’n Britse paar wat mekaar op agtjarige ouderdom die eerste keer ontmoet het, het afgehaak nadat hulle twee dekades uitmekaar was.

Joanne (31) en Adam Eden (31) van Plymouth het in 1996 die eerste keer kennisgemaak toe hulle op laerskool ’n lessenaar deel.

Joanne, ’n kliëntediensadviseur, sê sy was altyd verlief op Adam, maar hulle het kontak verloor toe hulle verskillende hoërskole bygewoon het. Hulle is toe eers weer as volwassenes herenig.

Joanne en Adam Eden op laerskool
Die paartjie het die eerste keer in 1996 op laerskool ontmoet. Foto: Magazine Features

“Hy was my gunstelingmens om mee uit te hang op skool omdat hy my altyd laat lag en met my werk gehelp het,” het sy gesê. “Adam was die langste in die klas en ek die kleinste.”

Nadat hulle weer by ’n reünie ontmoet het, het hulle gekliek, en hulle is sedertdien onafskeidbaar. Joanne onthou die oomblik toe sy Adam ná soveel jaar by die reünie sien. Hy het sy meisie saamgebring en dit het Joanne ontstel.

Joanne en Adam Eden
Foto: Magazine Features

“Toe sien ek twee maande later hy is weer ’n enkelloper en ek het die moed bymekaargeskraap en my nommer vir hom gestuur,” sê sy.

“Dit was die beste besluit wat ek nog ooit gemaak het, want hy is my sielsgenoot wat my aangespoor het om dinge te bereik wat ek nooit gedink het ek sou nie soos my graad in sielkunde.”

Joanne en Adam Eden
Nadat hulle weer by ’n laerskoolreünie ontmoet het, het hulle gekliek en hulle is sedertdien onafskeidbaar. Foto: Magazine Features

Die verliefde tweetjies, wat ná ’n jaar en ’n half saam ingetrek het, is nou ses jaar saam en het drie honde.

“Alles is so maklik met Adam. Ons het nooit enige drama nie, en wanneer ek geïrriteerd raak, laat hy my lag en ek vergeet waaroor ek kwaad was.”

Joanne en Adam Eden op hul troudag
Hulle het ná twee dekades getrou. Foto: Magazine Features

Joanne sê toe Adam se ma, Val (57), ontdek hulle is ’n paartjie, het sy ou laerskoolkiekies van Joanna uitgekrap.

“Adam kon nie glo hy het foto’s van sy vrou as kind nie – dis bewyse dat ons bestem is om saam te wees.”