“Daar was ’n tyd dat ons gedink het Odin gaan nooit huis toe kom nie,” sê Lydon (30), ’n verkoopsadministrateur. 

Op ses maande was Odin al vyf keer op die operasietafel en het hy net 4,4 kg geweeg – die helfte minder as wat babas van sy ouderdom normaalweg weeg – maar dokters krap steeds kop oor wat presies dié babaseuntjie van die Paarl makeer. 

Odin kan nie melk inhou nie en is al in verskeie hospitale opgeneem, sien talle pediaters, fisioterapeute en dieetkundiges. Hy kry sedert geboorte voeding deur 'n buisie in sy maag. Dokters moes destyds selfs die hare op sy kop afsny op soek na ’n aar waardeur hulle hom op ’n binneaarse drup kon sit. 

Sy ouers is destyds ingelig hy kan nie proteïen en vet verwerk nie, maar daar is steeds nie ’n diagnose nie. 

Odin
Baba Odin met ouers, Lydon en Chanray.

Chanray, ’n klerk by die verkeersdepartement, sê hulle het ’n biduur gehou om dankie te sê vir “die jaar wat die Almagtige hom uitgespaar het”.

Die seuntjie se ouers is onlangs deur 'n plaaslike welsynsorganisasie, HeartNPO, gekontak, wat Odin graag wou help. Dié organisasie het gehelp dat die mediese sentrum van die Vrije Universiteit Amsterdam in Nederland onlangs genetiese toetse op Odin gedoen het om vas te stel presies wat fout is.

“Die probleem is nog nie gediagnoseer nie. Die genetiese toetse sal vir ons kan sê wat ons seun makeer en wat die pad vorentoe sal wees vir Odin,” sê Lydon. Die uitslag van die toetse is nog nie bekend nie – dit vat 'n paar weke.  

Terug in Suid-Afrika het die paartjie steeds ’n hoë hospitaalrekening weens die spesiale voeding wat hy kry en ook vir sy talle hospitaalbesoeke. “Ons finansiële reis die afgelope jaar was nie maklik nie. Maar ons het baie suksesvolle fondsinsamelingsgeleenthede gehou. Maar ons kredietkaarte is uitgeput.

“Ons kry ook baie bystand van vriende en familie, asook die gemeenskap. Hy is ’n klein celeb in die Paarl,” lag Lydon. 

Odin groei maar stadig en weeg nou 6,5 kg, sê Chanray. “Maar hy vorder baie mooi. Hy eet nog nie; hy kry steeds voeding direk in sy maag.

odin
Chanray en haar oulike eenjarige, Odin.

“Op sy jong ouderdom kry hy al spraakterapie om sy mond te stimuleer om vir hom te sê dit is veilig om te eet. Hy kry ook fisioterapie om hom sterker te maak. 

“Die klong het twee tandjies ook nou,” sê Lydon.

Sy ouers waardeer elke oomblik met die kleinding. “Jy moet waardeer wat jy het, want jy weet nie hoe swaar iemand anders het nie. Odin is ons anker en hou ons as gesin op ons tone. Sy liefde maak ons heel. Hy het vir ons baie geduld kom geleer,” sê hy.