Sarah Obanya (46), van Londen, het met haar lewensmaat, Chuks (53), getrou vyf dae nadat dokters verlede maand vir haar gesê het sy het terminale ovariële kanker, al het sy voorheen gehoor sy is kankervry.

Ovariële kanker is in April verlede jaar die eerste keer by die ma van twee gediagnoseer nadat sy met rugpyn gesukkel het. Sy het aanvanklik gedink die pyn is net 'n simptoom van menopouse. Nadat dokters verlede jaar bepaal het sy het kanker het sy in Oktober ’n histerektomie ondergaan. Daarna het dokters verklaar die kanker is in remissie.

Maar in Januarie was die twee verpletter toe dokters hulle meedeel die kanker is terug en het deur Sarah se liggaam – ook na haar longe en ingewande – versprei.

Toe Sarah ná die dokter se tyding sê sy is spyt daaroor dat sy en Chuks nooit getrou het nie, het hul vriende geskarrel om vir hulle ’n onvergeetlike troue by die Guy’s-hospitaal in Londen te reël.

troue
Lizzie Cooper, ’n vriendin uit Sarah se kinderjare, het die plegtigheid vir die paartjie gereël. Foto: Asiawire/Magazinefeatures.co.za

Lizzie Cooper (44), ’n vriendin uit Sarah se kinderjare, het die plegtigheid vir die paartjie gereël. Sy het ook ’n boek, Unfiltered, oor hul vriendskap geskryf en aan Sarah opgedra.

“Sy het vir my gesê toe sy gehoor het die kanker is terminaal, het ’n portier verbygestap en heel onbeleefd vir haar gevra wat haar grootste berou is. Sy het gesê dat sy nie getrou het nie,” vertel Lizzie.

“Dit was die begin van alles. Ek het op Facebook geskryf en mense was baie gaaf. Hulle het vinnig gehelp en was baie vrygewig.

"Hulle het rokke en koeke geskenk en aangebied om haar grimering te doen.”

“Die wetlike aspekte was die moeilike deel. Heelwat mense wou die diens behartig, maar ons moes iemand kry met die regte lisensie.

"Ons het dit toe op die ou end in die hospitaal gedoen.”

Chuks het sy troudag met Sarah as die naasbeste dag van sy lewe beskryf; die beste was die dag toe hy haar in ’n kroeg ontmoet het.

“Die hospitaal was fantasties deur die hele ding. Daar was niks wat hulle nie vir ons sou doen nie. Sarah was dol daaroor.”

troue
Die paartjie het in die hospitaal getrou. Foto: Asiawire/Magazinefeatures.co.za

“Dit was so ’n emosionele dag. Dit was pragtig, absoluut volmaak,” voeg Lizzie by.

Sarah is op 6 Februarie tuis oorlede en Lizzie het nou ’n geldinsamelingsblad begin om die gesin met haar begrafnisuitgawes te help.

“Sy was wonderlik, ’n dame en opreg. Sy was pragtig en die goedheid vanself,” sê Chuks van sy oorlede vrou.