Daar was al lank onmin tussen James Currie (37) en Julia DeJesus Saldana (36). Maar Julia moes ingevolge ’n hofbevel noodgedwonge vir James geskeduleerde toegang tot sy seun, Mason, gee.

James het Mason Saterdag net ná twaalfuur by haar woonstel in die Bronx, New York, opgelaai. Die ooreenkoms was dat James hom Maandag by die dagsorgsentrum sou terugbesorg.

Dit is die laaste keer dat Julia vir Mason lewend gesien het.

Kringtelevisie wys dat James en Mason saam die woonstel verlaat met alles oënskynlik in orde. Maar 24 uur later, om 13:30 die Sondag vertel beeldmateriaal van ’n ander kamera ’n ontstellende storie: James loop met ’n rugsak voor sy bors vasgemaak met ’n kombers daaroor – die vermoede bestaan Mason was toe reeds dood daarin toegedraai.

James het koers gekies na New York se East River. ’n Uur later is die polisie in kennis gestel van ’n baba wat in die water dryf. Mason het net sy doek aangehad.

Monte Campbell, ’n toeris van Oklahoma, het sonder huiwering in die water gespring in ’n vergeefse poging om Mason se lewe te red. Hy het mond-tot-mond-asemhaling toegepas, maar dit was te laat.

Die volgende dag is James op die lughawe in Bangkok, Thailand, deur die polisie vasgetrek en aan Amerika uitgelewer.

Dermot Shea, hoof van die New Yorkse polisiedepartement, sê Julia se noodoproep was “bloedstollend”. Sy het die nuus gehoor van ’n babalyk wat in die water gevind is en emosioneel in duie gestort aan die gedagte dat dit Mason kon wees.

James het Vrydag vir die eerste keer in die hof verskyn.


Bronne: nydailynews.com, patch.com, ibtimes.com