’n Pretoriase pa soek geregtigheid vir sy mondige seun, wat moontlik Vrydag sy linkerbeen kan verloor, nadat ’n medemotorfietsryer hom in November 2017 na bewering van sy motorfiets gestamp en van die toneel af weggejaag het terwyl sy seun self die ambulans moes ontbied.

Die plek waar die voorval op 27 November 2017 op die N1 Suid in die rigting van Midrand gebeur het.

“Dis ’n erge storie," vertel Etienne Horn (60), die pa van Lucienne (21), wat al 46 dae in die Steve Biko- akademiese hospitaal lê en Vrydag ’n groot operasie moet ondergaan.

"My seun het rakelings die padteken gemis; hy het op sy rugsak geval. Die vrou wat hom dadelik op die toneel gehelp het, se man is verlede jaar in ’n motorongeluk dood.” 

Twee mediese spanne gaan Vrydag kyk of hulle Lucienne, wat reeds vyf operasies sedert die voorval moes ondergaan, se been kan red.

'n Plasing op die Eks van Montana en omliggende area-groep na aanleiding van die voorval

In die operasie sal hulle probeer om sy ligamente te herbou en vel en spierweefsel van sy bobeen na die besering aan sy linkeronderbeen oor te plant. Lucienne se been is tussen die knie en enkel op vyf plekke gebreek.

Etienne vertel sy seun, wat by ’n selfoonverskaffer werk, was op Maandag 27 November van Pretoria op sy wit-en-blou Honda Fire Blade-1000 cc-motorfiets na ’n kursus in Midrand onderweg toe die ongeluk op ’n draai tussen seweuur en halfagt die oggend gebeur.

Die beseerde Lucienne Horn (21)

“Iemand op ’n rooi semiveldfiets het teen ’n hoë spoed van die binnebaan na die buitebaan op die N1 Suid beweeg en my seun aan sy linkerbeen op sy fiets getref,” vertel hy.

Dit is toe dat Lucienne van sy motorfiets geslinger word en langs die pad op sy rugsak, agter op sy rug, in die veld langs die pad te lande kom.

“Die vrou wat die ongeluk gesien gebeur het, het dadelik stilgehou. Sy sê die persoon wat Lucienne gestamp het, het ook aanvanklik stilgehou.”

Die plek waar die voorval op 27 November 2017 op die N1 Suid in die rigting van Midrand gebeur het.

Etienne het in skok sy beste vriend eerste gebel en het die persoon wat hom gestamp het, net vlugtig gesien. Dié het egter nog sy of haar valhelm opgehad. Etienne vertel die vriend se pa is ’n paramedikus vir ’n ambulansdiens.

“Die ambulans was binne 7 minute daar. Teen die tyd dat my seun in die ambulans was en die polisie opgedaag het, het die persoon reeds spore gemaak.”

Etienne vertel sy seun, wat aan die Hoërskool Tuine gematrikuleer het, het ná skool eers begin werk om vir sy studie en “dalk ’n klein motortjie” te spaar. Lucienne wou graag in ’n IT-rigting studeer. Maar sy toekoms is vir eers duister.

Die beseerde Lucienne Horn (21) by sy motorfiets.

“Ek dink sy gewete moet hom ry elke keer dat hy op sy motorfiets klim. Ek dink dit was baie lafhartig,” sê Etienne oor die nog onbekende persoon wat glo die ongeluk veroorsaak het.

“Motorfietsouens staan mos saam? Dis onvergeeflik dat een motorfietsryer ’n ander stamp en net so te los. “Ek is nie ’n haatdraende mens nie, maar ek glo jy moet pa staan vir jou dade. Ek wil vir die persoon sê: ‘Wees ’n man en gee jou oor aan die polisie.’”

Hy vertel Lucienne het ’n groot ondersteuningstelsel en al sy familie en vriende het hom Vrydag kom ondersteun.

“Ons hou moed. Hy is nou in die Groot Dokter se hande . . .”

Enigiemand met inligting word gevra om Etienne te bel by 082-657-7693.