Megan se pa, Gerard, het Donderdag aan Huisgenoot gesê haar roudiens, wat Woensdag plaasgevind het, was nie ’n roudiens nie.

Ons het haar lewe gevier omdat sy ’n fantastiese mens en kind van die Here was.

Maar Gerard wou nie uitwei oor die voorval waarin sy dogter haar lewe verloor het.

Ek was nie daar nie, hoe sal ek weet wat gebeur het,het hy gesê.

Die effens toonlose stem aan die ander kant van die foonlyn maak dit duidelik dat hy sukkel om die dood van sy talentvolle dogter te verwerk.

“Glo my, ek is nie nou in ’n emosionele toestand om te praat nie,” sê Gerard.

Dit gaan nie goed met ons nie.

Hy vertel wel meer oor sy dogter se koor- en universiteitprestasies: Sy het ’n graad in informasieontwerp aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het vyf jaar lank in die Tuks-Camerata-koor gesing en was drie keer oorsee saam met die koor.

Gerard sê hy oorweeg dit om ’n boek oor haar lewe te skryf, maar net nie nou nie.

Pretoria High School for Girls Old Girls Association het ook Donderdagoggend op hul Facebookblad ’n huldeblyk aan Megan opgedra.

Volgens die Pretoria East Record het die polisiewoordvoerder konst. Connie Mohanedi gesê ’n ondersoek na Megan se dood word ingestel, maar wou ook nie veel meer inligting verskaf nie omdat die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is.

Die noodlottige dag

Megan en ’n vriend was volgens berigte saam op besoek aan die gewilde Dinokeng Big 5-wildreservaat wat aan die “leeufluisteraar” Kevin Richardson behoort. Hulle wou ’n onderhoud met die kampbestuurder voer.

Volgens Kevin het hulle foto’s buite die kamp geneem toe die aanval plaasgevind het.

Hy sê hy en een van sy ervare kollegas was besig om soos die weeklikse gebruik leeus op ’n stappie deur die reservaat te neem.

“Een van die leeuwyfies het ’n impala agternagesit. Sy moes ongeveer twee tot 2,5 km ver gehardloop het voor sy die 22-jarige buite hul motor aangetref het.

Nick Dollman, Netcare911-woordvoerder, sê Megan het ernstige beserings opgedoen en die paramedici kon haar nie red nie. Sy is op die toneel dood verklaar.

Dit is in hierdie stadium nie bekend wie saam met haar op die besoek aan die reservaat was nie.

Ekstra bronne: recordeast.co.za, nationalgeographic.com, ewn.co.za