Die Strydom-gesin van Kleinmond het in die laaste
Die Strydom-gesin van Kleinmond het in die laaste drie jaar in ses verskillende lande gewoon. Foto: Verskaf

Toe die gesin die dag die wêreld invaar, was dit met vier tasse, vier rugsakke, ’n stootwaentjie en ’n rolstoel.

Want al leef een van die Strydoms met ’n gestremdheid saam, sou die gesin nie toelaat dat dit hulle op enige manier inperk nie.  Die afgelope paar jaar het hulle ’n stralejakkerleefstyl waarvan die meeste mense net kan droom: hulle het al gewoon in Frankryk, België, Luxemburg, Ierland, Amerika en Mauritius.

Gesinsuitstappies en doendinge? Hondeslee, basketbal en yshokkie in vreemde lande. En almal neem deel.

Hulle wys hul lewe in die sosiale media om mense b
Hulle wys hul lewe in die sosiale media om mense bewus te maak van gesinne met spesiale behoeftes. Foto: Verskaf

Jare gelede was daar vir Tertius en Annél Strydom geen teken dat hul lewe enigiets anders as doodgewoon sou wees nie. Die twee het mekaar ontmoet op die dorp Modjadjiskloof in Limpopo, waar albei destyds gewerk het, en die lewe het sy voorspelbare gang geneem.

Maar die geboorte van hul eersteling, Anika (nou 11), het alles op sy kop gekeer. Anika is gebore met verskeie gestremdhede, waaronder spina bifida, oftewel ’n gestremdheid van die ruggraat wat die onderlyf verlam. Haar voetjies was na binne gedraai, en sy het heup-displasie, vog op die brein en ’n blaasdisfunksie gehad.

Voor haar vyfde verjaardag het die moedige meisietjie al 28 operasies ondergaan, heelwat meer as wat die meeste mense in ’n leeftyd sal kan verduur.

“Toe sy gebore is, het die dokters gesê daar is ’n groot kans dat sy nie sal kan loop of regop sit nie en dat sy sal breinskade hê, maar vandag doen sy eintlik baie goed,” vertel Annél (35). “Sy kan kruip en klim, swem en perdry. Sy kan nie loop nie, maar gebruik ’n rolstoel.” 

Dokters het die gesin gewaarsku dat Anika nooit sa
Dokters het die gesin gewaarsku dat Anika nooit sal kan loop nie, en vandag is sy bedrewe met haar rolstoel. Foto: Verskaf

Ander ouerpare sou dalk dink hul kind is ’n lewe vol opwinding en reis nie beskore as hul spruit soveel uitdagings moes trotseer nie, maar nie Annél en Tertius nie. Die twee het ’n besluit geneem: Hulle sou hul dogter nie net ’n normale lewe gee nie, maar ’n lewe vol avontuur. En dis presies wat hulle gedoen het.

Tertius werk in die IT-bedryf vir ’n Amerikaanse maatskappy en Annél bestuur ’n blog en kursusse vir ouers van kinders met spesiale behoeftes, Enabled Mom. Hulle kan dus van enige plek in die wêreld werk.

Nadat hul seunskind Reuben (nou 6) gebore is, het hulle besluit dis tyd vir hul groot avontuur – om die wêreld te gaan verken. Met vier tasse, vier rugsakke, ’n rolstoel vir Anika (toe 8) en ’n stootwaentjie vir Reuben (toe 3), is hulle in 2018 Europa toe om huise te gaan oppas. 

“Ons het nie die finansies gehad om vir ’n langer tydperk oorsee te woon nie, want ons sou akkommodasie moes betaal en ’n motor huur, wat baie duur is. Toe kom ons op die huisoppas-webtuistes af,” verduidelik Annél. 

Hulle het elke paar maande verkas na ’n ander land, waar hulle dan mense se huis sou oppas. Hulle kon gratis woon en die mense se motors gebruik. Dít terwyl hulle die nuwe omgewing verken. 

Oral waar hulle gaan reis hulle met vier tasse, vi
Oral waar hulle gaan reis hulle met vier tasse, vier rugsakke en Anika se rolstoel. Foto: Verskaf

Wat aanvanklik ’n reis van drie maande sou wees, het drie jaar van hul lewe geword. 

“Ons het in wonderlike plekke gebly, ’n herehuis in Frankryk en ’n groot huis in België. Ons het na lieflike huise gekyk en ook die oulikste diere opgepas. Daar was honde, katte en selfs visse. Ons het in stede en op plase gebly,” vertel Annél.

Al was dit vir die kinders veral moeilik om vir van die diere totsiens te sê wanneer dit tyd geword het om aan te beweeg, glo Annél die trekkery het Anika en Reuben waardevolle lewensvaardighede aangeleer. 

