Eric Rosenbrock (35) het sy vrou, Ashley (34), op Donderdag 15 November in hul huis in Corinth, New York, geskiet, berig The Washington Post.

“Om ongeveer 22:30 het die 35-jarige Eric instandhouding op sy handgeweer in wettige besit uitgevoer toe ’n skoot afgevuur is wat sy vrou, die 34-jarige Ashley Rosenbrock, getref het,” lui die polisie se mediaverklaring.

Ashley is by die hospitaal dood verklaar.

Eric, ’n wetenskaponderwyser, is die pa van drie jong kinders by Ashley, berig People.

Die egpaar het ’n vierde kind, ’n dogter, gehad, wat blykbaar vyf jaar gelede op 18 maande aan ’n infeksie dood is. Die gesin was sedertdien by fondsinsamelingsprojekte in haar nagedagtenis betrokke. 

Michael Knapp, wat oorkant die straat van die egpaar woon, het aan WNYT gesê die egpaar was “goeie mense”.

“ ’n Gelukkige gesin, ’n goeie gesin, jy weet. My hart breek net vir hulle. Hulle is net goeie mense, goeie mense,” het Michael gesê.

Geen klag is gelê nie.

Bronne: The Washington Post, People, WNYT