterdag net ’n paar kilometer weg van die plaashuis toe sy terugkyk en rook uit die reëngeute sien borrel. Koos was ook nie tuis nie.

Judy Groenewald
Rook borrel uit die huis oomblikke voor dit heeltemal deur vlamme verswelg is. Foto: Verskaf
Judy Groenewald
Boere en brandspanne het saamgetrek om die brand te blus. Foto: Verskaf

“Ek berei ingelegte slaaie en was op pad om ’n bakkievrag af te laai, maar iets het my laat terugkyk – hoekom ek het, weet ek vandag nog nie. Maar toe sien ek die rook wat by die geute begin uitborrel,” onthou sy.

Sy het teruggedraai en met die grondpad die paar kilometer terug huis toe gejaag, maar met haar aankoms het die vlamme reeds versprei. Dié keer het rook by die sinkdak en vensters uitgeborrel.

“Ek kan nie vir jou sê wat ek gedink of watter emosies ek ervaar het nie. Skok – dis al. 'n Mens dink nie dan aan die skade nie. Al wat ek onthou, is dat ek geweet het my diere is nog binne die huis, dit was my grootste bekommernis.” 

Judy Groenewald
Judy sê al haar erfstukke is in die brand verwoes. Foto: Verskaf
Judy Groenewald
Die huis is heeltemal verwoes. Foto: Verskaf

Judy en haar seun, André (17), het dadelik na die diere begin roep. Haar dogter, Joana Swanepoel (26), was ook daar. Sy woon op dieselfde plaas in ’n tweede huis.

“Ek het Koos gebel en ons het dadelik na die diere begin roep. Ons het selfs met ’n tuinslang water na binne die huis gespuit,” onthou Judy. 

“Na wat gevoel het soos ’n ewigheid het Cassandra, André se Jack Russel, tot ons groot verligting uit die huis gekom. Ons het aanhou roep na Mollie, maar sy het nie gereageer nie. Dit was verskriklik. Ek moes heeltyd keer, want André wou na binne die brandende huis om Mollie te gaan soek.” 

Judy Groenewald
Dís al wat oor is van die gang ná die brand. Foto: Verskaf
Judy Groenewald
Die badkamer is oortrek van roet. Foto: Verskaf

Boere van die omgewing het intussen gehelp om die vlamme te blus. Later het die brandweerdienste opgedaag, maar vergeefs. Byna alles in die huis het tot niet gebrand. 

Dis eers nadat die vlamme geblus is dat die Groenewalds ’n dooie Mollie in die huis aangetref het. 

“Dis die ergste,” sê Judy. “Al wat ek kan hoop is dat die rook haar oorval het, ek wil my nie indink hoe bang sy moes wees nie. Ons harte is stukkend.” 

Judy Groenewald
Van hul plaashuis is nou net ’n bouval oor. Foto: Verskaf
Judy Groenewald
Hierdie vertrek was eens die eetkamer. Foto: Verskaf

Die egpaar sê hulle soek ook nog na hul twee katte, maar dié kon hulle nie in die huis vind nie. “Hulle is rondloperdiere en ons vermoed hulle het weggehardloop met die eerste tekens van rook . . . Of altans, dis wat ons hoop. Want die Here weet my hart sal nie nog kan hou nie.” 

Hulle kon teen Maandag nog nie die oorsaak van die brand bepaal nie, sê Judy.

Die egpaar se huis het 19 jaar terug ook gebrand, maar tóé was daar genoeg tyd om die huis te ontruim en om al hulle besittings te red.

Judy Groenewald
Al Judy se houtmeubels is óf verband óf heeltemal vernietig. Foto: Verskaf

“Ek wens ek kon weet hoekom hierdie dinge gebeur. Ons is rou. Hierdie keer het ons regtig alles verloor: van ou familiefoto’s tot my oumagrootjie se naaldwerkpatrone. Alles dinge wat vir ons sentimentele waarde gehad het en onvervangbaar is.”

Hulle woon nou tydelik saam met Joana, sê Judy. 

“Ons is dankbaar dat ons ’n bed het om in te slaap en kos het om te eet. Ons sal ook nooit genoeg dankie kan sê vir die boere en vrywilligers wat ingespring het om ons te help nie. Maar vir nou treur ons nog. Want ja, die versekering sal uitbetaal en ons sal oor begin, maar ons kan nooit terugkry wat ons verloor het nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe