Chelsea en Jordan Harper, albei 24, het, ná die verpletterende nuus besluit om hul troue met meer as ’n jaar te verhaas. En danksy groothartige skenkings kon die paartjie op 31 Maart afhaak, slegs twee dae ná die tragiese diagnose.

Dit het beteken Kim Sherwood (48), Chelsea se ma, kon haar dogter se troue bywoon in die pynverligtingseenheid van die Douglas Memorial-hospitaal in die stad Niagara Falls, Ontario, waar sy behandeling ontvang het.

“Dit het vir my oneindig baie beteken dat my ma my troue kon bywoon,” was Chelsea se woorde.

“Die dag was in ’n oogwink verby. Ek dink alles het absoluut foutloos afgeloop, veral aangesien ons dit alles binne 48 uur kon reël.”

Kim is op 20 Maart – ’n week ná haar dogter se troue – in haar slaap oorlede.

“Ek weet nie of ek ooit na my troudag sou kon uitsien as ek die beplande 18 maande gewag het om ’n groot troue te hê nie.

“Jou ma is veronderstel om by te wees en jou te help aantrek, en dit kon sy doen.”

Die dekor, die koek en die blomme is alles in ’n rekordtyd gereël, en die fotograaf Wendy Teal het die pleidooi op Facebook beantwoord.

“Die hulp wat ons gekry het, was oorweldigend – dit was wonderlik. Van al die verpleegsters wat bymekaargekom het om dit te laat geskied, tot by die blomme, kos en versierings wat geskenk is.

“Ek weet nie of ek ooit elke persoon genoeg sal kan bedank vir wat hulle vir my familie gedoen het nie.”

Volgens Wendy, die fotograaf, was dit haar geleentheid om dit wat sy verskuldig was, te betaal, aangesien sy dieselfde paadjie geloop het as hierdie paartjie.

“My ouers was albei in hierdie selfde hospitaal se pynverligtingseenheid. Die personeel daar het selfs gehelp om my ma se begrafnis in dieselfde vertrek te reël sodat my pa dit kon bywoon.

“Hy is ’n paar uur later oorlede. Hier was my kans om my skuld te betaal. Dit was vir my ’n eer om in hul dag te deel.