Alan (32) en Holli Alway (32) is aangesê om herinnerings met klein Corey Alway te skep terwyl hulle kan, want dokters weet nie wat die toekoms vir die kleinding inhou nie.

Corey moet dag en nag versorg word vandag hy twee maande te vroeg gebore is, want sy toestand beteken hy kan epileptiese toevalle en breinbloeding kry.

Op sy ergste het Corey honderde toevalle per dag gekry – en een keer tot 307 van die traumatiese toevalle gehad, wat tot ’n vyf maande lange verblyf in die hospitaal gelei het.

Alan, die gebroke pa van Bude in Cornwall, sê sy seuntjie gaan dalk nie ouer as agt jaar word nie.

“Die epilepsie verander soos sy brein meer aktief word. Dit werk teen sy brein se meganismes. Soos hy ontwikkel en meer wil leer, wil sy brein dit nie toelaat nie. Die epilepsie word moeiliker om te beheer."

“Ons is aangesê, veral as gevolg van die epilepsie, om herinnerings te maak – en hy het al twee onverklaarde gevalle van breinbloeding gehad. Sedert ons dit gehoor het, probeer ons om elke dag voluit te leef. Ons bou wonderlike herinnerings en lag baie meer as wat ons huil."

“Corey sien uit na Kersfees. Hy’s baie opgewonde –  hy word opgewonde oor alles.”

Die chromosoom-abnormaliteit 16p13.3 duplikasiesindroom en die seldsame Kabuki-sindroom is met geboorte by Corey gediagnoseer en dit kan ’n aantal abnormaliteite veroorsaak.

Hy kon tot twee maande gelede nie behoorlik hoor nie, en was geneig om breuke en oogprobleme te ervaar en het op een jaar ophou groei weens epilepsie.

Alan sê Corey se gehoor was gelykstaande aan 15 tot 25 cm onderwater wees voor hy ’n spesiale gehoortoestel in Oktober gekry het. 

“Hy is so ’n gesellige, liefdevolle kind. Hy wil net speel en dinge doen. Wanneer hy moet hospitaal toe gaan, maak ons ’n dag daarvan en geniet dit. Hy is al so gewoond daaraan. Ons gaan vir bloedtoetse en hy hou reeds sy arm reg. Hy weet wat om te doen as hulle na sy oë kyk. Hy is baie inskiklik omdat hy so gewoond is daaraan."

“Vandat hy sy gehoortoestel het, het hy begin praat. Hy het baie gevorder. Hy het begin om twee tot drie woorde saam te voeg.”

Die dapper kleinding se toevalle het in Augustus 2015 begin en teen Kersfees daardie jaar het daar nie ’n dag verbygaan sonder dat Corey honderde toevalle gekry het nie.

Die seldsame vorm van epilepsie waaraan Corey ly, veroorsaak vier soorte toevalle, wat insluit vallende siekte, afwesigheid, miokloniese toevalle (wat soos skokbewegings is) en tonies-kloniese aanvalle.