"Ek weet nie wat om te sê nie, ek weet nie hoe om te voel nie, ek weet nie wat om te doen nie . . . ons is stukkend. Ons neem dit maar dag vir dag, dankbaar vir die gebede wat ons dra, die duisende mense wat reeds hul ondersteuning vir ons laat blyk het. Was dit nie daarvoor nie, dink ek nie ons sou tot nou hierdeur kon kom nie.

"Intussen is daar nog soveel vrae," sê Morné, ’n jarelange onderwyser by Marilizé se skool, Langenhoven Gimnasium, en deesdae sakeman op die gewilde Karoodorp Oudtshoorn.

In dié stadium kan 'n mens dus nie eens daaraan dink om met die lewe aan te gaan nie, beduie hy in 'n emosionele gesprek met Huisgenoot, waarin die leed en leegheid telkens die oorhand kry.

By 'n onlangse troosdiens vanuit die NG Kerk Oudtshoorn-Welgeluk, waar van haar onderwysers en familielede vertel het hoeveel lewens Marilizé opgehelder het, het die ontsetting en hartseer nog oor haar pa en ma, Suné, se gesig geskryf gestaan. En dis nou ook duidelik die gebeure van vroegoggend 22 September op die Kangogrotte-pad net buite Oudtshoorn, het dié pa se hart gebreek.

"Sy was my enigste dogter, my enigste kind. Sy was baie spesiaal vir ons."

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Marelizé was in die passasiersitplek toe 'n wit BMW in die vroeë oggendure, luidens aanvanklike berigte vermoedelik tussen 03:00 en 04:00, sowat 10 km buite die dorp bekend vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die pad verlaat en in 'n watersloot beland het.

Nadat plaaswerkers die wrak langs die pad gewaar het, is die nooddienste en polisie omstreeks 07:40 in kennis gestel. Hulle het die motor met sy passasierkant in die water en Marilizé nog in die passasiersitplek vasgegord aangetref. Volgens die nadoodse ondersoek het sy veelvuldige beserings in die ongeluk opgedoen, maar is sy weens verdrinking dood.

Morné vertel ons van die vrae wat nou by hom, Suné en al Marilizé se ander geliefdes spook: "Eerstens, wat het hulle daardie tyd van die oggend op daardie pad gemaak? Daar's so baie vrae rondom die voorval."

'Ons het nie geweet ons sou mekaar nooit weer sien nie'

Morné was 25 jaar in die onderwys, maar is ook 'n gerekende lid van Suid-Afrika se radiobeheerde vliegtuig-gemeenskap. Hy's byvoorbeeld al as Oudtshoorn se senior sportman van die jaar bekroon nadat hy Suid-Afrika in dié sportsoort oorsee verteenwoordig het.

En die naweek van Marilizé se dood, "het ons nog weer hier op Oudtshoorn ons jaarlikse byeenkoms met modelvliegtuie gehad. Ek het vir Marilizé werk in 'n stalletjie gereël, sy't die hele Donderdag daar gewerk en ek haar ook nog die Vrydag gesien.

"Die Saterdagoggend het sy gesê sy gaan teen die middag se kant saam met 'n vriendin na 'n eetplek toe. Die vriendin het haar met haar motor kom oplaai. Ons het natuurlik nie geweet ons sou mekaar nooit weer sien nie," sê Morné, en sluk hard.

Sy het omtrent agtuur die Saterdagaand ’n WhatsApp-boodskap gestuur terwyl hy by 'n geleentheid vir die vliegtuie-byeenkoms was.

"Sy het gesê sy gaan by die vriendin oorslaap en dus eers haar klere daarvoor haal. Ek het gesê dis reg. Ons sou natuurlik nie by die huis wees nie, want ons was by die geleentheid. 

"En, ja, dit was ons laaste woorde aan mekaar. Ek het nie geweet wat haar planne vir die aand verder was nie." Hy troos hom daaraan dat hulle die Saterdag minstens op 'n goeie noot uitmekaar is, maar dis 'n skrale troos.

Morné met Marilize as kleuter. Foto: Verskaf
Morné met Marilizé as kleuter. Foto: Verskaf

Marilizé was van kleins af 'n ekstrovert, mymer Morné. "Sy het 'n gesprek oorgeneem as jy haar die kans gegee het, sy was 'n lewendige mens.

"Sy was so 'n vriendelike mens - sy kon net met haar smile . . ." 'n Snik skeur deur sy bors en dit duur 'n rukkie voor hy verder kan praat.

"Ek bedoel, as sy mense raakloop, het sy hulle altyd beter laat voel. Sy wou verpleegkunde studeer, dit was haar droom."

Die pyn laat weer sy keel toetrek, maar hy beur dapper voort. Soos een van haar onderwysers by die troosdiens ook genoem het, was sy 'n warm, sprankelende mens.

"En, soos enigste kinders maar, ook soms kwaad as sy nie haar sin gekry het nie, maar 'n mens hanteer dit mos maar."

Daarop ingestel om haar medemens te help

Met haar kop wat verpleegkunde toe gestaan het, "was biologie haar gunstelingvak". En sy het hokkie ná gr. 9 gelos om op noodhulp te konsentreer. En dan het sy natuurlik baie gehou van klere en mooimaak. Dit was 'n soort stokperdjie, sy het al haar vriendinne mooigemaak.

"So, ja, sy was daarop ingestel om haar medemens te help."

Marilize by een van haar pa se radiobheerde modelv
Marilizé by een van haar pa se radiobeheerde modelvliegtuie. Foto: Verskaf

Dit blyk Marilizé was op haar oorslaapaand ook saam met haar vriende by 'n kuierplek op die dorp. Op Truth4Marilize is onder meer gevra mense moet help as hulle enigiets weet van Marilizé se bewegings nadat sy blykbaar rondom 02:00 die kuierplek verlaat het.

"Al wat ek in dié stadium kan sê, is dat sy vir 18 jaar aan ons geleen is. Ek het die voorreg gehad om haar 18 jaar lank te ken. En sy het regtig 'n verskil in ons en ander mense se lewe gemaak. Dat sy so baie lewens positief aangeraak het, is vertroostend." En dan, terwyl die emosie weer sy stem laat wegraak, voeg hy by: "En ons weet sy's nou op 'n goeie plek, ek's doodseker daarvan. Sy kyk af op ons. 

"So, ja, ek maak vrede daarmee. Ek moet nou net hiermee leer saamleef in die wete dat ons mekaar weer eendag sal sien."

  • "Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag," sê kaptein Louis Visser, ’n woordvoerder van die SAPD op Oudtshoorn, by navraag. Die polisie is 07:42 die oggend "van die motor in die sloot langs die Kangogrotte-pad verwittig, maar dis nog onduidelik hoe laat die ongeluk plaasgevind het". Die ondersoek sal duidelikheid daaroor bring, sê hy.

"Ons kan nie die beweerde bestuurder se naam bekend maak nie aangesien hy nog nie aangekla is of in die hof verskyn het nie. Die polisie het reeds 'n verklaring by hom gekry. Hy is 22 jaar oud, en dit was sy eie voertuig.

"Die polisie versamel nog die feite en die hof moet dan besluit wat die oorsaak van die ongeluk was."

Die SAPD sal dus in dié stadium geen inligting wat hulle reeds oor die ongeluk en die omstandighede van Marilizé se dood bekom het, bekend maak nie "aangesien die ondersoek nog nie afgehandel is nie en los brokkies inligting nie die gebeure in konteks plaas nie".