Hy was al vyf keer op die operasietafel en weeg net 4,4kg – die helfte minder as wat babas van sy ouderdom normaalweg weeg – maar dokters krap steeds kop oor wat presies dié babaseuntjie van die Paarl makeer.

Odin was skaars vyf weke oud toe hy vir ontwatering in ’n hospitaal in sy Bolandse tuisdorp opgeneem is oor hy nie melk kon inhou nie, vertel sy moedelose ma, Chanray.

Drie hospitale, talle pediaters, fisioterapeute en dieetkundiges later weet die dertigjarige steeds nie wat met haar seuntjie skort nie.

"Hulle sê net sy ligaam kan nie proteïen en vet verwerk nie," sê sy en voeg by dat hulle haar nie ’n klinkklare antwoord kan gee nie. 

Daar is al so baie op klein Odin geopereer dat die dokters die haartjies op sy kop moes afsny op soek na ’n aar waardeur hulle hom op ’n binneaarse drup kon sit.

Die kleinding was van Junie af in die hospitaal en dokters het elke dag bloedtoetse op hom gedoen, maar toe hy in Oktober ontslaan is het die dokters gesê sy bloedtoetse dui niks aan nie en hy moes net gewig optel.

Odin weeg op ses maande die helfte van wat 'n baba sy ouderdom moet.
Chanray en haar Odin in die hospitaal. Hy het twee virusse ook opgedoen.
Die kleine Odin is verskeie kere geopereer.

Chanray, ’n klerk by die verkeersdepartement, en haar man, Lydon (29), ’n verkoopsadministateur, se mediese fonds het meestal Odin se reuse-hospitaalrekening gedek, maar hulle weet nie hoe hulle die R100 000 wat hulle bykomend moet betaal, gaan vereffen nie.

Dit is 'n groot taak om Odin elke drie uur klokslag met ’n buis wat in sy maag geplant is, te voed. Benewens dié uitdagings is sy ma net bly dat haar klein wonderwerkie Kerstyd tuis saam met haar, Lydon en hul twee ander kinders, Chyler (8) en Scarlett (2), sal deurbring. 

Chanray en Lydon het gejubel van opwinding toe hul jongste spruit vanjaar op 30 Mei gebore is. "Ek het met my swangerskap nie gevoel of daar iets is waaroor ek my hoef te bekommer nie," onthou Chanray. Hy was ’n "gesonde baba" wat 3, 44 kg geweeg het en het "niks makeer" nie.

Maar toe tref die noodlot...

Chanray en Lydon is bly Odin kan Kersfees by die huis wees.

Deesdae gaan dit wel beter met Odin, vertel sy. Hy braak minder, maar sy gewig is steeds baie laag.

Sy bly hoop dat haar kind eendag ’n gesonde lewe sal kan lei.

"Ek wens net iemand hoor sy storie en sê vir ons dat hulle kinders dit ook het en hoe hulle dit genees."