Robert Joseph Quick (33) van Iowa in Amerika het glo ineengestort nadat ’n “groot, aggressiewe” hond hom op Vrydag 31 Mei aangeval het, berig Fox News

Die hond, wat by hul huis aangehou is vir ’n familielid, het glo eers sy jong dogter aangeval. Die helfhaftige pa van vier het toe ingegryp.

Die plaaslike polisie is met hul aankoms gedwing om die hond te skiet, omdat dit nie vir Robert wou los nie.

“Die hond was baie aggressief en wou nie die man los nie,” het die polisiedepartement van Fort Madison in ’n verklaring gesê.

“Quick het sy dogter beskerm en sy optrede het beslis haar lewe gered.”

Daar is met Robert, ’n werktuigkundige, na die Fort Madison-gemeenskaphospitaal gejaag waar dokters hom later dood verklaar het. Daar word vermoed hy het ’n hartaanval gehad.

Die dogtertjie is in die gesig gebyt, maar het die aanval oorleef. Robert is in ’n aanlyn doodsberig as ’n “liefdevolle” pa en man beskryf.

“Hy het dit geniet om aan motors te werk en motors te versamel, gehou van kampeer, musiek, visvang en om tyd op die rivier deur te bring,” het die doodsberig gelui.

“Joe was veral baie lief vir sy kinders.”

Die familie het ’n GoFundMe-blad begin om te help betaal vir sy begrafnis, berig ABC.

Bronne: Fox News, Metro, ABC News