“Ek sal bo-oor die son loop vir my dogter en ek sal aanhou loop vir haar.”

So sê Howdy Kabrins wie se dogter Gabriela Kabrins Alban op 29 Julie 2015 in die Camp’s Bay Retreat-hotel in Kampsbaai vermoor is. Haar kêrel, die Guatemalaan Diego Novella is gister (28 Junie) in die hooggeregshof in Kaapstad aan haar moord skuldig bevind.

Gabriela, of Gaby soos haar geliefdes haar genoem het, was ’n Amerikaanse bemarkingsdirekteur.

Howdy het die afgelope drie jaar permanent in die Moederstad gewoon om sy lieflingdogter se moordverhoor by te woon.

Hy moes in die hof sit en luister hoe Novella onder meer op haar gesig ontlas en lekkergoed en skyfies om haar liggaam gestrooi het. News24 berig dat hy ook kos by haar mond ingedwing het en dat van haar tande gebreek is.

Haar liggaam is in die badkamer van hul hotelkamer gekry. Novella het haar aangerand voor hy haar verwurg het.

Howdy sê hy voel verlig ná regter Vincent Saldanha se uitspraak.

“Die regter was baie duidelik daaroor in sy uitspraak dat Novella haar opsetlik vermoor het en presies geweet het wat hy doen,” het Howdy aan Huisgenoot gesê.

“Wat hy met haar aangevang het, was onmenslik; hy wou haar verneder.”

Novella se verweer was dat hy ’n konkoksie van natuurlike middels gedrink en Gaby vir ’n demoon aangesien het.

Gaby se ma, Doris Weitz, was ook in die hof toe die Novella skuldig bevind word. Sy het die aanklaer, adv. Mornay Julius, ná die uitspraak omhels, berig News24. 

“Ek kan nie regtig sê ek is gelukkig ná die bevinding nie, want gelukkig is nie die regte woord nie. Ek het wel vanoggend toe ek opstaan, anders gevoel,” sê Howdy.

“My gemoed is beslis ligter. Ek voel sterk en is gereed om aan my dogter se nalatenskap te werk.

“Hierdie saak het gemaak dat ek nou meer bewus is van die probleem van geweld teen vroue.”