Die 18-jarige Jack Evans van Pontypool in Wallis het twee maande ná die voorval in Januarie 2019 ’n teksboodskap aan sy slagoffer gestuur waarin hy haar verskoning vra. Toe sien sy ouers die boodskap.

Evans en sy slagoffer het glo beplan om seks te hê, maar sy het op die nippertjie van plan verander.

Maar Evans het nie na haar geluister nie. Die meisie het ook nooit ’n saak teen hom aanhangig gemaak nie.

Sy pa, Jonathan Evans (47), en stiefma, Sarah Morris (47), was geskok toe hulle die boodskap sien, maar het besluit om Evans reguit polisiestasie toe te neem.

Die polisie het ná sy bekentenis met sy slagoffer gesels, en sy het bevestig dat hy haar verkrag het.

Gareth Williams, Evans se regsverteenwoordiger, het ’n opgeskorte vonnis gevra omdat dit uitsonderlik seldsaam is dat iemand skuld beken op so ’n ernstige misdaad sonder dat daar ’n klag teen hom gelê is. Maar die regter het dit nie toegestaan nie.

Regter Tracey Lloyd-Clarke sê daar was verswarende omstandighede en dat Evans toegesluit moet word.

Evans is Maandag twee jaar tronkstraf opgelê nadat sy ouderdom en skuldbekentenis in ag geneem is. Sy naam sal ook vir die volgende 10 jaar op die register vir seksoortreders verskyn.

Vanweë sosiale afstandmaatreëls in plek as gevolg van die covid-19-pandemie, kon net sy biologiese ma, Deniz Stewart, in die hof wees tydens sy vonnisoplegging. Sy pa en stiefma het voor die hof vir die uitspraak gewag.

“Ek wou hê hy moet die waarheid vertel, hy moes die regte ding doen en sy skuld erken. Dit is ’n moeilike tyd vir ons en daar was baie rusies daaroor.

“Ek het vir hom gesê die beste nou vir hom is om almal te wys hy doen sy bes om reg te stel wat gebeur het. Dit was ’n skok vir sy gestel. Ek hoop die tyd in die gevangenis gee hom tyd om sy lewe in heroënskou te neem.”

Bronne: mirror.co.uk, bbc.com, walesonline.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe