Dié foto’s het tot ’n gulsige paartjie se ondergang gelei, anders sou hulle waarskynlik steeds met hul grusame gebruik voortgegaan het.

Niks kon die konstruksiewerkers voorberei op die foto's wat hulle sou sien nie. Hulle het dit onmiddellik by die polisie aangemeld.

Op die foto’s het Dmitri Baksjejef (35), wat woonstelle opknap, met ’n afgekapte hand in sy mond, en verskeie skote van vroue sonder ledemate en afgekapte koppe poseer. Daar is na bewering ook ’n foto van ’n mens se kop op ’n bord, versier met lemoene, op die selfoon gevind.

Maar hy het op 10 September vanjaar aan die polisie in Krasnodar in die suide van Rusland vertel hy het toevallig op ’n verminkte liggaam afgekom en besluit om foto’s daarvan te neem.

Op 12 September vind die polisie toe die verminkte lyk van ’n vrou op die militêre lugmagterrein. Sy was ’n inwoner van Krasnodar en al wat oor haar bekend gemaak is, is haar ouderdom: 35.

Geleidelik het die verband tussen die verminkte vrou en Dmitry en sy vrou, Natalya (42), duideliker geword.

Die ongelukkige slagoffer het na bewering saam met die paartjie gekuier en almal het baie gedrink. ’n Bakleiery het ontstaan en dit het volgens die ondersoekkomitee tot haar dood gelei.

Baksjejef het weldra erken dat hy en Natalja reeds by minstens 30 geleenthede oor ’n tydperk van 20 jaar mensvleis op die spyskaart gehad het. 

Sowat agt liggaamsdele, waarvan sommige in houers of blikke in een of ander soutwateroplossing bewaar is, ’n videohandleiding oor kannibalisme en ’n “resepteboek” om mense te kook, is in hul huis gevind.

Die berg van liggaamsdele, wat menslike vel en vleis insluit, in die oplossing was in alle waarskynlikheid om dit by ’n later geleentheid te eet.

Baksjejef word intussen van een klag van moord (op die vrou) aangekla. Van haar liggaamsdele is in die morsige woonstel gevind, terwyl ander liggaamsdele van minstens sewe mense ook in hul kelder gevind is.  

Hulle het na bewering ’n Russiese dwelmmiddel Corvalol aan hul slagoffers gegee om hulle aan die slaap te maak.  

Intussen het die eerste beeldmateriaal opgeduik wat tydens die polisie se ondersoek by hul huis geneem is.

Geskokte inwoners van Krasnodar vertel die paartjie het, buiten hul slordige voorkoms en liefde vir drank, geensins vreemd opgetree nie.

Natalja het glo vreeslik baie gedrink en sy word as uiters slordig beskryf. Sy was glo ’n verpleegster, maar was later werkloos.

“Sy het net aanhou drink,” het ’n plaaslike sakevrou aan RT gesê.

Bronne: themoscowtimes.com, rt.com, dailystar.co.uk, sputniknews.com