Volgens New York Post het die welgestelde paartjie die Franse oppasser uitgehonger, gemartel en daarna in ’n bad verdrink. Hulle het daarna haar lyk in die tuin van hul huis in Londen verbrand. 

Hulle het blykbaar hoender gebraai om die reuk van haar verkoolde lyk te probeer verdoesel. 

Volgens The Sun het Sabrina, ’n ma van twee en modeontwerper, ’n vreemde obsessie met haar ekskêrel, Mark Walton, ’n voormalige lid van die sanggroep Boyzone, gehad. 

Sy het meer as 30 keer klagtes by die polisie oor hom gaan lê, hom op Facebook beskuldig van pedofilie en nog talle ander bisarre aantuigings. 

Sy het op ’n kol glo oortuig geraak dat Mark en Sophie besig is om teen haar saam te sweer en van plan is om haar nuwe kêrel van verkragting te beskuldig. 

Volgens die polisie het die paartjie Sophie vir die laaste 12 dae van haar lewe gyselaar gehou. Toe brandbestryders in September op die oorskot van haar lyk afkom, het hulle gedink dit is die van ’n kind omdat sy so erg uitgehonger was. 

Die hof het bevind daar is geen waarheid in enige van die aantuigings nie en dat Sophie nog nooit vir Mark ontmoet het nie, berig The Guardian

Mark Walton, wat deesdae in Los Angeles bly en werk as ’n suksesvolle musiekvervaardiger, het die gebeure aan die Daily Mail beskryf as iets uit ’n nagmerrie. 

“Die arme meisie (au pair) praat die waarheid – sy het my nog nooit ontmoet nie. En nou moes sy met haar lewe betaal danksy daardie twee psigopate.”  

Die paartjie, wat mekaar beskuldig van die moord, sal na verwagting teen einde Junie gevonnis word.  

Bronne: New York Post, The Sun, The Guardian, Daily Mail.