Pa en seun herenig 24 jaar ná mensehandelaars hom ontvoer

akkreditasie
Guo Gangtang en sy vrou omhels hul seun Guo vir die eerste keer in 24 jaar. Foto: Getty Images/Reuters/China Daily CDIC
Guo Gangtang en sy vrou omhels hul seun Guo vir die eerste keer in 24 jaar. Foto: Getty Images/Reuters/China Daily CDIC
Guo Gangtang (51) en sy vrou het hul seuntjie liefderik Xiao Liu genoem. Toe verdwyn hy. En vir meer as twee dekades daarna het Guo die land deurkruis in sy onophoudelike soektog na sy ontvoerde kind.

Die kleuter het op 21 September 1997 voor die gesin se huis in die dorpie Liaocheng in die oostelike provinsie van Shandong gespeel toe hy tussen neus en ore verdwyn het. Guo en sy vrou het desperaat na hom begin soek, maar hul geliefde seun was net skoonveld.

Die skok was enorm. In die daaropvolgende weke het Guo meer as 20 kg gewig verloor. Sy hare het glo ook binne ’n maand heeltemal grys geword.  

Meer as 10 van sy motorfietse het gesneuwel in sy uitgebreide soektog wat meer as 500 000 km sou beloop, maar dit het Guo steeds nie van stryk gebring nie.

Toe dit duidelik word dat hy nie in hul omgewing te vinde is nie, het Guo nie moed opgegee nie. Inteendeel, hy het die volgende fase van sy soektog aangepak, dié keer op ’n motorfiets waaraan hy vlae gemonteer het met sy seun se gesig daarop. Hy het ook pamflette met klein Xiao Liu se gesig versprei so ver as wat hy gereis het.

Etlike duisende kilometers het gevolg soos wat Guo deur meer as 20 Chinese provinsies gereis het in sy soektog na sy seun. Dag na dag, maand na maand, het hy voortgestu.

Meer as 10 van sy motorfietse het gesneuwel in sy uitgebreide soektog wat meer as 500 000 km sou beloop, maar dit het Guo steeds nie van stryk gebring nie. Selfs nie ’n paar gebreekte bene in motorfietsongelukke, rowers langs die pad en slaapsessies onder brûe het hom laat opgee nie.

Guo het glo al sy spaargeld spandeer in sy soektog na sy seun en moes by tye selfs bedel vir geld om met die soektog voort te kon gaan.

"Mense sê ek is ’n goeie pa. Maar ek is allesbehalwe. Ek is hulpeloos. Ek het nie die moed om die lewe weer van vooraf aan te pak ná hierdie verskriklike swaarkry nie."

“Die enigste tyd wat ek soos ’n pa gevoel het, was terwyl ek op pad was. Ek het nie ’n rede gehad om op te hou soek nie. En dit is onmoontlik vir my om daarmee te stop,” het hy in 2015 aan Qilu News gesê.

Hy het ook erken dat hy by geleentheid daaraan gedink het om sy eie lewe tydens die soektog te neem. “Maar dit het gevoel of Xiao Liu vir my sê hy is by my in die reënstorm.”

“Mense sê ek is ’n goeie pa. Maar ek is allesbehalwe. Ek is hulpeloos. Ek het nie die moed om die lewe weer van voor af aan te pak ná hierdie verskriklike swaarkry nie. Daarom het ek aanhou soek.”

Guo se deursettingsvermoë sou in Junie vanjaar, 24 jaar ná sy seun se verdwyning, beloon word toe polisie in die Henan-provinsie ’n man in die hande gekry het wat aan die seun se beskrywing voldoen het.

DNS-toetse het bewys die 26-jarige onderwyser Guo Xinzhen is inderdaad Guo se seun. Sondag 12 Julie het emosionele tonele afgespeel toe die Gangtang-gesin ná hierdie uitmergelende soektog mekaar weer vir die eerste keer in 24 jaar kon omhels.

“My kind, jy het teruggekom,” het sy oorstelpte ma, Zhang, laat hoor toe sy haar seun sien. Tydens ’n TV-onderhoud in 2015 het sy gesê: “Wat is die nut daarvan vir my om te leef? Dit was ek wat ons kind verloor het.”

“Ek het my seun gevind, en ek wil so gou moontlik na ’n normale lewe terugkeer,” het Guo gesê.

Guo junior gaan luidens berigte in Henan aanbly, maar beplan om sy biologiese ouers gereeld te besoek. “Hy’s ’n baie goeie pa. Ek is so trots op hom,” het hy aan die media gesê.

Nog suksesverhale

Guo het nie net op sy eie seun gefokus nie. Hy is ’n prominente lid van organisasies vir vermiste persone en tydens sy soektog na sy eie seun het hy minstens sewe ander egpare gehelp om hul ontvoerde kinders terug te kry.

Daarbenewens het die polisie meer as ’n 100 ontvoerde kinders opgespoor en 372 verdagtes in hegtenis geneem omdat Guo in 2012 ’n webtuiste op die been help bring het waar mense inligting oor vermiste kinders kan deel.

Verlede jaar het die ministerie van polisie die Reunion Project van stapel gestuur om ontvoeringsake vinniger te ondersoek. Danksy die projek is 2 609 slagoffers gevind en ’n ontvoering van 61 jaar gelede opgelos. En 372 verdagtes is in hegtenis geneem.

Die ontvoerders

Twee verdagtes is intussen vir die seun se ontvoering in hegtenis geneem. Hulle was glo destyds ’n paartjie toe die kleuter ontvoer is en deur hulle verkoop is. Die vrou, bloot as Tang bekend, het hom gegryp en na die bushalte geneem waar haar medepligtige, bekend as Hu, gewag het. Die drietal het met ’n interstedelike bus na Henan-provinsie gereis waar die paartjie hom verkoop het.

Hu (56) was in Shanxi vir ’n ander misdaad toe die polisie hom as verdagte geïdentifiseer het in Guo junior se ontvoering. Tang (45) is in Junie in hegtenis geneem.

Inspirasie

Die verhaal van die kleuter se verdwyning het in 2015 as inspirasie gedien vir ’n fliek, Lost and Love, waarin die Hongkong-superster Andy Lau verskyn het.

Andy het op sy beurt ook vir Guo geloof vir sy volgehoue soektog na sy seun, want die twee het mekaar beter leer ken tydens die verfilming van die fliek.

Maar anders as die slotepisode van Lost and Love waar die pa nooit sy seun opspoor nie, het die sprokieseinde vir ’n verandering in die wêrklike lewe plaasgevind.

Kinderhandel

Kinderhandel in China word as ’n reusagtige probleem in die land beskou. In 2015 is daar ’n geraamde 20 000 kinders ontvoer waarvan talle verkoop word vir aanneming, binnelands sowel as oorsee. Dit is ook nie ongewoon vir die handelaars om familie of vriende van die slagoffers te wees nie.

Jong kinders is gewoonlik die teiken omdat hulle té jonk is om hul name of tuisdorpe te onthou.

Nie alle kinders word ontvoer om vir aanneming te verkoop nie. Kinderarbeid is ook van hierdie ongelukkige slagoffers se voorland.

Tot en met 2015 kon die meeste stedelike ouerpare volgens beperkings net een kind hê. Seuns is gewoonlik aan paartjies verkoop wat iemand wou hê om tydens hul oudag na hulle om te sien, terwyl dogters aan paartjies verkoop is as bruide vir hul enigste seun of selfs as bediendes.

Bronne: reuters.com, abc7chicago.com, nypost.com, bbc.com, scmp.com


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe


Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees