Grusame vonds

Die oorskot van sy vrou en kinders is onderskeidelik Donderdagoggend en -namiddag gevind nadat hulle Maandag volgens Shanann se man, Chris, spoorloos verdwyn het.

Shanann se lyk is op een van die persele van die maatskappy waarvoor haar man gewerk het naby Denver in die deelstaat Colorado gevind. Die dogters se lyke is later dieselfde dag naby dié van hul ma gevind.

John Camper, die direkteur van die Colorado-speurdiens, het op 'n mediakonferensie gesê ongeag hoe afgryslik die vonds was, moet nou na antwoorde gesoek word oor wat presies met Shanann en haar kinders gebeur het.

'n Woordvoerder van Anadarko, die petroleummaatskappy waar Chris werk, het gesê hy is Woensdag deur die maatskappy afgedank, maar wou nie verder daaroor uitbrei nie.

Chris het Woensdag erken hy het sy gesin uitgewis en sou na bewering die polisie neem na waar hul lyke is. Hy is nog nie aangekla nie, maar is steeds in aanhouding.

Nou, met die wete dat hulle dood is, is dié vrolike video wat Shanann in Junie vanjaar op Facebook gelaai het, absoluut hartverskeurend.

"My pappa is 'n held, hy help my om sterk te word, hy lees boeke vir my, maak my skoenveters vas. Jy 's 'n held deur en deur. My pappa, my pappa, ek is lief vir jou" sing Celeste vir haar pa, Chris.

Intussen stroom roerende huldeblyke in vir 'n vrou wat duidelik geliefd onder haar vriende, familie en kollegas was.

Oorspronklike berig: Donderdag, 16 Augustus 2018

’n Oënskynlik emosionele Chris Watts (33) het Dinsdag in ’n onderhoud met die plaaslike media in die VSA vertel van die laaste kontak wat hy met sy 15 weke swanger vrou gehad het voor sy en hul twee kinders spoorloos verdwyn het.

Shanann (34) en hul twee dogters het van hul huis in Frederick in die deelstaat Colorado verdwyn. Haar motor, handsak, sleutels en selfoon was egter nog by die huis. So ook die dogtertjies se medikasie en karsitplekke.

Woensdagaand het die skokkende nuus bekend geword: Twee onberispelike bronne na aan die soektog van die vermiste drietal sê Chris het erken hy het sy gesin uitgewis.

Chris is 'n paar uur later formeel aangekla van die moorde en dat hy met die misdaadtoneel gepeuter het.



Ondersoekspanne weet ook na bewering waar hul lyke begrawe is.

Jaclyn Allen van die plaaslike televisienuusdiens Denver 7 sê dit was juis Chris se emosionele onderhoud wat gevaarliggies laat flikker het.

Die nuuskanaal het ook ’n video gedeel waarin Shanann vertel van haar gesondheidsprobleme en hoe Chris haar bygestaan het, "selfs toe sy hom verwerp het". 

“Hy het my op my slegste dae geken en my so aanvaar. Dis nou agt jaar later en ons het twee kinders en bly in Colorado. Hy is die beste ding wat ooit met my gebeur het.”

Jaclyn sê Shanann het ses weke by haar familie in Noord-Carolina gekuier voor sy onlangs huis toe is.

Volgens Shanann se Facebook-plasing was sy baie opgewonde oor die vooruitsig om weer saam met haar dogters op 7 Augustus terug te vlieg huis toe.

Wat vroeër gebeur het

Shanann het Maandagoggend na Colorado teruggekeer ná ’n sakebesoek in Arizona. Volgens Chris het slegte weer tot ’n vlugvertraging gelei en sy het aansienlik later tuisgekom as aanvanklik beplan.

“Sy het ongeveer tweeuur die oggend van die lughawe af by die huis gekom. Ek het rondom 05:15 uit die huis gegaan om te gaan werk. Sy was toe nog hier,” het hy in ’n onderhoud met Denver 7 gesê.

Hy het beweer hy het op die babamonitor gesien hul dogtertjies, Bella en Celeste (onderskeidelik 3 en 5 jaar oud), slaap nog.

Ongeveer 12:10 het een van haar vriende, Nickole Utoft, by die huis aangekom. Chris vertel hoe hy ook verskeie teksboodskappe aan haar gestuur het, maar dat sy nie daarop reageer het nie. Sy het ook nie op boodskappe van haar vriende reageer nie.

“Dis in die haak met my as sy nie deur die loop van die dag op my boodskappe reageer nie, maar baie van die ander mense wat geen reaksie van haar gekry het nie, het bekommerd geraak.”

Ook Nickole het onraad begin vermoed, veral omdat ’n swanger Shanann daardie oggend ’n belangrike doktersafspraak misgeloop het.


Volgens Chris het Nickole hom gebel toe sy voor dooiemansdeur aankom. Hy het inderhaas na die gesin se huis teruggekeer.

“Daar was niemand in die huis nie. Sy was nie hier nie, die kinders was nie hier nie. Hier was niemand. Ek het gedink sy het nie op my oproepe reageer nie omdat sy bloot besig was. Maar toe besef ek iets is nie pluis nie."

Chris Watts 'pleit' vir sy vrou en kinders se veiligheid. Foto: YouTube-skermgreep (Denver7)


“Ek hoop sy en die kinders is nou iewers op ’n veilige plek. Maar as iemand hulle het op ’n plek waar hulle nie veilig is nie, wil ek hulle dadelik terughê.

“Ek het gisteraand al die ligte in die huis aangehou en bly hoop die kinders gaan enige oomblik by die deur inbars, maar dit het nie gebeur nie.

Ons het ’n emosionele gesprek gehad. Dit was nie ’n argument nie.

“My kinders is my lewe. Hul glimlaggies helder my lewe op. Ek mis hulle. Ek wil net hê almal moet terugkom huis toe.

“Ons het ’n emosionele gesprek gehad. Dit was nie ’n rusie nie. Maar ek gaan dit daar laat,” is sy reaksie op ’n vraag of hy en Shanann dalk baklei het voor sy verdwyn het.

Shanann Watts

Sy het van 2016 as ’n handelsmerkbemarker vir ’n gesondheidsmaatskappy gewerk.

Op 4 Augustus vanjaar het sy ’n foto van haar dogtertjie Celeste gedeel. Daarby het sy geskryf hoe bang sy word om haar die “regte wêreld” te laat invaar omdat die wêreld vol boosheid, haat en boelies is.

“Ek sal my bes doen om haar reg te leer en te beskerm, om op te staan vir haar en haar te verdedig. Ek bid elke dag dat sy nooit minder as ander in die wêreld sal voel nie. Ek bid dat sy beskerm sal wees wanneer ek nie naby is om haar te beskerm nie. Niks en niemand sal my keer nie.”

In Julie het sy ’n foto van haar en Belle gedeel waarby staan: “Sy streel haar baba, sê sy." Gerugte lui dat sy ’n seuntjie verwag het en dat hy Niko genoem sou word.

Shanann en Chris op hul troudag, 3 November 2012.

Shanann was voorheen getroud. Sy was toe Shanann King. Sy en Chris het mekaar in 2010 ontmoet en sy het hom haar sielsmaat genoem.

Frankie Rzucek, Shanann se verpletterde broer, is woedend.

Hy het Woensdag op Facebook gesmeek vir net 30 sekondes alleen met die “hartelose psigopaat”. "Mag Satan hom genadig wees. My bloed kook en die pyn en woede en hartseer wat ek in my hart het — absoluut niks sal my keer om sy lewe te neem soos hy myne en dié van my hele familie geneem het nie."

Chris, wat vir Anadarko, ’n petroleummaatskappy, gewerk het en Shanann het in 2015 aansoek gedoen om bankrot verklaar te word. Hulle het in daardie stadium skuld van ongeveer R6,4 miljoen gehad. Die saak is in Oktober dieselfde jaar gesluit.

Bronne: dailymail.co.uk, heavy.com, cbsnews.com, denver.cbs.local.com, fox8.com