“Hulle moes leer hoe om aan te pas wanneer ons ’n plek verlaat; hoe mens moet verander wanneer planne verander. Die verskillende stede en dorpe het ook gehelp dat hulle blootgestel word aan mense van verskillende kulture.”

Dit was nie altyd maklik om te reis met al hul noodsaaklikhede nie, maar Annél vertel hulle is oral onkant gevang deur hoe gul en hulpvaardig mense was.

“Wanneer ons op ’n trein of bus moes klim, veral in Europa waar dit nie baie rolstoelvriendelik was nie, het mense sommer nader gekom en gehelp. Hulle sou help met bagasie of die rolstoel en die stootwaentjie optel, en selfs vir Reuben dra toe hy jonger was.”

Oral waar hulle gaan reis hulle met vier tasse, vier rugsakke en Anika se rolstoel. Foto: Verskaf

As ouers wat sterk daaroor voel dat gestremdes voluit kan lewe, wou Annél en Tertius nie net vir ander mense preek nie – hulle wou dit waarin hulle glo self op ’n praktiese manier uitleef.

Daar was bykans niks waarvoor hulle nie kans gesien het nie, en die kinders het deelgeneem aan als.

“Ons het hondeslee gery in Frankryk, rolstoel-basketbal en yshokkie op sleë gespeel in Amerika, ons was na Disneyland in Parys, en het kajak geroei op die Dordogne-rivier in Frankryk.” 

Annél meen dit is ’n genade Anika se operasies het plaasgevind toe sy nog klein was, want dit het beteken hulle kon lank oorsee bly. 

“Ons moes ’n paar keer terugkom om ons visas te hernu, so ons het haar besoeke aan die neurochirurge en uroloë vir dan geskeduleer.”

Reuben en Anika is baie geheg aan mekaar. Hy ry so
Reuben en Anika is baie geheg aan mekaar. Hy ry soms in haar rolstoel wanneer die moegheid tref, vertel hul ma. Foto: Verskaf

Maar nou is dié stralejakkerlewe eers verby. Die Strydoms se nuwe avontuur is om te leer hoe ’n mens voluit kan lewe as jy iewers nesskop. 

Hulle was verlede jaar vir een van hul kort besoeke aan Suid-Afrika toe die covid-19-pandemie almal onkant vang en internasionale grense gesluit word.

Hulle het toe besluit om hulle op Kleinmond in die Overstrand, so uur en ’n half se ry van Kaapstad, te vestig. 

“Kleinmond se mense is so liefdevol. En as ’n bonus is Kleinmond beeldskoon. Jy het die berg aan die een kant en die see aan die ander kant. Ons ry nie eens met ons kar hier nie,” vertel Annél. 

In haar kursusse vir ander ouers van gestremde kinders, lê sy gereeld klem op hoe belangrik gemeenskap en ondersteuning is. Baie van die dinge wat haar gesin die afgelope paar jaar vermag het, was danksy ander mense se ondersteuning oral waar hulle gekom het.

Annél gee tuis vir Anika uit ’n internasionale kurrikulum klas en Reuben woon deesdae ’n kleuterskool by.

“Hy is ons sosiale kind, hy is so energiek en vol lewe,” vertel Annél. 

Sy is dankbaar dat haar en Tertius se verhouding ondanks al die uitdagings en lekker maar soms moeilike reise steeds rotsvas is. Hulle was doelbewus in hul besluit om te praat oor hoe om dinge te laat werk. 

“Mens hoor van so baie ouers wat uitmekaar gaan wanneer daar ’n kind met spesiale behoeftes betrokke is. Ons het darem die statistiek geklop. Ons het vroeg geleer om met mekaar te praat. Ons gee mekaar ook spasie, hy sal vir ’n naweek met sy vriende uitgaan en dan sal ek weer ’n aand of middag afvat.”

Vir nou het die gesin se rooimiere eers tot bedaring gekom en beplan hulle om op Kleinmond aan te bly. 

Annél en Anika skryf saam boekies oor diere met spesiale behoeftes, die Okey Dokey-reeks. Sy moedig mense ook aan om ander se gestremdhede te leer verstaan.

“Daar is so baie verskillende toestande daar buite, mens kan jou natuurlik nie oor als opvoed nie. Maar as jy een kies en meer daaroor leer, help dit al klaar. Mense moet ook leer om nie aannames te maak nie – vra liewer as jy onseker is.”

En hulle voorbeeld maak dit duidelik: om mense met gestremdhede of gesinne met ’n gestremde geliefde op enige manier te onderskat, sou eenvoudig dwaas wees.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.