So sê Michael Goetzsche nadat sy vriendin Alice Richter (27) en haar pa, Tony (59), op die N3-pad naby Midmar in ’n grusame ongeluk dood is. 

“Sy was die pragtigste, vriendelikste en snaaksste meisie wat ek nog ooit ontmoet het. Dit is moeilik om te aanvaar dat sy weg is,” sê Michael.

Tony, ’n departementshoof in lewenswetenskap aan die Hilton College in KwaZulu-Natal, het Saterdagoggend net ná middernag sy dogter gaan help toe haar motor op dié pad na Durban onklaar geraak het.  

Haar silwer Opel Corsa het in die linkerbaan gestaan en Tony het met sy Toyota Hilux-bakkie agter haar stilgehou om te help toe ’n vragmotor in sy bakkie vasgery het. 

Tony is op slag dood en Alice, ’n joga-instrukteur, is in ’n ernstige toestand na die Life Hilton-hospitaal geneem. Sy het Saterdagmiddag aan haar beserings beswyk. 

Michael sê hy en Alice het mekaar in Januarie 2015 ontmoet en dit was liefde met die eerste oogopslag. 

“Ons het dadelik begin uitgaan. Ons was drie jaar in ’n verhouding en dit was van die beste jare van my lewe. Ek het ook in daardie tyd haar familie leer ken en het baie lief geraak vir hulle.” 

Hy en Alice het saamgebly en hulle het ’n groot gemeenskaplike liefde vir elektroniese dansmusiek gehad. 

“Ons kon vir ure saam dans. Sy het my geleer om joga te doen en om die wêreld anders te sien.” 

Michael sê hulle het ná drie jaar in 2018 besluit om ’n breuk te neem van hul verhouding. 

Al het ons nie meer uitgegaan nie, het ons steeds ’n spesiale plek in mekaar se hart gehad en ’n groot deel van my het geglo ons sal weer eendag saam wees.

“Ons het gevoel dat ons nie as individue groei nie en dat ons meer op mekaar gefokus het as op onsself.” 

Alice het ná die verhouding besluit om Viëtnam toe te trek om daar te gaan klas gee.

Sy het verlede jaar teruggetrek om haar siek ouma voor haar dood te kom groet. Weens die pandemie kon sy nie terugkeer Viëtnam toe nie. 

“Ons het steeds gereeld met mekaar gepraat en planne gemaak om mekaar te sien. Ons het ’n baie spesiale verhouding gehad. Al het ons nie meer uitgegaan nie, het ons steeds ’n spesiale plek in mekaar se hart gehad en ’n groot deel van my het geglo ons sal weer eendag saam wees.” 

Hy sê hy het ’n oproep van Alice se tannie gekry dat sy in ’n ongeluk was en in die hospitaal dood is.  

“Ek was in totale skok. Dit voel steeds soos ’n nagmerrie waaruit ek moet wakker skrik.” 

Haar pa, Tony, was die afrigter van Hilton College se eerste rugby- en krieketspan en ook ’n koshuisvader. 

“Die Hilton-gemeenskap onthou vir Tony as ’n fantastiese en sterk karakter, lojale vriend en ’n vermaaklike storieverteller. Duisende seuns wat deur die skoolhekke gekom het, het ’n persoonlike storie om te vertel oor hoe hy hulle geïnspireer het,” het Hilton College op hul Facebook-blad geskryf. 

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe